‘Vertel ons meer’; ActionSA soek antwoorde oor ANC se Ezulweni-skikking

Michael Beaumont (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

ActionSA wil meer inligting hê oor die skikking wat die ANC en die maatskappy Ezulweni Investments bereik het oor die R102 miljoen wat die regerende party die maatskappy nog skuld vir verkiesingsbaniere wat hy in 2019 laat maak het.

Nog géén inligting rakende die aard van die skikking is bekend gemaak sedert daar in Desember aangekondig is dat ’n skikking buite die hof bereik is nie.

ActionSA het egter ’n sterk vermoede dat die ANC moontlik die bepalings van die Wet op Befondsing van Verkiesingspartye oortree het om die skuld te delg. Die party het nou die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) genader om die skikking ingevolge artikel 14 van die Wet op Partyfinansiering te ondersoek.

Pres. Cyril Ramaphosa blyk nie te bekommerd te wees nie en het die agterdogtiges Woensdag aangeraai om die kantoor van die ANC se tesourier-generaal te nader om duidelikheid oor die saak te kry.

“Dit is redelik eenvoudig. Dit is ʼn vereffening van skuld. Dus, diegene wat daarna wil kyk, kan dit doen – as hulle wil,” het die president Woensdag gesê.

Mahlengi Bhengu-Motsiri, woordvoerder van die ANC, hou egter vol niemand is geregtig op die besonderhede van die skikkingsooreenkoms nie. “Daar is absoluut niks onreëlmatigs daaraan nie; geen party is geregtig op daardie inligting nie,” het Bhengu-Motsiri gesê.

Action SA verskil van Bhengu-Motsiri en het gevolglik – soos Ramaphosa aangeraai het – ’n skrywe aan dr. Gwen Ramokgopa gerig om die nodige reëlings te tref vir die verskaffing van inligting rakende die skikking.

Die opposisieparty sê die transaksie om die Ezulweni-skuld van R102 miljoen te delg is waarskynlik onregmatig en moontlik onwettig aangesien mediaberigte daarop dui dat die ANC minder as R60 000 in sy bankrekeninge gehad het toe die skikkingsooreenkoms met Ezulweni aangegaan is.

“Vir die skuld van R102 miljoen om ingevolge die Partyfinansieringswet vereffen te word, kon Ezulweni Investments nie wettig afslag op ʼn skikking groter as R15 miljoen aanvaar het nie, aangesien só ʼn korting deur die party as ʼn skenking in natura [onder die omstandighede] deur die Wet op Befondsing gedefinieer sou word,” sê Michael Beaumont, ActionSA se nasionale voorsitter.

Beaumont wys verder daarop dat dit nie minder nie as sewe skenkers sou vereis het om hierdie skuld te delg om te verhoed dat enige skenker die voorgeskrewe jaarlikse limiet van R15 miljoen oorskry.

Beaumont sê behalwe die Partyfinansieringswet, is daar ook wesenlike kommer oor Ezulweni Investments, of enige van die skenkers betrokke by die vereffening van die skuld, op enige vlak sake met die staat doen.

“Dit is noodsaaklik om te verseker dat ons nie in die toekoms sien dat tenders aan hierdie maatskappye en/of skenkers op so ʼn wyse toegeken word dat Suid-Afrikaners hulself as die finansiers van die skikking vind nie,” sê Beaumont.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Andre ·

Die Anc moes n skikking bereik , anders kan hulle nie aan die verkiesing deelneem nie.

domheks ·

cANCer is goed met lieg stories, seker uit die banke gaan haal om te betaal!

Bolandse Nooi ·

Heh-heh-heh-hehhhhhhh!!!!!!!!!!!!!!!! Alle politieke partye is deesdae opsoek na goedkop “brownie points”. Dink julle vir een oomblik dat “whatever” dokumente by Tata Luthuli se pondok in Joburg gehou word, sal die ware feite weerspieël?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.