[Video] Bfn-geweld: Munisipaliteit eer glo nie ooreenkoms

‘n Skermskoot uit die video.

Die geweld wat Woensdagaand daartoe gelei het dat die bekende en historiese stadsaal in Bloemfontein deur ʼn brand verwoes is, het glo ontstaan nadat die burgemeester van die Mangaung-metro nie ʼn ooreenkoms met die munisipalewerkersvakbond Samwu deurgevoer het nie.

Maroela Media het vroeër berig brandbestryders moes Woensdagaand ure lank spook om die vlamme te blus waarin die stadsaal gehul was. Dit kom nadat Samwu-werkers vroeër die dag ʼn vergadering by die stadsaal gehou het. ʼn Video wat deur ʼn hommeltuig geneem is toon hoe reusevlamme en dik rookwolke by die gebou se dak uitborrel (die video volg onderaan die berig).

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê polisiebeamptes moes skokgranate gebruik om die skare van ongeveer 200 mense uiteen te jaag. Hy het gesê drie mense is in hegtenis geneem op ʼn aanklag van openbare geweld en die polisie ondersoek steeds wie vir die brandstigting verantwoordelik was. Brandbestryders kon uiteindelik ná 22:00 daarin slaag om die vlamme te blus.

Makhele het gesê vier sake van opsetlike saakbeskadiging word ook ondersoek nadat voertuie beskadig is terwyl die skare uiteengejaag is. Intussen is polisiebeamptes reg oor die metro ontplooi om die situasie te monitor, het hy gesê.

Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro, het Donderdag aan Maroela Media gesê “ʼn baie groot gedeelte” van die gebou is verwoes. Khedama wou nie onmiddellik verdere kommentaar oor die voorval lewer nie en het gesê beamptes van die metro sal vanoggend ʼn vergadering hou waarna hy in ʼn posisie sal wees om kommentaar te lewer.

Die stadsaal in Bloemfontein nadat dit Woensdag (21 Junie 2017) aan die brand gesteek is. Foto: Twitter via @farmingportal

Tjaart van der Walt, ʼn DA-wyksraadslid in Mangaung, het aan Maroela Media gesê die dak van die stadsaal het meegegee en daar is “net ʼn ruïne” van die historiese gebou oor. “Daar is vleuels van die gebou wat nie heeltemal verwoes is nie, maar die grootste gedeelte is onherstelbaar beskadig. Dit is ʼn reuseverlies vir die stad, nie net finansieel nie, maar ook in historiese konteks,” het hy gesê. Die Bloemfontein-stadsaal is in 1935 gebou.

Volgens Van der Walt het die geweld ontstaan nadat Olly Mlamleli, burgemeester van die Mangaung-metro, nie by ʼn vergadering opgedaag het om ʼn ooreenkoms met die Samwu-werkers te onderteken nie. Samwu-lede by die munisipaliteit staak al weke lank weens ontevredenheid oor salarisse. Volgens Van der Walt het die munisipaliteit uiteindelik verlede week ʼn ooreenkoms met die vakbond bereik en sou die ooreenkoms Woensdag tydens ʼn vergadering onderteken word, maar Mlamleli het nie opgedaag om dit te teken nie.

“Die Samwu-lede het toe by die stadsaal vergader waar hul leiers hulle ingelig het oor die nuutste verwikkelinge in die onderhandelinge en dit is waar hul frustrasie toe oorgekook het,” het Van der Walt gesê. “Dit is natuurlik steeds heeltemal onaanvaarbaar en onwettig om eiendom aan die brand te steek en die skuldiges moet geïdentifiseer en vervolg word.”

