Vermiste sersant se liggaam gevind

Sers. Juliet Motshwene (45) is dood gevind. (Foto: SAPD)

Die liggaam van ʼn Limpopo-polisiesersant wat op 30 Januarie verdwyn het, is Sondag buite Kgapamadi in Polokwane gevind.

Die polisie het nie gesê presies waar die 45-jarige sers. Juliet Motshwene gevind is nie, maar wel dat haar liggaam in ʼn “laat stadium van ontbinding was”.

Motshwene was by die Rakgwadi-polisiestasie in die Sekhukhune-distrik werksaam. Sy is vir die laaste keer op 30 Januarie lewend gesien nadat sy haar huis in Kgapamadi in die Hlogotlou-polisiëringsgebied verlaat het.

Alle nodige hulpbronne is onmiddellik deur die polisie ingespan om haar op te spoor.

“Soektogte het ongelukkig ʼn verpletterende uiteinde gehad nadat die lewelose liggaam van sers. Motshwene Sondagmiddag buite haar tuisdorp gevind is. Die oorledene se liggaam was in ʼn gevorderde stadium van ontbinding,” het kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder in Limpopo, gesê.

Die ondersoek na haar dood is tans onderweg en geen moontlike oorsaak is bekend gemaak nie.

Genl.maj. Jan Scheepers, waarnemende polisiekommissaris in Limpopo, het Motshwene se dood intussen betreur.

“Die Suid-Afrikaanse polisie in Limpopo betreur saam met die familie en lede van die publiek die dood van ons gerespekteerde kollega. Ons innige meegevoel en ondersteuning gaan aan haar familie en geliefdes gedurende hierdie moeilike tyd,” het Scheepers gesê.

“Ons vra dat die familie ruimte en tyd gegun word om hul verlies te verwerk.”

Die polisie versoek dat mense met inligting oor die voorval na vore sal kom om die polisie in hul ondersoek te steun.

Meer inligting sal mettertyd bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

Moord en doodslag elke dag! Dink SA is die land met die meeste kriminele dade in die wereld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.