Video: D-dag, maar GDO skarrel nog vir plek

Mobiele klaskamers word in Kempton Park opgerig. (Foto: Pieter Cloete)

Skole het Woensdag begin en die Gautengse departement van onderwys het laat Dinsdag nog geskarrel om mobiele klaskamers by skole of oop stukke grond in die provinsie aan te bring.

Belanghebbendes het die afgelope paar dae mond uitgespoel oor wat hulle as swak beplanning en kommunikasie van die departement af beskou, wat nou veroorsaak dat skole én leerders onder groot druk geplaas word.

Dit is nie seker hoeveel leerders nog plek in skole soek nie, hoofsaaklik omdat die Gautengse departement van onderwys geen sprak daaroor sprook nie. In antwoord op ʼn navraag oor die kwessie verlede week het Steve Mabona, departementele woordvoerder, gesê die departement “sal kommentaar hieroor lewer wanneer hy gereed is”. ʼn Opvolgnavraag Maandag het tot dusver nog niks van die departement opgelewer nie.

Khume Ramulifho, voormalige DA-woordvoerder oor onderwys in Gauteng en nou betrokke by Rise Mzansi, het Maandag gesê alle leerders is beslis nog nie geplaas nie. “Laat aansoeke het eers onlangs gesluit en selfs leerders wat verlede jaar betyds aansoek gedoen het, is nog nie almal geplaas nie. Dan is daar nog ʼn hele paar leerders wie se ouers appèl teen hul kinders se plasings aangeteken het, waarvoor nog plek gesoek word.”

Hy sê die manier waarop die departement nou te werk gaan om leerders te plaas, deur wild en wakker mobiele klaskamers en satellietskole op te rig, is ook ongehoord. “Die departement konsulteer nie behoorlik met die gemeenskap nie en daar is ʼn algehele gebrek aan kommunikasie. Hierdie hele proses moes baie vroeër begin het. Soos dinge nou staan, gaan die departement beslis Woensdag nog skarrel om leerders te plaas en kosbare akademiese tyd verloor.”

Die burgerregteorganisasie AfriForum is ook skepties oor die manier wat die departement nou die probleem wil pak.  “Skole word onder meer gevra om elk nog vyf leerders te akkommodeer, of tydelike klaskamers word opgerig. Skole word inderhaas geskep in Pretoria en Kempton Park, met groot uitdagings vir die infrastruktuur van woonbuurte, omdat dit nie vir die hoëdrukskoolverkeer geskik is nie,” sê Alana Baily, hoof van kultuursake by AfriForum. “Al hierdie stappe getuig van swak beplanning wat in die dienstyd van Panyaza Lesufi as LUR vir onderwys begin het, en nou deur sy opvolger voortgesit word.”

In Kempton Park is tientalle gr. 8-leerders waarskynlik vandag nog sonder ʼn plek in die skool nadat die departement verlede week laerskole in kennis gestel het dat mobiele klaskamers hier aangebring sal word om gr. 8’s te akkommodeer.

Mobiele klaskamers is intussen op ʼn oop stuk grond in Birchleigh aangebring, maar skole wat die departement die stryd aangesê het na die “kennisgewing” om gr. 8’s in te neem, het nog nie weer ʼn dooie woord van die departement gehoor nie. “Stilte voor die storm dalk?” het een hoof gewonder.

Die beheerliggaamvoorsitter van Hoërskool Kempton Park, wat nie by name genoem wil word nie, sê die gebrek aan skole in die omgewing kom al ʼn lang pad. “Ons het die departement verlede jaar reeds gewaarsku die probleem gaan net erger word, maar weinig is die afgelope jaar hieraan gedoen.” Hy sê Hoërskool Kempton Park, ʼn enkelmedium Afrikaanse skool, neem reeds baie meer leerders in as waarvoor daar plek is en moes uit hul eie sak betaal om bykomende klaskamers op te rig. “Ons het egter steeds nie genoeg plek vir al die Afrikaanse leerders wat by ons aansoek doen nie.”

