Vermiste agtjarige se liggaam gevind

Bokamoso Shabe (8) het haar skooldrag – ten tyde van haar verdwyning aangehad. (Foto: SAPD)

Die soektog na ʼn vermiste agtjarige kind van die Lejweleputswa-omgewing in die Vrystaat het Donderdag hartseer geëindig toe Bokamoso Shabe se liggaam gevind is.

Maroela Media het vroeër berig dat klein Bokamoso Maandag omstreeks 13:30 vir die laaste keer by Mantshebo Primary School in Jerusalem Park, Thabong, gesien is. Die polisie se voorlopige inligting het daarop gedui dat Bokamoso deur ʼn onbekende vrou by die skool ontvoer is.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, sê daar is sedertdien onophoudelik na Bokamoso gesoek.

Haar liggaam is Donderdag omstreeks 14:30 ontdek.

Volgens Makhele het die polisie ʼn verdagte se huis in Riebeeckstad, Welkom, besoek.

“Die liggaam is toegedraai in ʼn duvetoortreksel in ʼn oop veld aangetref. Sy het nog haar skooldrag aangehad.”

ʼn Saak van moord word nou ondersoek.

Makhele sê ʼn 46-jarige man is in hegtenis geneem en hy verskyn na verwagting binnekort in die Welkom-landdroshof. Nog inhegtenisnemings is volgens die polisie op hande.

“Ons betuig ons medelye met Bokamoso se familie,” sê lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiehoof in die Vrystaat.

“Dit is hartverskeurend vir enige ouer om ʼn kind te verloor, maar dit is selfs meer verpletterend as dit op hierdie manier is,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Prontuit ·

Ai hoe bitter hartseer, die duiwel is los in SA beslis! wat gaan aan met die mensdom? hoe kyk jy ‘n kind in die oe en vermoor hom of haar dis verby siek – RIV kleinding – wens doodstraf kom terug dalk dink mense twee keer voor hulle sommer net ‘n lewe neem, ons kan maar net op ons kniee bly en hoop en bid vir uitkoms!

Misky ·

Wat gaan in iemand se kop aan as hy so iets doen? Absoluut skokkend!!!! Rus in vrede kleine meisie

ES ·

Sjoe dis vreeslik tragies – hoe moet so jong kind haarself teen ‘n volwasse man beskerm? Die wereld is ‘n siek, siek plek.

Pieter ·

Het hulle die leidrade opgevolg om die persone op te spoor wat die losprys geeis het?

annie ·

Kan ouers nie die boodskap op die hart gedruk word, om dogters te waarsku om nie alleen rond te loop of met vreemdelinge te gesels, wat nog saamloop, wat stories verkoop nie. Na die ramp is dit te laat. Selfs vroeèr van dae met min misdaad is dogters teen skamele kleding en vreemde plekke en mense gewaarsku. Die kafee-op-die-hoek word dikwels die begraafplaas neffens die hoek. Skole moet reéls hè waar ouers die kantoor inlig wanneer iemand anders ‘n kind sal kom oplaai en ‘n oog hou.

Kokerboom ·

Ek dink die LIEWE VADER huil soms as HY die wreedheid van SY skepsels aanskou!!!

Elize ·

Wat het die arme kind gedoen om dit te verdien? Gemors, vuilgoed. Hulle moet uitgeroei word

Pieter ·

Die siek anc land is om van op te gooi. En hoed hou hom besig met twak.

Celeste ·

Sjoe dit is baie tragies. Hoe moet so kleintjie terug baklei teen grootmense. Dis net so verkeerd dat sulke goed gebeur. Kon hulle nie maar net die kind laat gaan het nie, Dis natuurlik weer iemand wat sy ken want hoekom haar doodmaak,

Hendrik Marthinus ·

Ai man
So Klein en onskuldig.
Rus sag meisie, Hoop die skuldige, Sal Sy dag kry, hoekom word die 72 uur plan van Saps Dan nie nou toegepas nie.

Anoniem ·

Dit is absoluut hartverskeurend. Hoeveel sielsiekes woon in ons samelewing waarvan niemand bewus is nie.

Ronel ·

Ek wil ‘n groot vloekwoord sê!!!!! Dit is bitter hartseer. Baie sterkte aan haar ouers. RIV mooi meisie

Andre ·

Ek is nie skaam om te sê dat ek die land verag want wat se respek is daar oor wanneer hierdie tipe dinge die norm geword het. Klein meissie mag jy nou in vrede en veiligheid rus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.