‘Vermoor wit rassiste’ – Malema

Julius Malema in die Wes-Kaap. (Foto: EFF/Twitter)

Julius Malema het die afgelope naweek nóg omstrede uitlatings by ʼn EFF-saamtrek in die Wes-Kaap gemaak, waartydens hy lede van die party onder meer aangesê het om “nie bang te wees om dood te maak” as dit kom by interaksies met “rassistiese wit mense” nie.

“Rassisme is geweld en geweld kan net eindig met geweld. As jy ʼn rassis is, is jy dus ʼn gewelddadige mens, daarom sal ons met geweld reageer,” het die EFF-leier gesê.

Malema het ook in sy toespraak lede aangesê om “grondlose mense in die Wes-Kaap” te nader om grondgrype in gegoede gebiede soos Kampsbaai te bespoedig.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Malema gevolglik by die Mensregtekommissie (MRK) gaan verkla vir aanhitsing van geweld en haatspraak.

Beeldmateriaal van die party se verkiesingskonferensie wys hoe Malema ʼn juigende skare in Kaapstad begroet en aanspoor om rassisme in die Wes-Kaap te konfronteer.

Hy het in sy toespraak na ʼn voorval verwys waarin EFF-lede in 2020 by Hoërskool Brackenfell opgeruk het, nadat bewerings die ronde gedoen het dat ʼn private matriekafskeidgeleentheid gehou is waarheen geen swart leerder oënskynlik genooi is nie.

Die MRK het egter vanjaar bevind dat daar nie teen enige leerder van die skool gediskrimineer is op grond van hul velkleur nie.

“Julle het na ʼn skool in die Wes-Kaap gegaan om te betoog en julle is deur wit mense geslaan,” het hy aan die lede gesê.

“Wat het julle gedoen om [die saak] op te volg nadat julle deur ʼn wit man, wat op kamera vasgevang is, geslaan is? Hoekom het julle nie as ʼn revolusionêre organisasie dit met daardie ou opgevolg nie; hom alleen na ʼn geïsoleerde ruimte geneem en behoorlik na die ou omgesien nie?

“Jy moet nooit bang wees om dood te maak nie. ʼn Revolusie vereis dat daar op ʼn stadium moord gepleeg moet word, omdat moord deel is van ʼn revolusionêre daad.”

Malema het voortgegaan om te sê dat oudpres. Nelson Mandela destyds ʼn vuurwapen moes opneem “omdat die revolusie tot ʼn punt gekom het waar daar geen alternatief was as om dood te maak nie”.

“Enige rassis wat die EFF se lede en leierskap dreig of aanrand is ʼn aansoek om jou skepper onmiddellik te ontmoet,” het hy gesê.

EFF-lede het tydens Malema se toespraak deurgaans hande geklap en gejuig.

Malema se jongste uitlatings kom skaars twee maande nadat die gelykheidshof in Johannesburg bevind het dat die lied “Kill the Boer” nie op haatspraak neerkom nie. Die hof het ook bevind dat die sing van die lied nie plaasmoorde op wit mense aanhits nie.

Gryp grond nou

(Foto: EFF/Twitter)

Malema het ook in sy toespraak aan die onderwerp van onteiening sonder vergoeding, veral in die Wes-Kaap, aandag gegee.

Hy beweer dat die meeste “grondlose mense” in die Wes-Kaap aangetref word en dat hulle soos “sardientjies” moet lewe terwyl wit mense langs die strand of Tafelberg bly.

“Grondbesetting beteken ons moet prima grond beset, nie vrot grond nie. Is grond al ooit in Kampsbaai geïdentifiseer? Het ons al ooit probeer om grond in Kampsbaai te beset en ons mense in die mooiste gebied in die Wes-Kaap te vestig? Of neem ons ons mense na riskante, vrot lande en wanneer dit reën word ons mense weggespoel. Sonder om dit te besef, doen julle wat apartheid gesê het ons moet doen en dit is om weg te bly. Weg te bly van die dorp, van die wit mense af.”

MRK genader

AfriForum het in ʼn skrywe aan die MRK omtrent Malema se jongste uitlatings geëis dat sy opmerkings ondersoek word en dat die kommissie standpunt inneem en teen die gewelddadige retoriek optree.

“Die politieke omgewing in Suid-Afrika hou aan radikaliseer. Elke keer as ʼn politikus wegkom met ekstremistiese of gewelddadige retoriek, lei dit tot die eskalasie van sulke retoriek,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Dit is jammer dat die politieke elite tans dikwels ʼn vrypas gegee word deur diegene wat die gesag het om in te gryp. Dit is hoekom dit so belangrik is vir AfriForum om in te tree en te verseker dat daar gevolge vir die aanhitsing van geweld deur politici is.”

AfriForum het ʼn beroep op sy lede gedoen om druk op die MRK toe te pas om Malema dringend vir hierdie uitlatings te ondersoek deur ʼn standaardklag teen die EFF-leier in te dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.