Vermiste visserman naby Kampsbaai gered

(Argieffoto: NSRI)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het onder meer stroomvoorspellingsagteware ingespan in ʼn grootskaalse soektog na ʼn visserman van Houtbaai wat die naweek ter see vermis geraak het.

Brad Geyser, koördineerder van die NRSI se gesamentlike bevelsentrum, het gesê die visserman is as vermis aangemeld nadat hy nie Saterdag na die Houtbaai-hawe teruggekeer het nie.

Volgens Geyser is daar vasgestel die visserman was waarskynlik tussen drie en vyf seemyl van die strand in die omgewing van Llandudno. Weens verandering in die windrigting kon die man hom egter op verskeie plekke bevind.

Die NSRI sê hy het alle bepalings ingevolge die staat van algehele afsondering gevolg en met ʼn grootskaalse soektog begin. ʼn Lugmaghelikopter, ʼn lugambulans, die polisie en Wes-Kaapse nooddienste is onder meer op ʼn gereedheidsgrondslag geplaas.

Stroomvoorspellingstegnologie is ook ingespan om ʼn meer presiese ligging van die hardekielboot te probeer bepaal. Daar is aanvanklik gedink ʼn ander skip is moontlik die vermiste een, maar volgens Geyser was dié skip by nadere inspeksie te groot om die vermiste boot te wees.

Geyser het gesê die vermiste boot is vyf seemyl vanaf Kampsbaai, in die omgewing wat die sagteware aangedui het, opgemerk.

“Die NSRI-Tafelbergbemanning het tot by die visserman gevaar en hom ontwater en koud aangetref. Hy was geweldig verlig om die reddingspan te sien.”

Die boot, waarvan die brandstof opgeraak het, is na die Houtbaai-hawe gesleep, het Geyser gesê.

Volgens hom was die visserman se gesin uiters dankbaar om hom te sien nadat hy veilig aan land gebring is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boortor ·

Mense ai tog! Die man vang dalk vis om te oorleef. Bestaans visserman? Voorsien dalk n hele paar mense met kos. Laat ons almal maar n bietjie son toe! Asb.!

Gill ·

As niemand kan visvang vir n lewe nie sou vis skaars word. Dankie here hy is gevind en veilig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.