VF Plus ‘versigtig optimisties’ oor wysigings aan SKA-regulasies

Foto: ska.ac.za

Die VF Plus is “versigtig optimisties” oor die nuwe voorgestelde regulasies vir die plasing van radioteleskope as deel van die internasionale SKA-projek.

Die regulasies behels dat ʼn kleiner oppervlak daarvoor beskikbaar gestel moet word.

Dr. Blade Nzimande, minister van wetenskap en innovering, het die nuwe voorgestelde regulasies op 18 Julie vir kommentaar in die Staatskoerant bekend gemaak.

Luidens die kennisgewing is die SKA ʼn ultrasensitiewe radioteleskoop waarvan al die antennas saam by voltooiing ʼn vierkante kilometer sal beslaan. Die oorwig van antennas val binne ʼn “virtuele kern” van 20 km wat daarvoor uitgekoop en aan alle verkeer en ekonomiese bedrywighede onttrek word.

Daar is egter nog 24 antennas wat buite die kern opgerig moet word, in sogenaamde spiraalarms.

Ingevolge die vorige regulasies sou ʼn 10 km breë beskermende strook beskikbaar gestel moes word om die antennas se staanplekke met mekaar te verbind. Dit is nou verklein tot ʼn beskermende kamp van vier hektaar (200 m by 200 m) vir elke antenna en ʼn pad wat dit met mekaar verbind.

Dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor wetenskap en innovering, sê terwyl dit lyk of die SKA se voetspoor ten koste van plaaslike kleinveebedrywighede verklein, los dit nie grondeienaars se probleme op nie. Sommige boere betwis die metode wat gevolg is om die ekonomiese uitwerking op plase te waardeer.

Verder is die gebrek aan omheining van grond wat aan die SKA behoort, ʼn doring in die vlees, sê hy.

“SANParke is veronderstel om die grond te bestuur. Die Suid-Afrikaanse Radio Astronomie Sterrewag (SARAO) wat die SKA bestuur, moet eers die grond omhein. Ná jare lange beloftes is daar nog geen aanduiding dat dit gebeur nie en omliggende kleinveeboere het toenemend met probleemdiere soos rooikatte te kampe,” verduidelik Boshoff.

“Die VF Plus erken en waardeer die omvang van die SKA en die positiewe gevolge vir die land as geheel en die wetenskap in die algemeen. Nogtans moet die negatiewe uitwerking op gemeenskappe wat reeds in die omgewing woon, voortdurend in ag geneem word.

“Kleinveeboerdery bly steeds, ondanks die internasionale profiel van die SKA, die hoeksteen waarop plaaslike ekonomieë gebou word.”

  • Kommentaar oor die nuwe voorgestelde regulasies kan tot 16 September aan Mere Kgampe by [email protected] gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stofdonkie ·

Dus moet daar gekies word tussen sterre kyk of kleinvee boer, wat sal hulle kies? Die sterre ouens kan darem seker meer sakgeld gee aan die besluitnemers as die skaapboere

Pampoen ·

Die SKA is ‘n baie belangrike projek – selfs in wêreld verband. Klink my iemand kla nou sommer om te kyk of hulle nie ook ‘n paar sent kan uitkry nie.

Harley Davidson ·

Maar die VF+ het nie ‘n probleem dat Elon Musk nie starlink in Suid-Afrika mag bemark omrede hy nie aan BEE voldoen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.