Vermiste vrou in puttoilet begrawe

Argieffoto ter illustrasie (puttoilet in Lesotho) (Foto: SuSanA Secretariat via Wikimedia Commons)

Die liggaam van ʼn 51-jarige vrou wat die afgelope week vermis geraak het, is in ʼn puttoilet gevind. Haar kêrel is intussen in verband met haar moord deur die polisie ondervra.

Die polisie in Vosman in Mpumalanga het die gru-ontdekking Vrydag gedoen, nadat Jemima Duba Woensdag as vermis aangemeld is. Haar familie was bekommerd omdat hulle haar nie in die hande kon kry nie.

“Die polisie het begin met ʼn ondersoek deur met mense wat die vermiste persoon geken het, onderhoude te voer. So is hulle na die huis van die vrou se kêrel in Clewer naby Emalahleni, wat vir hulle gesê het hy het die vrou laas op 25 Augustus gesien,” het Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder van Mpumalanga, Vrydag gesê.

Die man is daar weg en die polisie het die huis vergeefs deursoek. “Hulle het egter iets vreemds buite die huis opgemerk en sien toe die puttoilet in die man se erf is met sand opgevul.”

Die polisie het die erf afgebaken en as misdaadtoneel hanteer. Lede van die polisie se soek-en-reddingseenheid kon Vrydag daarin slaag om die vrou se liggaam vanuit die puttoilet te herwin.

“ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat die vrou ʼn wond aan haar bolyf en verskeie kneusplekke aan haar lyf gehad het. Die polisie ondersoek nou ʼn saak van moord en twee mans, onder wie haar kêrel, is reeds vir ondervraging ingeneem,” sê Mohlala.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.