Vermeende vragmotorkapers vas

Die vragmotorkaping het kort tevore in Cleveland plaasgevind. (Foto ter illustrasie: pixabay)

Tien verdagtes is aangekeer nadat die polisie vandeesweek toegeslaan het op ʼn huis waar ʼn vragmotor se gesteelde vrag gehou is.

Kapt. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder, sê die polisie het Donderdag inligting opgevolg oor ʼn gekaapte vragmotor wat by die huis in Tjovitjo in Orange Farm in Gauteng gehou word.

“ʼn Intelligensiegedrewe operasie is van stapel gestuur en die erf is takties binnegegaan. Agt verdagtes was besig om die gesteelde eiendom op ʼn Iveco [-voertuig] te laai en is in hegtenis geneem,” sê Makhubela.

Die vragmotorkaping het kort tevore in Cleveland plaasgevind en lede van verskeie polisie-eenhede het op die huis toegeslaan waarheen die vragmotor geneem is. Nog twee voertuie, gelaai met gesteelde items, is ook op die erf aangetref, terwyl talle gesteelde goedere in die slaapkamers gevind is.

Die eienaar van die huis is ook in hegtenis geneem waar sy saam met nog ʼn man in ʼn kas geskuil het.

Die verdagtes word aangekla van vragmotorkaping en die besit van gesteelde eiendom. Die polisie se ondersoek sal ook probeer bepaal of hulle met ander misdade, veral kapingsverwante oortredings, verbind kan word.

Hulle verskyn Maandag in die hof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris dupreez ·

Hou hulle in die tronk tot hulle gevonnis word, en dan nog langer.

Di ·

Mooi – moet ASB nie weer hulle op borgtog uitlaat nie – kriminele het mos meer regte op borgtog as gewone landsburgers, dis hoekom die land in sy peetjie in is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.