Die stadsaal in Bloemfontein nadat dit Woensdag (21 Junie 2017) aan die brand gesteek is. Foto: Twitter via @Talk2Elia

Thabang Tseuoa, provinsiale sekretaris van Samwu, het aan OFM bevestig die munisipaliteit wou nie die ooreenkoms waarop daar met die vakbond ooreengekom is, teken nie. Hy het gesê Samwu-lede was nie by die stadsaal om te betoog nie, maar om terugvoer van die nasionale leierskap te ontvang. Maroela Media kon Tseuoa nie Donderdagoggend telefonies bereik nie. Congo Matshepe, provinsiale voorsitter van Samwu, wou nie onmiddellik kommentaar lewer nie en het versoek om later weer gekontak te word.

Van der Walt sê dit is kommerwekkend dat lede van die plaaslike brandweer ook deel van die stakende werkers is en dat die brandweerdienste dus gisteraand onvoldoende personeel beskikbaar gehad het om die brand te bestry. “Die brandbestryders het gisteraand daar rondgehardloop en kon nie onmiddellik die brandkrane gekoppel kry nie. Hulle het ook net een leertrok gehad wat hulle kon gebruik om van bo af te spuit. Dit is duidelik dat hulle nie die nodige toerusting het nie en boonop met ʼn tekort aan personeel moet sukkel, terwyl die brandweerdienste se begroting vroeër vanjaar nog gesny is ook,” het hy gesê.

Hy het gesê die DA sal ʼn verslag versoek oor gister se gebeure, omdat “die prosesse duidelik nie afspeel soos dit veronderstel is om te doen nie”.

Die onderstaande video word gebruik met vergunning van iFlair Photography:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Johann ·

En so brand die ANC en sy handpoppe SA dorp vir dorp, stad vir stad af! Barbaarse anargie wat die oorhand WIL en MOET hê. Terwille van hul eie gewin en magsvergrype , ten koste van n land en sy toekoms. ANC LEGACY!!!!!!!!!

Ettienne Swanepoel ·

En steeds is die Ja stemmers en Liberaliste se ogies toe. En glo hul dit is die land van melk en heuning. Ons het die gemors oor ons self gebring. So ons moenie nou kla nie. Julle was gewaarsku. Maar jul sien mos ons regses as dom en kommin.

Jo ·

Die land boer net agteruit tot niks oor is nie. Wat ‘n ongemaklike gelykheid.

Koos1 ·

2 dinge wat my bekommer.
1. Die ANC burgermeester het geen respek vir sy werkers nie, en hierdie brand kan ook om sy nek gehang word, saam met die brandstigers en die unie. As hy opgedaag het, het die gebou moontlik nog gestaan.
2. Die gebrekkige toerusing van die brandweer. Ons het dit in Knysna gesien en nou weer in Bloem. Begrootings word gesny op noodsaaklike dienste, net sodat die geld in die sakke van korupte beamptes kan verdwyn!

Karel Kat ·

Nasionale Historiese Erfenis gebou afgebrand . . . die amptelike verduideliking sal seker wees dat dié gebou se geskiedenis aanstoot gegee het as simbool van Kolonialisme.
Skrikwekkendste is dat hulle stemgeregtigdes is!

H ·

Hahaha, dis ‘n grap die land van ons, 200 mense staak en beskadig eiendom en slegs 3 word gearesteer. Ai die arme ongelukkige 3.

Anne ·

Mag die Here ons verlos van hierdie verskrikking wat ons elke dag beleef

jennefer ·

Hy gaan nie, Nadat die dissipels vir Jesus die pragtige tempel gewys het( Lukas 21-5) het Hy gese dat alles sal vergaan, geen steen sou meer op n ander steen wees nie, so klou nie aan die aardse geboue, wag vir die nuwe wat God beloof.

FrenchPeteers ·

Ettienne, daar is amper niks van die land oor nie. Gaaan ons nou regtig nog steeds beledigings rond slinger vir wie Ja of Nee gestem het. Hoe ver gaan dit ons vorentoe help? Ons woon nou in ‘n nuwe regering se land. Wat van ons begin hande vat, luister na die mense se versoeke en gun hulle ‘n regmatige plek in die land op dieselfde vlak. Hoe langer ons wil kyk wat in die verlede gebeur het en probeer baas speel of wil oorlog maak, hoe minder gaan van ons land oor bly. Ons het verskillende kulture en ons hoef nie mekaar te omhels nie, maar ons kan saam bou aan een Suid Afrika.

