Verval op dié Noord-Kaapse dorpe ruk handuit

Op De Aar en Hanover is die rioolwerke al langer as twee jaar buite werking en die riool vloei vrylik in die veld in. (Foto: Werner Strauss/AfriForum)

Die burgerregtegroep AfriForum oorweeg stappe teen die Emthanjeni-munisipaliteit in die Noord-Kaap ná talle klagtes oor die plaaslike owerheid se beweerde vrotsige dienslewering die afgelope ruk ontvang is.

AfriForum sê slaggate, rou rioolvuil en onooglike vullisterreine is net sommige van die probleme waarmee inwoners van De Aar, Hanover en Britstown te kampe het.

Die organisasie stel nou amptelik ondersoek in na die verval op die dorpe. Al drie dorpe val onder hierdie munisipaliteit en AfriForum het in Februarie die probleemgebiede op die drie dorpe besoek. Hy beraadslaag ook met sy regspan om moontlike verdere stappe teen die munisipaliteit te oorweeg.

Die probleme op dié dorpe is omvangryk, sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.

Op De Aar en Hanover is die rioolwerke al langer as twee jaar buite werking en die riool vloei vrylik in die veld in. Die De Aar-wateraar lê boonop baie vlak onder die grond en dus word dié ondergrondse waterbron direk besoedel. Van die munisipaliteit se 79 boorgate werk ook slegs 15,” sê Strauss.

Slaggate, rou rioolvuil en onooglike vullisterreine is net sommige van die probleme waarmee inwoners van De Aar, Hanover en Britstown te kampe het. (Foto: Werner Strauss/AfriForum)

“Voorts is die werkende boorgatpompe – wat die water direk by die reservoirs inpomp en dan na die gemeenskappe versprei – onvoldoende en belemmer dit watervoorsiening aan die De Aar-gemeenskap. Intussen is die terrein van die rioolwerke die teiken van vandale omdat daar nie meer werkers op die perseel is om dit in stand te hou nie.”

Strauss sê dit lyk boonop of riool wat onvoldoende behandel is wel in die Brakrivier vloei.

(Foto: Werner Strauss/AfriForum)

AfriForum het op 21 Februarie watermonsters geneem van die riool wat in hierdie rivier vloei en volgens die toetsresultate is hoë vlakke van E. coli en koliforme bakterieë in die water teenwoordig. Benewens die kommerwekkende waterbesoedeling is die swak instandhouding van paaie en vullisterreine op De Aar, Hanover en Britstown ook ’n euwel vir die gemeenskap.

“Die Emthanjeni- plaaslike munisipaliteit kom nie sy plig teenoor hierdie gemeenskappe na nie. Dienslewering hier is swak en uiteindelik is dit die inwoners wat onder die munisipaliteit se traak-my-nie-agtige houding ly,” sê Strauss.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Harry ·

Ek verstaan dit nie. Hoekom hou die mense aan om hul munisipale rekeninge te betaal. Mens betaal mos vir dit wat jy kry. GEEN DIENS -GEEN BETALING.

Dup ·

Verander dié dorpe se name so gou moontlik sodat dit by die verval en agteruitgang kan pas.Wat van Rioolfontein en Vullisvlei…

Andrew ·

Geld hy is op. Kyk maar net wie is in beheer van daai dorpe. Daar is niks industrie, min winkels met omtrent net die ses drank winkels, n PEP, SASSA en twee banke. Maar daar is vir jou papiere, straat lêers en derduidende kinders (oor die algemeen die kleur van die eens mooi platteland) . Jy kan die water herstel, dit sal net weer gebreek word. Op die ou end is dit die inwoners self wat kies wie in beheer moet wees so tot hulle self nie wil anders stem nie , sal dit so aanhou. Dalk trek die ANC en EFF kiesers as die water opdroog.

Anel ·

Nou kyk, ek wil nie snaaks wees of vinger wys nie, maar die verval het nie net nou onlangs begin nie. Dit moet seker al jare so aangaan. Hoekom nou eweskielik daaraan aandag wil gee? Almal wil nou begin iets doen omdat dit verkiesing is! Pleks word die lot wat veranteoordelik is vir die verval, deurlopend gemonitor en opdraande gegee. Mens kan nie wat tot die verval so vêr gevorder het dat dit jare en miljoene gaan vat om te herstel nie! As iets by jou huis breek, maak jy dit dadelik reg, jy tel die rommel op. Hoekom kan die munisipaliteite nie ook dadelik die herstelwerk doen nie? Dit is waarvoor ons betaal! Maar nou ja, onbevoegdheid en korrupsie heers!!!

Bevorder geregtigheid - Vrydenker Vlakvark ·

Neem op jul tradisionele wapens en ruk op na die kantore van die vrotsige bestuurders en jaag hulle permanent weg.

Republikein in die Wes Kaap ·

Afriforum, julle probeer hard, maar kan beslis nie die hele land red nie. ‘n Oppervlakte van 1.2 miljoen km. met meer as 62 miljoen inwoners is net té groot. Nagenoeg 50% inwoners leef in armoede. En 25% leef in ekstreme armoede. Begin eerder werk aan staatkundige oplossings. Die tyd daarvoor is ryp.

Estelle ·

Wat het ons verwag. RS jy slaan die spyker so op die kop. G’n wonder die ervare mense immigreer na ander lande.

Bevorder geregtigheid - Vrydenker Vlakvark ·

Waarom ruk die ANC-ondersteuners nie op en looi hul ANC-kader bestuurders met seekoeisjambokke of is hulle tevrede met hierdie 3de wêreld land en sy ongeregtighede en korrupsie en vrotsige dienslewering?

Hennie ·

Het in De Aar gewoon vanaf 1988 tot 1992, was n pragtige plekkie, spoorweg was die grootste aansluiting in die land. Kan nie glo die plek het so agteruit gegaan nie. Absoluut n skande.

Mallie ·

Ek stem saam met RS, hulle mense gaan dood van die honger omdat hulle so magsbehep is.

Luckykat ·

As jy ophou betaal, bly daai bedrae op jou rekening en n jaar of twee later oorhandig die mislikepaliteit jou oor aan prokureurs wat jou dan jaag vir daai geld. Die rente en kostes hoop net op oor tyd en jy sal daaronder ly. Dis n groot probleem.

Bolandse Nooi ·

Ek wonder net …. hoekom, net kort voor nasionale- en provinsiale verkiesings plaasvind – so gereeld soos klokslag – word hierdie “wan-bestuur en swak-dienslewering” aan die groot klok gehang? Net ná die verkiesing, waai al die rapportering en beloftes van “beter bestuur en dienslewering” nes die vuillis en riool weer die wêreld vol ….

Jaco ·

Ek het gedink sulke verval kom net voor daar waar “die rassistiese DA” in beheer is. Dis nou dieselfde DA wat, volgens die ANC, “net omgee vir ryk wit mense”. En hier is die verval nou sowaar in munisipaliteite waar die hoogheilige human rights georiënteerde ANC in beheer is. Hoe dan nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.