Vermiste loterymiljoene ry Limpopo-fietsryers se drome in wiele  

fietsry, ontwikkeling, Nasionale Loterykommissie, plunder, bedrog, geld, GroundUp

Kombo Bere (links) en Daan Terblanche ahoop om geld bymekaar te maak om aan die Cape Epic-fietswedren deel te neem. (Foto: GroundUp)

Deur Anton van Zyl, GroundUp

Op Louis Trichardt in Limpopo oefen twee jong fietsryers met die oog daarop om geskiedenis te maak as die eerste span om van die landelike Vhembe-streek skouers te skuur met die wêreld se beste bergfietsryers.

Hul grootste uitdaging is egter om ʼn borgskap te vind om die uitgawes te delg om aan die jaarlikse Cape Epic-wedren deel te neem in die Wes-Kaap.

Dit sou ook nie nodig gewees het vir hulle om bakhand te staan nie as dit nie was dat die geld, wat vir fietsryontwikkeling in Limpopo bewillig is, geplunder is nie.

In Januarie vanjaar het Kombo Bere (26) en Daan Terblanche (23), twee jong fietsryers van Louis Trichardt, gehoor die wedrenorganiseerders het hulle kwytgeskeld van die R145 000 se inskrywingsfooi.

Albei neem deel onder die vaandel van Soutpansberg-Jeugfietsryontwikkeling, ʼn program wat daarop gemik is om jong fietsryers uit landelike gebiede by te staan.

Die kwytskelding maak hul uitgawes beduidend minder, maar hulle moet steeds geld insamel, onder meer vir hul reiskoste.

In Limpopo is daar geen finansiering beskikbaar vir nuwe, moderne fietse vir jong ryers nie, om nie eens te praat van enige opleidingstoerusting of om fietsryers te borg om aan geleenthede soos die Cape Epic deel te neem nie.

Tog is geld bewillig vir fietsryers soos Bere en Terblanche. Die Nasionale Loterykommissie (NLK) het in 2017 altesaam R9,5 miljoen vir fietsryontwikkeling in Limpopo bewillig, maar dié geld is gebuit.

Droom gesteel

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) tesame met die Nasionale Vervolgingsgesag het bekommerde parlementslede op 14 Februarie ingelig oor vordering in die ondersoek na grootskaalse bedrog en korrupsie by die NLK.

Een van die vele ondersoeke het gefokus op die fondse wat aan Limpopo Recreational Providers (LRP), ʼn organisasie sonder winsbejag, betaal is.

Dié organisasie het fondse gevra vir die reël van ʼn “jaarlikse fietsrykompetisie” asook om jong fietsryers te werf en “goeie morele waardes onder die jeug te bevorder” en “hulpbronne aan behoeftiges te verskaf” en “jong fietsryers te bemagtig”.

Verskeie LRP-lede kom uit die Vhembe-streek. Volgens die SOE sluit dit in ene mnr. Maphisa (direkteur), Tshililo Mukwevho (voorsitter), Tsiko Herbert Ndou (tesourier), Christopher Tshivule (sekretaris), en twee addisionele lede, Samuel Shumani Mudau en Basani Michelle Mashele.

Dit is onduidelik of almal “deel was van die transaksie”. Nietemin is een van die lede, Tshivule, ʼn veroordeelde misdadiger.

Hy is in Julie 2022 tot agt jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan bedrog wat verband gehou het met ʼn R1,57 miljoen loterytoelaag.

Die gespesialiseerde handelsmisdaadhof wat in Palm Ridge sit, het bevind Tshivule het The Message, ʼn nie-winsgewende organisasie, gekaap om onregmatige loterybefondsing te bekom.

Tshivule het aanvanklik saam met sy niggie, Mukondeleli Tshivule, asook Thomas Ndadza en Fulufhelo Promise Kharivhe tereg gestaan op aanklagte van bedrog. Die aanklagte teen sy medebeskuldigdes is later teruggetrek nadat hulle vertoë aan die nasionale vervolgingsgesag suksesvol was.

Tshivule en Ndadza is van die Madombidzha-omgewing, naby Louis Trichardt. Promise Kharivhe se huisadres is in Louis Trichardt.

Kharivhe se man, Collin Mukondeleli Tshisimba, is ʼn lid van drie ander organisasies sonder winsbejag: Make Me Movement, Lethabong Old Age en Mbidzo Development Program, wat ʼn gesamentlike totaal van R53 miljoen van lotery-befondsing ontvang het.

Volgens die SOE is Tshisimba as ʼn persoon van belang geïdentifiseer in die plundering van die loterygeld. Verskeie beslagleggingsbevele is reeds teen hom en sy vrou se eiendomme bekom.

Só word geld glo gewas

Die LRP het sy aansoek om befondsing op 30 Augustus 2017 ingedien. Op 13 September 2017 is R9,5 miljoen in die organisasie se FNB-rekening betaal.

