‘Vermiste’ Klerksdorp-prokureur toe slagoffer van N1-grubotsing

Jan de Kock (Foto: SAPS)

’n Bekende prokureur van Klerksdorp wat aanvanklik as vermis aangemeld is, is intussen geïdentifiseer as een van die twee persone wat Woensdag tydens ’n gru-ongeluk op die N1 naby die Allandale-afrit in Midrand omgekom het.

ʼn Vragmotor en twee motors was die middag in die botsing betrokke. ’n Brand het ná die ongeluk uitgebreek wat al drie voertuie verwoes het. Die bestuurders van die twee motors het ernstige brandwonde opgedoen en is op die toneel dood verklaar.

Jan de Kock (72) is deur die polisie as een van die bestuurders geïdentifiseer.

De Kock is Woensdag die laaste keer by sy regsfirma, De Kocks Inc., wat in die middestad van Klerksdorp geleë is, gesien.

Sy kollega en jarelange vriend, wat graag anoniem wil bly, sê De Kock was die oggend nog by die kantoor en sou blykbaar die middag Pretoria toe gegaan het om met ’n kliënt te ontmoet.

“Ons het geweet hy werk iewers die middag,” vertel sy kollega.

Volgens die kollega het De Kock se vrou hom die volgende dag gebel en daarvan verwittig dat haar man nie die aand huis toe gekom het nie.

“Sy het aanvanklik gedink hy werk dalk laat, soos hy telkemale gedoen het, maar sy het begin bekommerd raak toe hy glad nie huis toe gekom het nie en haar niks laat weet het nie.”

Die kollega sê hy het die beeldmateriaal op die veiligheidskameras by die firma nagegaan en gesien De Kock was glad nie die aand op kantoor nie.

“Dit was nie sy styl om net niks te laat weet nie. As hy gewoonlik iewers heen gery het, sou hy ten minste teen die einde van die dag laat weet het waar hy is.”

De Kock se foon was ook nie bereikbaar nie. Hy is toe die Donderdag as vermis by die polisie aangemeld.

“Ons het van ’n kant af begin soek.”

Ná die ongeluk by Allandale, het die familie met die polisie daar in kontak gekom.

“Die polisie het gesukkel om die twee oorledenes uit te ken. Ons het begin om die vermiste inligting van Jan aan hulle deur te gee. Dit is toe dat hulle twee en twee bymekaar begin sit. Van die inligting van die voertuig het toe ooreengekom met dié van De Kock s’n.”

Volgens die kollega was hy en De Kock 34 jaar lank vriende. Hulle praktiseer nou al sowat 20 jaar saam.

“Hy was my mentor, iemand na wie ek opgekyk het. Hy het goeie mensekennis gehad en het mense met respek hanteer. Sy vyande was in die minderheid.

“Hy was een van die beste onderhandelaars en het altyd deeglike navorsing gedoen voordat hy ’n saak sou aanpak. In my oë was hy die beste prokureur op die dorp. Groot intellektuele kennis wat met net een streep weg is.”

De Kock was ook jare lank betrokke in die gemeenskap. Hy was die voorsitter van die Klerksdorp-rugbyklub en was as jong man self ’n kranige rugbyspeler. Rugby was een van sy groot passies in die lewe.

“Dit is die tipe mens wat hy was – hy het alles met passie aangepak.”

Klerksdorp Rugby het op Facebook hul medelye aan De Kock se familie en vriende betoon.

“Ons as klub het ’n baie spesiale persoon verloor. Oom Jan de Kock was ’n legende, mentor en vir elkeen van ons ’n baie spesiale persoon. Hy het altyd raad gehad, tyd vir ’n grappie en groot visie vir die toekoms. As jy wou iets weet, was hy die persoon om mee te gesels. Ons sal oom se staaltjies baie mis,” lui die Facebook-inskrywing.

De Kock word oorleef deur sy vrou en drie volwasse seuns en stiefdogter.

Maroela Media het ’n navraag aan die polisie gerig, maar wag nog op terugvoer.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ietsanders ·

Ai, dis so tragies….om te wag vir ‘n oproep of jou man se tuiskoms, maar niks gebeur nie. Sterkte aan daardie vrou en kinders.

Cecilia ·

Aan Jan se familie, werks kollegas vriende sterkte Jan was n legend mens met n ongelooflike goeie hart wat sy medemens en almal naby aan hom met soveel respek hanteer het. Hy gaan so gemis word vir jare wat kom hyt diep spore getrap waar hy gaan in almal se harte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.