Video: Garsie-leerder middernag laaste keer gesien

Die leerder se liggaam is net na 08:00 naby die rugbypale gevind (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Die gr. 10-leerder van Hoërskool Garsfontein in die ooste van Pretoria wie se liggaam Dinsdagoggend op die skool se rugbyveld gevind is, se ma het haar Maandag om middernag die laaste keer lewend tuis gesien.

Ma en dogter het daarna gaan slaap en toe sy haar dogter vanoggend in haar kamer gaan soek het, was sy skoonveld. Dít volgens Matome Chiloane, LUR van onderwys in Gauteng, wat die skool besoek het kort nadat die jong meisie se liggaam ontdek is.

Matome Chiloane, LUR van onderwys in Gauteng, gesels met die adjunkhoof, Retief Smith, en ‘n lid van die beheerliggaam, Liezl Malan (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Chiloane sê kort nadat die ma haar dogter as vermis by die polisiestasie aangemeld het, het sy die nuus ontvang dat ’n liggaam op die rugbyveld gevind is. Die liggaam is as dié van die vermiste meisie geïdentifiseer. Haar naam is nog nie bekend gemaak nie.

ʼn Veiligheidswag het kort ná 08:00 naby die rugbypale op die liggaam afgekom. Paramedici is na die toneel ontbied en die jong meisie is dood verklaar.

“Ons weet nog nie wat tussen middernag en 08:00 gebeur het nie en hoop die polisie se ondersoek lewer vinnig iets op,” sê Chiloane.

“Ons kan in hierdie stadium sê die leerder het weens onnatuurlike oorsake gesterf, maar kan nog nie bevestig of daar ander partye of vuilspel betrokke was nie.”

Sekuriteitsbeamptes op die toneel waar die leerder se liggaam gevind is (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Die staat se patologiedienste was op die toneel om die liggaam van die toneel te verwyder (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

’n Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van haar dood moet bepaal.

“Ons hoop om binne 24 tot 48 uur die verslag van die nadoodse ondersoek te kry sodat dit ons rigting kan gee waarmee ons hier te doen het.”

Die polisie gaan ook ondersoek instel hoe die leerder toegang tot die skoolgrond verkry het. Die skool is omring deur ’n hoë, geëlektrifiseerde heining.

“Die polisie gaan kyk of daar moontlik kamera-beeldmateriaal is wat meer lig kan werp.”

Die onderwysdepartement gaan ook sy sielkundige en traumadiens vir leerders, onderwysers en ouers beskikbaar stel.

Van links: Liezl Malan, lid van die beheerliggaam, Matome Chiloane, LUR van onderwys in Gauteng, Retief Smith, adjunkhoof, en kapt. Anna Bain van die Garsfontein-polisiestasie (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Van links: Liezl Malan, lid van die beheerliggaam, Retief Smith, adjunkhoof, kapt. Anna Bain van die Garsfontein-polisiestasie, en Matome Chiloane, LUR van onderwys in Gauteng (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Voorvalle soos hierdie bly ’n kind lank by. Ongelukkig moet ons kinders leer om sulke voorvalle en verlies te hanteer, terwyl hulle eerder kindwees moet geniet,” sê Chiloane.

“Hierdie is een kind té veel. Ons kan nie bekostig om ons kinders te verloor nie.”

Chiloane het tydens die inligtingsessie benadruk dat die fokus op individuele leerders moet wees.

“Geestesgesondheid is ʼn groot kwessie in die samelewing. Skole moet elke leerder probeer verstaan en weet wat sy of haar uitdagings is.”

ʼn Lid van die skool se beheerliggaam, Liezl Malan, en die adjunkhoof, Retief Smith, was ook tydens die LUR se inligtingsessie teenwoordig.

Malan het namens die skool haar medelye met die leerder se vriende en familie betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.