Video: Ds. Liezel só onthou op haar 40ste verjaardag

Ds. Liezel de Jager (Foto: Twitter)

Vandag (Sondag) was veronderstel om die vermoorde ds. Liezel de Jager se 40ste verjaardag te wees. Sy is egter 655 dae gelede dood by die pastorie van die NG Kerk Suidkus op Amanzimtoti aangetref nadat sy saam met ʼn groep mense gaan draf het.

Sy was toe maar 38 jaar oud.

“Ek onthou vandag ons baba wat reeds in die wiegie stofdeeltjies in die sonstraal wou vang,” vertel Liezel se pa, Henk van Zyl. “As jong mens en volwasse vrou het haar hele wese elke oggend uitgeroep: carpe diem!

“Ons mis jou, my kind. Ons is lief vir jou, maar vier jou verjaardag al is jy in die hemel,” lui Henk se verjaardagboodskap aan sy dogter.

De Jager se familie en vriende het in samewerking met die drukgroep Action Society ʼn video saamgestel ter herdenking van haar verjaarsdag.

“Liezel, ek onthou jou geboortedag. Die pragtige, unieke, wonderlike dogtertjie wat vir my gegee is,” onthou haar ma, Salomé.

“Ek was oombliklik verlief en het jou lief gehad tot met die laaste asemteug. Weet dat ek jou mis en dat ons hoop om mekaar vorentoe weer in die hemel raak te loop. Liefde, ma.”

Henk en Salomé van Zyl, Liezel se ouers, wag steeds op antwoorde oor haar raaiselmoord. (Foto: Verskaf)

Die video sluit ook aangrypende verjaardagboodskappe van De Jager se suster en vriende wat sy langer as 20 jaar geken het.

“Ons liefste Liezeltjie, sy was die een wat ons altyd lekker laat lag het,” lui ʼn boodskap. “Sy was die een wat ons vertel het van die waarde van die waarheid. Sy was vir ons so mooi voorbeeld van liefde. Ons mis haar insig. Ons mis haar lag. Ons mis haar menswees. Ons mis vir Liezeltjie.

“Liezel sal nie net nog ʼn nommer in Suid-Afrika se skokkende misdaadstatistieke van geweld teen vroue en kinders wees nie. Sy sal onthou word,” sê Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society.

Só vorder die saak

Die polisie het sedert De Jager se moord op 13 Oktober 2021 tot op hede min vordering gemaak met die saak. Action Society het al 18 keer opgevolg in die saak.

“Ons het die ondersoekbeampte aktief gelei in die strewe na geregtigheid vir Liezel. Maar in al hierdie tyd het hulle grootliks nagelaat om getuienis op te volg of terugvoer aan die familie te gee oor nuwe verwikkelinge in die saak.”

Volgens Cameron is daar ʼn persoon van belang wie se selfoon moontlik relevante inligting bevat wat saam met inligting van Liezel en haar man se selfone tot ʼn deurbraak in die saak kan lei. “Ons sal voortgaan om druk op die polisie te plaas om hul forensiese ontleding met ons te deel, veral ook die horlosie wat Liezel gedra het ten tyde van haar moord.”

Ds. Liezel de Jager (Foto: Verskaf)

Cameron sê speurders het ʼn lys vrae vir De Jager se man, Werner, saamgestel en gevra dat hy dié vrae met behulp van ʼn poligraaftoets beantwoord. Die polisie het volgens Cameron egter nooit opgevolg nadat Werner versuim het om op te daag vir die toets nie.

Cameron vertel dat daar ná die moord velmonsters onder Liezel se vingernaels gevind is, wat daarop dui dat daar een of ander vorm van stryd tussen haar en haar moordenaar was.

Ten spyte van dié inligting is nog geen inhegtenisneming gemaak nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dewald ·

Onbevoegde speurders .Met 70 plus moorde per dag gaan daar baie sulke sake op die rak bly.

OU SAAR ·

Liezel, die mooiste van blomme. Ek het nog steeds jou nr op my foon. As dinge vir my te veel raak wil ek jou bel, dan besef ek jy is van ons weg geruk. Jy wat almal se vriendin was en altyd elke liewe mens met wie jy te doen gehad het so spesiaal laat voel… Jy het nie dit verdien nie. Ek kyk elke dag na die fotos van jou saam met die seuns toe jy hulle aangeneem en voorgestel het in NG Kanoneiland. Dis my kosbaarste herrinnering van jou.

BAIE GELUK MET JOU VERJAARDAG DAAR IN DIE HEMEL.

Die Here slaap nie. Haar moordenaar sal gevang word. Hoop hulle gooi dan die sleutel van sy sel in die see en vergeet van hom.

Vanessa ·

Dis skokkend. Daar is mense wat antwoorde soek en seer het en daar word nie aandag gegee aan die saak nie. Dink as dit jou kind was. Dis onaanvaarbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.