Vicki Terblanche se man wag steeds vir borgtog

Vicki Terblanche (Foto: Facebook / Lala Fourie)

Die vermoorde Vicki Terblanche (42) se vervreemde man, haar kêrel en dié se vriend sal eers op 21 Desember hoor of hul aansoeke om borgtog toegestaan is.

Arnold Terblanche (53), Vicki se vervreemde man, en Reinhardt Leach (33), haar kêrel ten tyde van haar dood, word saam met Dylan Cullis (24), ’n vriend van Leach, van moord aangekla.

Die drie het Maandag vlugtig in die landdroshof in Gqeberha (Port Elizabeth) verskyn waar hul borgtogaansoeke voortgesit is. Daar word ook beweer dat hulle saamgesweer het om haar te vermoor.

Leach en Cullis is in hegtenis geneem kort nadat Vicki se liggaam op 23 Oktober in ʼn vlak graf in ʼn oop veld in Greenbushes gevind is. Terblanche is meer as drie weke later by sy huis in Mill Park, Gqeberha, in hegtenis geneem.

Leach het saam met Vicki gewoon.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het vroeër gesê dit word beweer dat Vicki op 18 Oktober met ’n skedule 6-medikasie bedwelm is voordat sy met ’n kussing versmoor is. Sy is ook van verskeie items, waaronder bankkaarte, juweliersware en ’n selfoon, beroof.

Daar is toe glo dwelms en ander verdowingsmiddels by haar huis in Newton Park geplant waar al die beweerde misdade plaasgevind het. Dit word beweer dat die dwelms geplant is om ’n indruk te skep dat Vicki ’n oordosis dwelms geneem het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Shakespeare ·

Laat hom maar wag. Die regstelsel is in elk geval so vêr agter met hulle “pligte” dat hy nie lank gaan wag nie. Net so ‘n jaar of twee. Net solank hy agter slot en grendel is vir die tydperk.

SjN ·

Die ouderdomsverskil van die betrokke persone het seker bygedra tot die optrede.

SjN ·

Natasha, die mans kon nie die mas opkom nie, een te oud en ander te min, in hul eer gekrenk, hoop jy verstaan.

Eric ·

Daar word lekker gesloer met saak. Staat het geen begrip van tyd nie. Almal moet swaar gestraf word vir die moord op die vrou en dan daal hulle so laag om nog lokvalle te stel dat die staat dink sy by dwelms betrokke.

Swerwer ·

Jig. Hoe laag kan ‘n mens daal om ‘n ander se lewe te neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.