Susan ·

Ons volk moet meer in gebed wees met God. Nie net bid as dit moet reën nie. Opreg bid!

Fanie van Swakop ·

Ruim net die gemors op -maak net mooi skoon – verklaar dit ‘n monument – ongelukkig kan ons nie bysit ter ere van wie nie!

Louise ·

Ja FrenchPeteers. Ek stem 100% saam nee 101% saam om die land SAAM te bou….
Maar wat help dit die een HAND bou op TERWYL te ander hand AFBRAND.
OOOO dis reg dit geld NET VIR WIT MENSE om hande te vat, die res kan maak soos hulle wil.
So tussen jou en my het ek BESLIS nie met die goue lepel in die mond groot geword nie. Ek HET gesukkel van kleins af… MAAR ons liewe vader het my waardes en n brein gegee om nie OP MY GAT TE SIT en te skep en wanneer ek hom lig te brand nie. Nee jong EK MOES MAAR KLIPPE KOU EN MY GAAI AF WERK OM MY LEWENS STANDAARDE TE ONDERHOU

hendrik ·

Frenchpeteers, ons het al in 1992 vir hul gese “hier
is vir jou n land. Kom ons vat hande en bou saam n toekoms.” Dit is nou die toekoms en kyk hoe lyk dit.

Ronel ·

Daar is nou maar net weereens bewys. Sommige mense voel ‘n blou veer vir geskiendenis. As jy nie jou sin kry nie. Gooi jou toys en brand iets af. As easy as pi.

Benni ·

Wat brand so vinnig bo in die dak op die ceiling…Dalk petrol .. vra maar net.

M ·

Dis verskriklik hartseer. Susan ek stem saam. Ons moet opreg begin Bid.

Lioness ·

Dit is absoluut pateties. Die burgemeester is duidelik in ‘n posisie wat hy nie verdien nie en waar hy geen bydrae lewer nie. Hoe onnosel, dank hom af. Die kermende vandaliste soek meer geld of hulle brand eiendom. Wat van integriteit? Hoe pateties kan ‘ n mens wees? Jou woord moet jou woord wees en jy moet ander mense en hul eiendom respekteer. As jy meer geld wil hê, werk meer. Die houding van ‘ek het jou mos gesê’ is net do pateties, Ettiene. Dalk sal jy minder ‘kommin’ wees as jy jou spelling so ‘n bietjie opknap. Ons moet saamstaan. Die skuldiges moet aan die pen ry. En ons het God daarvoor nodig om ons te help, strategie en wysheid te gee. Jenefer, lees Nehemia. Wees prakties, jou hoogheilige kommentaar is wind. Jesus het ons geleer bid “laat U koninkryk kom, soos in die hemel, so ook op die aarde”. Dit beteken ons het ‘n plig om daarvoor te werk met al ons kragte en vermoeëns. Suid Afrika kort ‘n sterk, opregte goddelike leier met integriteit en veral burgers wat saamstaan sodat reg en geregtigheid geskied. Ek wonder wie is almal bereid om die prys van volgelingskap te betaal, om self te gee en onverpoosd te werk om God se koninkryk hier te laat kom. Doen wat goed is. Vat die skuldiges vas, kry orde in plek en vergeet van kleur en ras en kwaadstook en kerm en kla. Almal.

Dries ·

In die nuwe Suid Afrika word alles af gebrand as mense nie hul sin kry nie want hulle betaal nie daarvoor nie, die belastingbetaler moet maar eenvoudig opdok. Laat die vakbond betaal vir die skade dan sal hulle minder staak en optogte hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.