Verslag werp lig op skade aan parlement na brande

Skade aan die parlementsgebou. (Foto: Verskaf)

Die strukturele skade aan die parlementsgeboue na ’n brand in Januarie vanjaar, hou nie ’n risiko in vir die geboue om heeltemal ineen te stort nie.

Daar is egter erge strukturele skade aan die sentrale struktuur van verdiepings twee tot ses van die Nasionale Vergadering se gebou aangerig. Dit is volgens ’n voorlopige verslag wat deur die Coega-ontwikkelingskorporasie opgestel is oor die omvang van die strukturele skade wat tydens die brand aangerig is.

Coega, wat op 11 Februarie aangestel is om ’n onafhanklike assessering van die brandskade te doen, se verslag is Vrydag aan LP’s in die gesamentlike staande komitee oor die finansiële bestuur van die parlement voorgelê.

Daar was op 2 en 3 Januarie vanjaar verwoestende brande by die parlementêre kompleks in Kaapstad waartydens groot skade aangerig is.

Dringende werk is nodig om dele van die Ou Raadsaal veilig te maak. Dit behels werk aan die buitemure en ’n tydelike dak om te verhoed dat reën skade aan onderste verdiepings veroorsaak.

Coega het om veiligheidsredes drie sones binne die Nasionale Vergadering-gebou aangewys waarvolgens daar bepaal is of die SAPD toegang tot die betrokke gebiede kan kry vir hul ondersoek.

(Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die groen sones is veilig en toegang kan maklik daartoe verkry word, terwyl toegang tot die oranje sones onder noukeurige leiding van strukturele ingenieurs moet geskied. Rooi sones is gebiede wat erg beskadig is en is geen-toegang-sones totdat tydelike toegangstrukture verskaf word.

Coega se strukturele ingenieurs het aanbeveel dat sekere veiligheidsmaatreëls ingestel word om personeel en sekere oorblywende gedeeltes van die struktuur te beskerm. Daar is aanbeveel dat hierdie maatreëls ingestel word na afloop van die SAPD se ondersoek.

Die kelder van die Nasionale Vergadering-gebou was onder water en daar is later ooreengekom dat die water in die munisipale rioolstelsels ingepomp sal word. ’n Permit hiervoor is op 19 Maart uitgereik en daar is op 29 Maart hiermee begin. Wanneer dit voltooi is, sal die Coega-span weer ’n assessering van die betrokke gebiede doen.

Coega se finale verslag sal ’n gedetailleerde assessering verskaf oor die omvang van die skade sodat vasgestel kan word hoeveel dit gaan kos en hoe lank dit gaan vat om die gebou volledig te herstel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.