Verskeie Durban-strande weer oop; rioolkrisis nie verby

eThekwini sukkel steeds om die krisis met die hantering van riool te hanteer. (Foto: DA)

Die KwaZulu-Natalse departement van omgewingsake het ʼn ultimatum aan amptenare van die eThekwini-metro gerig om die voortslepende rioolkrisis in die gebied sonder versuim te pak of self hul tasse te pak.

Die DA sê Heinz de Boer sê ʼn veelparty-oorsigbesoek aan die Ohlanga- en Northern-afvalwaterbehandelingsaanleg het die blatante verwaarlosing deur die ANC-geleide raad blootgelê.

De Boer sê ondersoeke wys ook dat die eThekwini-metro die water-en-sanitasie-eenheid die afgelope paar jaar beduidend onderbefonds en dit magteloos gelaat het om die rioolnetwerk op te gradeer of selfs net in stand te hou.

Die eenheid ontvang ʼn toewysing van minder as R500 miljoen per jaar van die munisipaliteit.

“Die aanhoudende onderbesteding het die stad lamgelê. Dit, tesame met ʼn reeds wankelrige ekonomie, en ʼn droewige Desembervakansieseisoen staar eThekwini in die gesig,” sê De Boer.

Meer as 30 miljoen liter onbehandelde rou riool word na die Umgenirivier herlei omdat die waterbehandelingsaanleg weens skade ná die oorstromings vroeër vanjaar in die provinsie buite werking bly. Dieselfde geld die Ohlanga-aanleg, waar nog 30 miljoen liter elke dag tot by die Umhlanga-opvanggebied stroom.

Altesame R160 miljoen is nodig om die Northern-aanleg te herstel. De Boer sê dit trek ʼn streep deur Xolisi Kaunda, burgemeester, se stelling dat strande teen Desember weer gereed vir besoekers gaan wees.

“Wat kommer wek, is dat daar steeds geen aanduiding is van waar eThekwini die R650 miljoen gaan vind wat nodig is om basiese water-en-sanitasie-bedrywighede weer op dreef te kry nie.”

Volgens die provinsie raak probleme by 56 rioolpompstasies swemstrande regstreeks en die Mahatma Ghandi-pompstasie – verantwoordelik vir sommige van die ergste besoedeling in die hawe – word steeds met net twee pompe pleks van die gewone vyf bedryf.

Die DA het die streng standpunt wat die portefeuljekomitee oor omgewingsake oor die kwessie ingeneem het verwelkom. Die komitee het ook ʼn resolusie aanvaar dat ondernemings wat steeds rioolwater in die stelsel stort, opgespoor en vervolg moet word.

De Boer sê volgens bronne was dit hierdie nywerheidsoorloopwater wat verantwoordelik was vir die reusevisvrektes in die Umgeni-rivier, terwyl verdere bewyse van chemiese afval die afgelope week op Pinetown opgemerk is.

Talle strande heropen

Ten spyte van die uitdagings met die rioolstelsel het die eThekwini-munisipaliteit gesê nog strande is heropen danksy verbeterde watergehaltestandaarde.

“Die besluit om die strande te heropen is geneem nadat onlangse watertoetse deur kundiges bevestig het dat die water by die strande op ʼn aanvaarbare vlak vir ontspanningsbedrywighede is.”

Strande wat nou weer oopgestel is, sluit in Punt, uShaka, Addington, Suid, Noord, Bay of Plenty, Battery, Country Club, Brighton, Reunion, Pipeline, Toti en Warmer.

Verskeie strande bly steeds gesluit. Dit sluit in Westbrook, Bronze, Laguna, Thekwini, uMhlanga, uMdloti en uMgababa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lillian ·

Dit sal nie tot ‘n einde kom tot al die rioolwerke herstel is na behore nie.

Cherokee ·

“Wat kommer wek, is dat daar steeds geen aanduiding is van waar eThekwini die R650 miljoen gaan vind…………”
Dit mag wel so wees, maar wees darem erkentlik ook. Die bestuurder en ander amptenare ry ten minste mooi karre! (en die salarisse is ook nie te versmaai nie) so moet nie maak asof hulle nie weet wat om met die geld aan te vang nie.

Jax ·

Haai interessant dat Hulle nou die strande weer kan oopmaak, bietjie meer as 30 dae voor die Somervakansie aanbreek. Hoe op aarde kry Hulle dit nou eweskielik so vinnig reg?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.