Video: Kinders, ouma sterf in brand

Op beeldmateriaal van ’n video wat tydens die brand geneem is, kan gesien word hoe een van die dogtertjies gered word.

ʼn Tragedie het Woensdag op Delmas in Mpumalanga afgespeel toe twee kinders en hul ouma doodgebrand het, maar werknemers van ʼn nabygeleë supermark die kinders se sussies uit die brandende huis kon red.

Celso dos Santos, wat die Pick n Pay oorkant die straat besit, vertel hulle het omstreeks 13:30 rook by die huis sien uitborrel. “ʼn Mens kon dit van ver af sien. Van my personeel, wat met middagete was, het oor die heining gespring om die mense in die huis te help voor die brandweer opgedaag het,” het Dos Santos aan Maroela Media gesê.

Die brand het die ou huis in Delmas se middedorp in puin gelê. Foto: Verskaf

Otto Phadima, Thabo Sindane en Migum dos Santos kon twee meisies, Kaitlyn (5) en Elnandré (3) Scheepers, uit die vlamme red terwyl hul ma, Elize Scheepers, paniekbevange buite die huis staan en skree het: “My babas! My babas!” vertel Dos Santos.

Die drie helde, wat nie geweet het presies hoeveel mense in die huis was nie aangesien die verbouereerde ma hulle nie kon sê nie, kon nie die kinders se ouma Dot Scott of die seuns AJ (2) en Paulo (17) red nie. Al drie het doodgebrand.

Die familie het alles verloor. Foto: Verskaf

Dos Santos vertel boemelaars wat in die omgewing van die huis slaap, het ook met die reddingspoging gehelp. Op ʼn video wat van die brand geneem is, kan gesien word hoe die een, ene Thulani, een van die meisies uit die huis dra en haar aan Phadima, Pick n Pay se bestuurder, oorhandig.

Dos Santos is so beïndruk deur die haweloses se heldhaftigheid dat hy hulle ʼn week lank gratis gaan voed. Hy het ook tot laat Woensdagaand die familie met raad en daad bygestaan.

Kol. Mtsholi Bhembe, Mpumalanga-polisiewoordvoerder, het Donderdagoggend bevestig drie mense het omgekom in die brand oorkant die Willowbrooke Square-winkelsentrum in Delmas se middedorp. Hy sê die oorsaak van die brand word ondersoek, maar daar is sprake van probleme met gas in die huis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Johanna ·

Wow! Dis tragies! Innige meegevoel met die familie. Die mense wat gaan help het is HERO’S hulle almal. Dankie vir mense soos julle!

Wilma ·

Die wie hul eie lewens in gevaar gestel het jul is opreg. Strongs vi fam van oorledenes. So so sad

Gesiggie ·

Ai dit so hartseer… so jammer dat die Ouma en 2 ander kinders moes sterf…my Innige meegevoel, en so dankbaar aan almal wat gehelp het om die 2 ander kindertjies te red… kan net dink deur wat die Ma als moes gaan om te sien hoe die huis brand… en sy weet haar kinders is binne….sterkte aan die familie

chamotei ·

Ek bewe in by binneste om my ooit in te dink as ek so iets moes beleef, ek sal nooit kan staan en toesien hoe my kinders in n huis brand nie, ek sal nie op daardie stadium aan myself dink nie ek sal net in hardloop en gryp wat my lewe is (my kinders) ek sal nie kan hulpeloos wees nie. As n persoon wat met veiligheid en mense se lewens elke dag werk besef ek ook dat nie elke persoon reageer dieselfde in nood situasies nie en dat skok mens se hele liggaam kan oorneem. Daarom kan ek glad nie kritiseer nie. Ek stem dat daardie huis glad nie leefbaar lyk nie, maar dit kom ook neer op hoe baie mense in die land nie die beste hand kry nie. Hierdie storie ruk net weer my hart as n mamma oor hoe baie tragedie en swaarkry daar buite is. Mens kla soms oor dinge maar besef nie altyd hoe dankbaar mens elke dag moet wees vir wat mens het nie. Ek voel uit my hart uit jammer vir die gesin. Dis so so hartseer wraggies.

Alida ·

Ag genade tog dit is baie tragies. Kom mense ons moet help met huisvesting, begrafniskoste, kos en klere ASB.

Johan Tiny ·

Juan en Elize en Ricky,ons is so geskok ons innige simpatie met julle verlies,dink aan julle hoop ons kan binne kort by jul uit kom,weet dat God julle pyn raak sien,hy is julle vertrooster,groete julle vriende Johan en Riana

Kapenaar ·

My hart gaan uit na jou. Ek sooo jammer. Moes vreeslik wees. Here help die ma asb

My Vriendin ·

My vriendin het diebkatjie en hond wat net so erg gebrand het, gaan haal. hulle het ook nog gelewe…en uit haar eie sak die veearts betaal om hulle genadigliknte verlos van hulle pyn. dit was n tragiese dag…vir baie…

emily ·

So sad, Sterkte aan julle almal, En dankie vir julle almal wat gehelp het. In tye van nood staan ons almal saam, wens dit kon elke dag so wees.

alida ·

Dankie vir almal wat daardie arme mense bystaan. Dit is verskriklik. Die nood is hoog.

zandra ·

my ♥ is so so seer mag Jesus julle baie baie styf vashou,
Maroela Media,
Ek wil graag vra, die mensies gaan sekerlik nou baie nodig he aangesien hulle
alles verloor het om nie te praat van die kostes aan die begrafnisse ens.

is daar ‘n manier wat ons dalk kan help? al is dit met bedegoed of ‘n blikkie kos?

dankie byvoorbaat

Anja van der Merwe ·

Dagsê Zandra

Dankie vir jou navraag. Jy kan gerus die Pick n Pay skakel by 013-665-5991. Die eienaar se naam is Celso dos Santos.

Hoop jy kom reg!

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Petro ·

Mnr de Santos baie dankie vir jou hulp aan die mense. Ons bid vir die familie

Santie ·

Nou dit is mos die éintlike Suid Afrika wat ons is! Maak nie saak wat die kleur van die mense is wat in nood was nie. Wit en swart, arm en ryk het probeer help. Dit is nie wat die politieke leiers ons wil laat verstaan nie. Húlle is die mense wat haat en verdeeltheid onder ons mense saai. Ek is baie trots op al julle helde wat die mense in nood so gou moontlik te hulp gesnel het. Ek bitter jammer vir diegene wat agtergebly het. Hoe kry mens sulke verskriklike beelde ooit uit jou kop?

Poppie ·

Hoe loop die trane nou. Daardie kinders se hele lewe lê nog voor. En dan wonder ek wat het aanleiding tot die brand gegee. Dit lyk nie of daar geld in oorvloed was nie. Dalk n elektriese fout (as daar krag was) of n oop vlam om dalk kos te maak/water te kook. Dit is juis van die wat amper niks het, wat nog weggevat sal word. Is die einde naby dat ALLES so moet brand deesdae?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.