Video: Lohatla-brand woed voort

Brand by Lohatla (Foto via Sanwu/Facebook)

Die brand wat van ʼn myn na die Lohatla-weermagbasis in die Noord-Kaap versprei het, woed voort.

Genl.maj. René Mercuur van die SA Leër, het Saterdag bevestig ses soldate het hul lewens tydens die voorval verloor. “Drie persone het tweedegraadse brandwonde opgedoen en is na die naaste hospitaal vervoer.”

Volgens Mercuur sal die name van die slagoffers bekendgemaak word sodra hul naasbestaandes in kennis gestel is.

“In hierdie stadium is die fokus daarop om die brand onder beheer te bring. Die brandweer doen alles in hul vermoë om die brand te blus wat kamptoerusting en voertuie verwoes het.”

Thandi Modise, minister van verdediging en militêre veterane, genl. Rudzani Maphwanya, hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, en lt.genl. Lawrence Khulekani Mbatha, hoof van die SA Leër, betuig hul innige meegevoel met die familie, vriende en kollegas van die soldate.

Eben Anthonissen, voorsitter van omgewingsake by Agri Noord-Kaap, sê die brand het naby Kathu ontstaan op eiendomme in mynbesit voor dit na Luhatla versprei het.

“Die brand het weens perfekte omgewingstoestande vir veldbrande vinnig versprei en kon nie in bedwang gebring word nie.

Hy sê lede van die plaaslike gemeenskap, vrywilligers, brandbeskermingsverenigings, myn- en munisipale brandbestryders het tot vroeg vanoggend die brand help bestry totdat ondersteunende spanne by hulle kon oorneem.

Teen Saterdagmiddag was die brand nog nie onder beheer nie

 

Volgens Anthonissen het die provinsie sedert die begin van die brandseisoen, op 1 Junie, reeds verliese van sowat 480 000 hektaar gely weens veldbrande.

“Die verlies aan weiding is ʼn aansienlike hoeveelheid, maar die verlies aan infrastruktuur op plase laat landbouers ook met groot finansiële beperkings, veral wanneer daar veevrektes is.”

Volgens Anthonissen veroorsaak die groot verskil in die dag- en nagtemperatuur ook superhoë brandgevaar.

“Die verwoesting wat agtergelaat word ná veldbrande is enorm – nie net vir landbouers nie, maar ook vir die publiek en omliggende gemeenskappe. Dit sluit onder andere in die verlies aan weiveld wat verband hou met veevrektes en beskadigde infrastruktuur. Die sielkundige letsels het meer blywende gevolge.”

Agri Noord-Kaap staan geaffekteerde landbouers by met noodvoer vir vee ná die veldbrande. Die stigting bied ook voorkomende programme deur opleiding aan die gemeenskap en die skenk van toerusting.

Anthonissen sê Agri Noord-Kaap speel ook ʼn belangrike rol met rolspelers om veldbrande meer doeltreffend te verhoed en bestry.

“Ons gedagtes gaan uit na enigeen wat skade gely het weens veldbrande soos vernietigde eiendomme, veevrektes en familie wat geliefdes verloor het. Ons gebede gaan ook aan die vasberade brandbestryders wat hul veiligheid en welstand in gevaar stel om landbouers en inwoners in dorpe en gemeenskappe se natuurlike hulpbronne en infrastruktuur te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.