ʼn Tornado in Belfast, Mpumalanga, het Donderdag groot skade aangerig.
Jan de Wet (45) bly al 25 jaar lank in Belfast en het aan Maroela Media gesê hy het Donderdag net ná 17:00 ʼn vreemde geluid gehoor waarna hy na buite is en die tornado gesien het. “Daar was verwoesting. Die tornado het deur die Belfast-treinstasie beweeg. Huise is beskadig, ’n hyskraan is omgewaai en mense is in vragmotors vasgekeer weens bome wat ontwortel het.”
Volgens De Wet is sy huis sowat 200 m van waar die tornado begin het. “Dit was seker nie langer as ʼn halfminuut tot die tornado sowat 700 m verder uitgewoed het nie. Die pad van verwoesting was seker so 500 m lank. Ek kon nie glo dit het so vinnig gekom en gegaan nie.”
De Wet het gesê verskeie huise se sinkdakke het afgewaai en in sy erf te lande gekom. “Daar was vier vragmotors asook voertuie wat beskadig is. Een van die vragmotorbestuurders was in die vragmotor vasgepen en ons moes hom help verwyder. Die brandweer en ambulanse was so vyf minute later op die toneel en het hom na ʼn hospitaal vervoer.”
Volgens De Wet is daar groot skade aangerig in die gebied rondom die treinstasie. “Die pomphuise en watertenks is vernietig en ons sit sedertdien sonder water.”
ʼn Beampte verbonde aan die Emakhazeni-munisipaliteit verantwoordelik vir openbare veiligheid het die voorval aan Maroela Media bevestig. Die beampte het verdere navrae na die munisipale bestuurder se kantoor verwys. Niemand kon egter vir kommentaar bereik word nie.
Die video van die tornado is op Storm Report se Facebook-blad gelaai:
[wpvideo ZMluheAi]
- Foto: Verskaf
- Foto: Verskaf
- Foto: Verskaf
- Foto: Verskaf
- Foto: Verskaf
- Foto: Verskaf
- Foto: Verskaf
- Foto: Verskaf
- Foto: Verskaf
- Foto: Verskaf
- Foto: Verskaf
- Foto: Verskaf
- Foto: Verskaf
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
13 Kommentare
sjoe dit moes vreesaanjaend gewees het.
Dankie vir die nuus wat ons elke dag kan lees, sonder om te betaal. Dit is darm its waarna ons ouens op pensioen kan uitsien.
Vriendelike groete,
Dantjie
Nou weet ons ook wat in die land aan gaan. Dankie.
Dit maak n mens bang”” ons bly naby Belfast… kan net dink hoe erg dit vir die mense moes wees, al die skade” Sterkte aan almal in Belfast wat deur die Tornado geraak is… Met die hitte golf wat ons teesdae tref”’ is enige iets moontlik.
Jy is reg Liewe Heksie,en ons luister nie.