Verpleegsters geskors wat pasiënt verwaarloos

Thelle Mogoerane-hospitaal (Foto: Thelle Mogoerane Regional Hospital/Facebook

Drie verpleegsters van die Thelle Mogoerane-streekhospitaal in Vosloorus, Gauteng, is Donderdag voorlopig geskors hangende ondersoek na hul versuim om behoorlik na ʼn minderjarige kind in hul sorg om te sien.

Dit volg ná ingryping deur die provinsiale LUR vir gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, en senior bestuurders van die departement wat Woensdagaand besoek afgelê het ná ʼn klag deur die ma oor die toestand van haar kind.

Motalatale Modiba, woordvoerder van die provinsiale departement van gesondheid, sê die ma was baie ontsteld ná sy ʼn rits klagtes by die verpleegsters ingedien het oor die sorg wat haar kind ontvang. “Sy het uiteindelik ʼn video geneem wat wys waar die kind op ʼn bed vuil linne sit. Die video is daarna op sosiale media gedeel.”

Die hospitaalspan (dokter wat die kind behandel, hoof van die departement pediatrie, gehaltebestuurder, gebiedsbestuurder, verpleegdiensbestuurder en die waarnemende uitvoerende hoof) het Donderdag met die ma vergader.

“Sy het haar tevredenheid uitgespreek met die ingrypings wat gedoen word.”

Die pasiënt is na ʼn ander saal geskuif waar hy voldoende behandeling ontvang.

“Die Gautengse departement van gesondheid vra om verskoning vir die familie van die minderjarige vir die gebrek aan dienslewering. Dit is heeltemal teenstrydig met die ampseed wat gesondheidsorgpersoneel aflê en is teenstrydig met Batho Pele-beginsels.”

Die voorval gebeur te midde van ʼn nuwe provinsiale veldtog genaamd “I Serve with a Smile” wat ten doel het om personeel se houding te teiken en die moreel van gesondheidsorgwerkers te verhoog. Die veldtog wil elke gesondheidsorgwerker aanmoedig om hul werk te benader met ʼn glimlag, met entoesiasme, empatie en ʼn vriendelike geaardheid, terwyl hulle onthou dat die kern van die bedryf diens en sorg aan pasiënte is.

“Die korrektiewe stappe teen die Thelle Mogoerane-werkers is deel van die pogings deur die departement om gedrag te ontmoedig wat teenstrydig is met staatsdiens-etos en die gesondheidsbedryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Vraag? Is daar nog wit verpleegsters in SA, of het hulle almal New Zealand, Australia, VK, VSA en Kanada toe gevlug?

Mieke ·

Ja, daar is nog wit verpleegsters , maar almal in privaat hospitale. Ek is een van hulle, wat al 35+ jaar in privaat hospitale gewerk het, ek is baie lief vir my werk, en ja, was al spyt ek het verpleging gekies agv die sorg wat so agteruit gaan, MAAR, my sorg het nooit verslap nie. Ek het al (privaat) hodpitale verlaat omdat die standaard te laag was, maar het nog altyd gepoog om standaarde hoog te hou…

Pietertjie ·

Oor ‘n maand of twee, nadat alles oorgewaai het, is almal terug by die werk sonder enige negatiewe gevolge.

Anel ·

Hoop hulle is geskors sonder voordele! Hoop ook hulle gasn kyk by alle staatshospitale. Dankie aan die personeel vir wie verpeging nog ‘n roeping is.
Selfs in privaat hospitale kry mens swak verdorging. My pa is oorlede agv ‘n verpleegster wat hom laat verstik het, maar ons kan dit nie bewys nie. Maar ons weet wat ons weet. Sterkte aan almal wat sorg benodig maar dit nie kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.