Vermiste kind (4) in bosse gevind

Argieffoto

’n Vierjarige dogtertjie van die Oos-Kaap is vandeesweek in die bosse naby Aberdeen gevind nadat sy enkele dae vantevore vermis geraak het. Die kind se biologiese ouers word van kindermishandeling, kinderverwaarlosing en kinderverlating aangekla.

Ao. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, sê die kleuter is Dinsdagmiddag as vermis by die polisiestasie in Aberdeen aangemeld.

Die polisie in Gqeberha and Cradock se honde-eenheid en soek‑en‑reddingseenheid se hulp is ingeroep en ’n soektog is van stapel gestuur. Verskeie gemeenskapslede het Woensdag ingespring en ook na die kind help soek.

’n Groep inwoners het die kind kort daarna in die bosse op ’n berg langs die N9 gevind.

Die polisie ondersoek die omstandighede van die kleuter se verdwyning.

Die kind se biologiese ouers, onderskeidelik 37 en 39 jaar oud, is Donderdag in hegtenis geneem en intussen op waarskuwing vrygelaat.

Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel.

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiekommissaris, loof die betrokke gemeenskapslede vir hul “onvermoeide en onbaatsugtige” pogings om na die kind te help soek.

“Die omkeertyd tydens ’n soek-en‑reddingsoperasie is baie belangrik, en hul bystand het die verskil tussen lewe en dood gemaak,” sê Mene.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.