Die onvoltooide skool in Birchleigh, Kempton Park. (Foto: Pieter Cloete)

Die Hoërskool Jeugland, ook in Kempton Park, het sewe nuwe klaskamers aangebou om bykomende leerders te kan inneem. Die departement het aangedui dat meubels vir dié klaskamers verskaf sou word. Die klaskamers is in April verlede jaar voltooi, maar geen meubels is van die departement ontvang nie.

“Die beheerliggaam het van distrik tot hoofkantoorvlak voor dooiemansdeur te staan gekom. Om aan die skool se behoeftes na plek te voorsien het die beheerliggaam aan die einde van 2023 ingegee en besluit om maar self te betaal vir die maak van banke vir hierdie nuwe klasse, omdat ons skool nie verder sonder hulle kan klaarkom nie.”

Die skool se beheerliggaam sê dit is boonop uiters frustrerend dat sake met betrekking tot toelating met hoofde bespreek word, eerder as om dit met die beheerliggaam te bespreek. “Hoofde is in diens van die departement en vrees intimidasie. Hulle wil ook natuurlik die opdragte van hul meerderes uitvoer.”

Intussen sukkel die departement nou al vyf jaar lank om die Birch Acres School in Birchleigh, waarvan die bouwerk reeds in 2017 begin het, te voltooi. Dié skool is in ʼn gebied geleë wat ʼn besondere toename in leerdergetalle ervaar. Mabona het aan Sunday Independent gesê die skool sal vanjaar in gebruik geneem word, maar met Maroela Media se besoek was dit duidelik die skool is nog ver van klaar. Mabona het Maroela Media se vrae hieroor ook nie beantwoord nie.

Volgens Ramulifho is dit gedurig ʼn probleem dat kontrakteurs werk aan skole staak en ʼn dispuut met die departement verklaar. ʼn Nuwe kontrakteur kan dan nie aangestel word alvorens die dispuut opgelos is nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

KB ·

So staan daar leë “monumente” die land vol. (Ek het gister by ʼn pragtige nuwe leë skool verbygery in die Sefateng/Tsibeng-omgewing…dit is weereens miljoene rand vermors).

Johan ·

“Mobiele klaskamers” n skreiende skande, waar is die ordentlik geboude skole. Ons spandeer so baie geld aan onderwys maar die klomp kan nie eers ordentlike skole bou nie…die volk darem.

AndrewL ·

Net nog ‘n bewys dat die ANC in die verlede leef. Hul mors tyd en geld met die ondersoeke terwyl misdadigers ons NOU teister.

Dan praat ek nie eers daarvan dat hul eie moorde nie ondersoek word nie

Marthinus Johannes ·

Dit is nie n kwessie van swak be planning nie, die hele ANC is in sy totaliteit ONBEVOEG in alle opsigte.

Llady ·

Jaar en jaar uit is dit dieselfde probleem. Nee, inteendeel, dit word eintlik erger!! Wanneer gaan die regering/Gauteng onderwysdepartement besef ons het meer skole nodig?! Dit help nie om leerders in reeds oorvol skole te probeer indruk nie; dit gaan geensins die probleem oplos nie. Maar, nee, die begroting vir nuwe skole/opknapping van bestaande (onderontwikkelde) skole en opleiding van bekwame onderwysers is sekerlik lankal reeds verkwis op wie weet wat! En intussen moet die jeug daaronder ly en hulle opvoeding derhalwe in die slag bly. En sodoende het ons net nog ‘n generasie kinders wat nie die kans en geleentheid kry om bo hulle omstandighede uit te styg nie…

Bolandse Nooi ·

Om den dode kan ek nie verstaan waarom ouers wag tot OP die dag wat die skole heropen, om hul kinders te registreer by ‘n skool nie. My mond het letterlik vanoggend oopgehang toe ek op eNCA sien hoeveel Graad 8 leerders daar by ‘n sekere skool in die saal sit en wag dat die Minister van Onderwys … of wie ookal hulle kom toespreek.

En buite ander skole, staan die ouers van voornemende leerders in ellelange toue en wag om hul kinders OP DIE DAG WAT DIE SKOOL OPEN, in te skryf. Het die inskrywings vir 2024 leerders nie al verlede jaar êrens in Augustus oopgemaak nie en is daar nie ‘n aanlyn portaal waarop ouers hul kinders kon registreer nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.