Verwarring oor kleuterskole ná minister se u-draai

(Foto: Maroela Media)

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het vandeesweek gewysigde regulasies aangekondig wat bepaal dat geen pre-gr. R-leerders op 6 Julie mag terugkeer skool toe nie.

Ingevolge die vorige regulasies kon leerders by skole wat by die departement van basiese onderwys geregistreer is, volgende week terugkeer skool toe.

Kleuterskole en dagsorgsentrums wat by die departement van maatskaplike ontwikkeling geregistreer is, het steeds geen idee wanneer skole weer vir die kinders gaan heropen nie omdat die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, nog geen datum daarvoor bekend gemaak het nie.

ʼn Hofsaak oor die heropening van hierdie sentrums vir vroeëkinderontwikkeling is tans in die Pretoriase hooggeregshof tussen die departement, die Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Solidariteit se beroepsgilde vir maatskaplike werkers aan die gang.

Alexandra Abrahams, ʼn DA-lid van die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling, sê die minister se skielike ommekeer is oënskynlik omdat sy geen gesag het om ʼn aankondiging oor die heropening van die sektor te doen nie.

Hoewel sommige sentrums vir vroeëkinderontwikkeling en gr. R aan skole verbind is, kan net Zulu besluit wanneer die bedryf as ʼn geheel mag heropen. Abrahams sê dit beteken dat Zulu weereens die heropening van dié belangrik sektor ophou.

“Sy het reeds groot frustrasie veroorsaak omdat sy aanhou weifel oor die bekendmaking van ʼn datum vir private vroeëkinderontwikkelingsentrums om te heropen.”

Volgens Abrahams is dit onaanvaarbaar dat Zulu speletjies speel met die onderrig, ontwikkeling en veiligheid van kinders wat op die sentrums staatmaak en steeds daarmee wegkom. Die DA sê die minister kom bloot nie die mas op nie en is nie in staat om in die beste belang van diegene wat sy veronderstel is om te dien, op te tree nie.

“Min. Zulu se minagting en arrogansie oor die sentrums het die sektor in ʼn krisis gedompel en talle sentrums moes die moeilike besluit neem om hul deure te sluit.”

Die DA het pres. Cyril Ramaphosa nou gevra om in te gryp en sê hoe langer Zulu in haar pos aanbly, hoe meer skade gaan sy aanrig.

Marisa Engelbrecht, sektorhoof van Solidariteit se Beroepsgilde vir maatskaplike werkers, het die jongste besluit as onverantwoordelik bestempel.

“Dit is geweldig verwarrend. Die minister [van onderwys] het nou nog groter verwarring by skole en onder ouers geskep nadat groot voorbereidings getref is om kinders weer in te neem.”

Daar is intussen steeds geen uitspraak in die gilde en die SOS se aansoek teen die departement nie. Nadat die departement aanvanklik aangedui het dat hy die aansoek gaan teenstaan, maar toe geen stawende dokumente ingedien het nie, het die minister Dinsdagaand wel besluit om te reageer, het Engelbrecht gesê.

Sy sê in hierdie stadium word onderwysers se reg om te werk hulle ontneem, terwyl kinders se regte om die nodige stimulasie vir hul ontwikkeling te kry, ook van hulle ontneem word. Talle kinders is boonop afhanklik van skoolvoedingsprogramme en kry nou nie eens meer ʼn behoorlike bord kos nie.

“Die minister wat getaak is met die maatskaplike welstand van die land is besig om die krisis te vererger.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jaco ·

Dit verbaas my nie. Kleuterskole is ‘n wit ding. In swart gemeenskappe is daar ‘n ouma of tante of ouer kind wat na die klein kindertjies kyk. So ja, hou maar verder die kleuterskole toe en ruïneer maar nog wit besighede. Dis tog die ANC se eintlike doel met lockdown. Dit gaan lankal nie meer oor die Coronavirus nie.

Mariana ·

Te veel van hierdie ministers is in poste waarvoor hulle nie geskik is nie. Nie een van hulle kan besluite neem en daarby bly nie want hulle het geen opleiding of kennis van hulle belangrike werk nie. Die land is onderwerp aan hierdie mense se onbevoegdheid.

Sarel ·

Julle wag verniet of beroep julle verniet op Rhamaposa. Hy is net die Spreekbuis verder niks meer nie

Pieter ·

Weereens gee anc glad nie om as swart werkers by kleuterskole sonder werk en inkomste sit nie. Of verwag anc die wit eineaars hulle volle salarisse betaal terwyl hul tuis sit?

Kokerboom ·

Hoekom word ons lewens so bepaal en omvergewerp deur die onbevoegde onnosele kaders? Ek minag wat hul doen. Ekt nie vir hul gestem, hul is nie my mense en ek skuld hul niks en wil ook niks met hul te doen hê!!

johanf ·

Ai, as ons net ń keuse gehad het, twyfel of ek my seun 25 jaar gelede, as die Covid19 daar was, kleuterskool toe gestuur het…… Gelukkig het ek getroue opassers gehad…….die wat nie het, sterkte vir julle…..

Ivana ·

Eintlik is onbevoeg nie die regte woord nie – te beskaafd – sal maar nie regte woord se nie, maar dit is so niemand kan n besluit neem en by dit hou nie en almal wil n eier le en niemand weet waar of wat dan uitbroei nie – net n klomp twak, want dis al wat hulle praat.

AlWeerSo ·

Ek wonder nou wie is die grootste “abusers of woman and children rights” Die beroepe wat laaste oopgemaak is en oopmaak van kleuterskole is waar soveel vrouens werk en waar werkende ma’s hulle kinders moet hou. Maar ja, as jy lekker vet gevreet sit in jou paleis wat sal jy jou bekommer!

marius ·

As die skole toe bly , is hulle oorbodig en moet summier afbetaal word . Hulle kan dan soos al die ander in ‘n ry staan vir WVF geld wat nie bestaan nie . Laat hul koppe rol !

Boortor ·

Hulle maak soveel “U” draaie hulle gaan nog in hulleself vasloop! Belaglik!

Johnny ·

Graad O – Ontvangsjaar (Afrikaans)
Grade R – Reception year (Engels)

Renee ·

Mariana stem 100% saam met jou hulle is in poste wat hulle nie kan uitvoer nie maar as dit by die geldkas kom neem hulle die voortou.Sondag aand sal sy weer n’ ander storie he soos altyd op no 99

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.