Volgens die SOE is dié geld in minder as drie weke oorbetaal in drie ander maatskappye se rekeninge.

Al die maatskappye het bande met Collin Tshisimba en sy vrou, Promise Kharivhe.

Ndavha Management, met Tshisimba as enigste direkteur, het R5,7 miljoen ontvang, terwyl nagenoeg R1,8 miljoen in die rekening van Wa Rothe Construction betaal is. Kharivhe is hier die enigste direkteur.

Nog een van Kharivhe se maatskappye, Thawala Front, het R2 miljoen ontvang.

Die SOE se voorlegging in die parlement het verder gewys hoe Thwala Front R780 000 betaal het om ʼn stuk grond naby Brakspruit, noord van Louis Trichardt te koop. ʼn Beslagleggingsbevel is intussen vir dié eiendom bekom.

Ndavha Management het klaarblyklik van die miljoene herlei na NLK-amptenare wat die ooreenkoms in die eerste plek moontlik gemaak het.

Volgens die SOE is R1,8 miljoen oorbetaal aan ʼn Land Rover-handelaar waar ʼn voertuig gekoop is tot “voordeel van Rebotile Malomane, die lewensmaat van Letwaba”.

Sy is inderwaarheid getroud met Phillemon Letwaba, die NLK se destydse finansiële hoof.

“Die voertuig is ook geregistreer as ʼn bate van die Rasemate-familietrust, met Letwaba en sy broer Johannes Kgomotso Letwaba wat die enigste trustees is,” het die SOE die parlement meegedeel.

Beslagleggingsbevele is intussen op verskeie voertuie, eiendom asook Letwaba se pensioenfonds bekom.

Hy het verlede jaar bedank, kort voor ʼn tweede tugverhoor teen hom gehou kon word.

Niks oor vir fietsryontwikkeling

Dit wil voorkom of nie ʼn enkele duit van die R9,5 miljoen ooit aangewend is om fietsry in Limpopo te bevorder nie.

Volgens Hein de Jager, eertydse bestuurslid van Limpopo-fietsry, was die grootste fietsrygeleentheid in 2017 die Polokwane Mayoral-wedren, wat die Polokwane-munisipaliteit geborg het.

Daar is toe ook beplan om ʼn fietsrybaan naby die Peter Mokaba-stadion in Polokwane te bou, tesame met ʼn BMX-baan en ʼn paviljoen, maar hiervan het dadels gekom.

Geen aanduidings kon gevind word dat enige van dié projekte deur NLK-skenkings gefinasier is nie.

Johan van Dijkhorst, wat in 2017 die hoof van Limpopo-fietsry se skoleafdeling was, het ook bevestig hy was nie bewus van enige projekte wat die NLK gefinansier het nie.

Stanley Thompson, wat die Soutpansberg-jeugfietsryontwikkeling bestuur, was ook nie bewus van enige loterygeld wat aan landelike fietsryers toegeken is nie.

Al drie was egter van mening dat finansiering ʼn groot verskil kon maak.

“Met R9,5 miljoen kan jy heelwat skeepsvraghouers koop wat strategies in die distrik aangewend kan word om fietse in te stoor. Jy kan gehalte fietse koop en jy kan lede van gemeenskappe oplei om hierdie fietse te diens en in stand te hou. Jy kan opleiding- en afrigtingsprogramme implementeer waar meer ervare ryers kinders behoorlike fietsrytegnieke kan leer,” het Van Dijkhorst gesê.

“Daar is ʼn oorvloed talent in die landelike gebiede.”

Thompson het op sy beurt gesê met R9,5 miljoen kon ʼn wêreldklasfasiliteit opgerig word tesame met ʼn ontwikkelingsprogram wat minstens ʼn dekade lank ʼn daadwerklike verskil kon maak.

Intussen moet Bere en Terblanche nog geld insamel, nie net om in die Wes-Kaap uit te kom nie, maar ook om genoeg oefening in te kry om ʼn podiumplek te verseker.

Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Di ·

Genade, die aantal korrupte mense in die land is skokkend! Almal van hulle het goed geleer by ons korrupte Kaders wat die land beheer

hpven ·

Biljoene Rand het onder die ANC en hul BEE beleid verdwyn! Hoeveel van die diewe is in die tronk?
20,000 Mense word per jaar in Suid Afrika vermoor. Hoeveel moordenaars is in die tronke? Slegs die moordsyfer per jaar vir 29 jaar in ag geneem, moet ongeveer 580,000 moordenaars in die tronke wees. Is daar soveel in die tronke? Indien nie waar is al die kriminele dan? Gevolgtrekking, derduisende loop steeds tussen ons!

Delia ·

Nee wat, los maar die storie van leer by korrupte kaders. Jy maak jou eie keuses.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.