Verwydering van Tshwane-burgemeester ‘onwettig’

Stevens Mokgalapa. Foto: ANA

Die hof het Vrydag beslis die gebeure tydens ʼn raadsvergadering in Tshwane, toe ʼn mosie van wantroue teen die huidige burgemeester en speaker toegestaan is, was onwettig. Die hof het gevolglik besluit dat Stevens Mokgalapa, burgemeester, en Katlego Mathebe, speaker van Tshwane, vir eers in hul poste moet aanbly. Die saak word nou verwys na ʼn hersieningshof. Regter Neil Tuchten het boonop erg te velde getrek teen die gewelddadige optrede van EFF-lede in Tshwane.

Die DA het vroeg in Desember ʼn dringende aansoek ingedien om besluite wat tydens ʼn raadsvergadering van die Tshwane Metro op 5 Desember geneem is, ter syde te stel.

Tuchten het op 6 Desember dié besluit tydelik ter syde gestel en die DA, ANC en EFF se argumente is toe op 17 Desember in die hooggeregshof aangehoor. Die EFF en ANC het die DA se aansoek teengestaan.

Tydens die vergadering op 5 Desember het Mathebe haar as speaker verskoon, aangesien ʼn mosie van wantroue teen haar as speaker voor die raad sou dien. Zweli Khumalo, adjunkspeaker, is toe gevra om tydelik as speaker in haar plek waar te neem.

Burgemeester Steven Mokgalapa. Foto: ANA

ʼn Video van die vergadering op 5 Desember, wat as bewysstuk by die hof ingedien is, wys hoe lede van die EFF na die tydelike speaker se podium stap en hom hardhandig hanteer, voordat hulle sy stoel onder hom uittrek en hom dwing om terug te tree as speaker. Hierna het ʼn lid van die EFF vir die res van die vergadering as speaker waargeneem en die mosie van wantroue teen Mokgalapa en Mathebe goedgekeur. Die EFF het in die hof aangevoer Khumalo “was nie beskikbaar” om verder as speaker op te tree nie. Tuchten het dié argument egter verwerp.

“Ek het nog nooit in my lewe gehoor of gelees van ʼn geval waar ʼn lid van die publiek ʼn regsbeampte se stoel onder hom uittrek nie,” sê die regter in sy uitspraak. “Wat dit erger maak, is dat lede van die raad Khumalo se persoonlike ruimte binnegedring, hul hande op hom gelê en hom fisiek gedwing het om sy stoel, en ook die simbool van die amp wat hy beklee het, te ontruim.”

Daarom, sê Tuchten, wás Khumalo beskikbaar om sy pligte as speaker na te kom en die gebeure ná sy verwydering as speaker uiteraard onwettig. Die besluit om Mokgalapa en Mathebe uit hul poste te verwyder, moet dus ter syde gestel word. Tuchten het egter toegegee dat die besluit nóg die ANC nóg die EFF verhoed om in die nabye toekoms weer ʼn mosie van wantroue teen dié kandidate in te dien.

Tuchten het verder gesê hy hoop dié uitspraak verhoed raadslede om weer die mate van geweld toe te pas soos uitgebeeld in die video. “Daar is geen plek vir hierdie soort optrede in ons demokrasie nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.