Video en foto’s: Swart Vrydag-winskopies lei tot vertrapping

‘n Skermskoot uit ‘n video van ‘n skare wat ‘n winkel binnestroom.

Werknemers van verskeie kettingwinkels moes Vrydag bontstaan om die skares inkopiegangers te hanteer wat sedert middernag winkels binnegestroom het op soek na goeie winskopies.

Verskeie video’s en foto’s is Vrydag op sosiale media versprei van lang rye mense wat angstig wag vir winkels se deure om te open sodat hulle hul hande op daardie langverwagte aankoop teen ʼn spotgoedkoop prys kan kry. By sommige winkels het ʼn vertrapping ontstaan soos mense probeer het om eerste by die winkel se deur in te kom.

Verskeie foto’s en video’s van gretige Swart Vrydag-inkopiegangers is op sosiale media gedeel. Video’s is onder meer gedeel van ʼn skare mense wat by ʼn Game-winkel instroom nog voordat die winkel se deure om middernag behoorlik oopgemaak kon word. Op die video kan gesien word hoe die glaspanele aan die voorkant van die winkel kraak soos die skare vorentoe beur en sommige mense wat val en onder die histeriese inkopiegangers se voete beland.

Swart Vrydag, oftewel Black Friday, word al jare lank in die VSA gevier, maar het eers sedert 2015 ten volle in Suid-Afrika posgevat. Annaleigh Vallie, woordvoerder van die Mass Mart- en Walmart-groep, het gesê hulle bied al die afgelope drie jaar spesiale Swart Vrydag-aanbiedings by hul winkeltakke van Builders, Makro, Game en DionWired.

“Verbruikers kan oor die algemeen ongelooflik mededingende pryse verwag op uitgesoekte produkte wat in hoë aanvraag is,” het sy gesê. Sy het gesê Swart Vrydag-verkope is onder die hoogste op hul jaarlikse promosiekalender weens die aantreklike winskopies wat met die dag gepaardgaan. Sommige items word op dié dag tot 50% afgemerk.

“Ons berei voor soos ons normaalweg doen vir groot promosies deur seker te maak ons het personeel aan diens om te help en genoeg voorraad om aan die vraag te voorsien.”

Te oordeel na foto’s wat op sosiale media gedeel is, is veral televisies, yskaste en ander huishoudelike toestelle gunstelingaankope op Swart Vrydag, asook babadoeke, waspoeier en ander kruideniersware.

Die onderstaande video van ʼn skare inkopiegangers by ʼn Game-winkel word wyd op sosiale media versprei. Nog foto’s volg onderaan die video.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

35 Kommentare

jongste oudste gewildste
A Mac

Gierigheid laat mense vreemde dinge doen. Wonder hoeveel van vandag se vreeslike “afslag” was werklike afslag of net advertensie-foefie. En hoeveel mense sit volgende maand in sak en as na hulle “winskopies” omdat hulle nie geld vir noodsaaklikhede het nie.

Rln

Ek het nie woorde vir die barbaarse optrede nie!

Peet Schabort

Genoeg voorraad se voet. Makro by Vanderbijlpark se advertensies het ‘n hoeveelheid wat dus ‘n beperking plaas op items. Dit het ook ek gister ondervind toe die item alreeds uitverkoop was. Ek was vandag nie naby daardie winkels want ‘ekstra’ van enigiets is nie ‘n winskoop. Dit laat my dink aan die pa wat vir die kinders gesê het: ‘Julle kan soveel tjoklits eet as wat julle wil want pa het dit as ‘n winskoop gekry’.

Naomi

Ai suid afrika…niks gewoond nie

Chris Ws

Die land se ekonomie is in ‘n benarde posisie.Besighede vou een na die ander omdat die kopers publiek meer selektief koop as ooit.So die belangrikste goed in ‘n huishouding kry voorkeur bo luukshede.Geen wonder die groot ketting winkels begin nou sweet nie en moes noodgedwonge ‘n ander strategie probeer om die publiek te flous om geld te spandeer.Miskien was daar winskopies maar die winkels lag al die pad bank toe!Eks dankbaar ons bly baie ver van groot winkelsentrums af.As ek REGTIG ‘n ding nodig het ry ek en gaan koop hom, “special” of nie.Vir die res van die maand bly… Lees meer »