Vernielsugtige diplomate kos SA miljoene

(Argieffoto: Chris Delmas/AFP)

Suid-Afrika is die afgelope vyf jaar byna R10 miljoen kwyt omdat hy die deposito’s verbeur het van eiendom wat oorsee vir diplomatieke doeleindes gehuur word.

Darren Bergman, die DA se woordvoerder oor internasionale betrekkinge en samewerking, sê min. Naledi Pandor het in antwoord op ʼn parlementêre vraag aangedui die R9,3 miljoen wat verlore is, was weens skade aan eiendom, deposito’s wat verbeur is omdat die eienaars dit vir herstel- en instandhoudingswerk moes gebruik, of omdat huurooreenkomste buite die bepalings en voorwaardes van die huurooreenkoms opgeskort is.

Bergman sê vrywaringsooreenkomste moet met alle diplomate aangegaan word sodat hulle direk vir die skade aanspreeklik gehou kan word. Indien sulke ooreenkomste reeds bestaan, moet vrae oor die afdwing daarvan gevra word.

“Die DA kan nie anders as om te wonder hoeveel entstof of persoonlike beskermingstoerusting gekoop kon word, of toelae uitbetaal kon word as die geld nie deur roekelose en nalatige diplomate in die water gegooi is nie. Hulle optrede stel Suid-Afrika in ʼn slegte lig en is strydig met hul plig om te help bou aan Suid-Afrika se handelsmerk,” het Bergman gesê.

Bergman sê die stand van sake is ʼn verleentheid en kan duidelik gesien word in die voortslepende saga om ʼn blyplek vir Thandile Sunduza, Suid-Afrika se konsul-generaal in Los Angeles, te kry.

Sunday Times het vroeër berig Sunduza het glo meer as 30 eiendomme wat die departement as blyplek voorgestel het, verwerp. Sunduza was glo vasbeslote dat net ʼn eiendom in Beverly Hills se superswierige Rodeo Drive vir haar gaan deug.

Sy het glo ook aangedring daarop dat meubels spesiaal vir haar ingevoer word en dat kombuiskaste onder meer verander moet word.

“Terwyl Suid-Afrikaanse diplomate duidelik ʼn geskiedenis het dat hulle aaklige huurders is, is dit enige wonder dat ons sukkel om ʼn huis vir Sunduza te huur?” het Bergman gesê.

Hy sê diplomate moet self opdok vir enige skade wat hulle aanrig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.