Video: ‘Ons bid vir Hougaard’ – Rassie

Derick Hougaard (Foto: www.eastertimes.co.za)

“Hy het met sy afskoppe dit vir jou as opponent moeilik gemaak.”

Só het SA Rugby se direkteur van rugby, Rassie Erasmus, Dinsdag geantwoord op ʼn vraag oor oud-Springbokrugbyspeler Derick Hougaard (40) wat tans in ʼn Pretoriase hospitaal om sy lewe veg.

Erasmus het Dinsdag tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria gesê dat hy verskeie kere teen Hougaard uitgedraf het.

“Daar was al baie kere dat ek sy afskoppe moes vang. Die eerste een was altyd in die rigting van die nommerses- of nommersewe-flank en dan het Bakkies Botha ook boonop op jou afgestorm.”

Van links: Rassie Erasmus, SA Rugby se direkteur van rugby, Siya Kolisi, Springbokkaptein, en Jacques Nienaber, Springbokafrigter (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Hougaard is in die waakeenheid van ʼn Pretoriase hospitaal nadat hy meer as ʼn week gelede bewusteloos in sy huis aangetref is. Hy het ernstige longprobleme.

Volgens Erasmus is dit hartverskeurend dat die Liefling van Loftus – wat op sy dag ʼn barshou as losskakel gespeel het – nou hulpeloos in ʼn hospitaalbed lê.

“Ek weet nie heeltemal wat fout is nie, maar ek verstaan dit is ʼn moeilike situasie. Ons hoop net sy familie is oukei. Ons bid vir hulle.”

Hougaard het die skare aan sy voete gehad toe hy op 19-jarige ouderdom in die 2002-Curriebeker-eindstryd die legendariese Naas Botha se 15 jaar oue rekord vir die meeste punte deur een speler in ʼn Curriebeker-eindstryd oortref het. Hy het 26 punte (ʼn drie, twee skepskoppe en vyf strafskoppe) aangeteken om Botha se rekord met twee punte te oortref.

Hy het in 2007 ʼn Vodacom Superrugby-rekord geëwenaar toe hy al 27 punte van die Bulls teen die Crusaders in die halfeindstryd aangeteken het. Hy het agt strafskoppe en ʼn skepdoel geskop.

Hy het in 2015 sy rugbystewels weggepak en sedert sy uittrede onder meer as ʼn skopkonsultant vir die Bulle opgetree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Perdeby ·

Ek hoop hy word gou beter, maar ek ruik ‘n rot hier, iest maak nie vir my sin nie.

E ·

Word gou beter Derek, Jou kindertjies het jou nodig. Hierdie longinfeksies het al vele vriende en kennisse in die hospitaal gehad die winter.

Wolkie ·

Daar is berugte dat hy ‘n week voor hy bewusteloos gevind is, R10 miljoen rand by sy vriend wou leen. Iets se vir my, iets is aan die gang. Dalk geldelike probleme, dalk het hy selfdood oorweeg. Ongelukkig gaan die Hospitaal waar hy nou is, nie die nodige toetse doen om te kan vastel wat in sy systeem is nie. Dit bly maar ‘n moeilike situasie vir almal wat vir hom lief is. Ek bid vir sy vinnige herstel. Die Here is in beheer.

George ·

Die “vriend” is nou nie die betroubaarste bron nie. Veral nie as jy die aantuigings op TikTok maak nie. Hospitale, sal die toetse doen, dis standaard as iemand in koma beland.

Gaitsigubib ·

Hy kan op 40 nog so baie van sy kennis en ervaring met ons deel. Hy was en is, in my opinie ( op sy dag), na Naas Botha, die beste losskokel wat hierdie land ooit gesien het. Ek het ook gehou van sy rugby kommentaar en ek was jammer toe hy dit nie meer doen nie. Ek het soveel simpatie omdat ek self finansieel klippe kou. As hy beter word sal hy kan hoor hoeveel mense vir hom bid en hom steeds hoog ag, ongeag of hy nog rugby speel of nie.

Gaitsigubib ·

As ongelowige persoon dink ek jy het jou skrywe so goed gestel as wat mens seker kon. Ek dink net die feit dat jy beweer bid help nie a.g.v n statistiese bewys, is bewys aan my dat jy geloof in die eerste plek nie verstaan nie. Mens bid immers vir God se WIL en dan kan ek mos se, “Net so min as wat ek kan se dit help, kan jy se dit help nie”. Die feit is jy lees self help boeke om jou geestesgesteldheid in orde te kry, terwyl ander die Bybel lees.

Gaitsigubib ·

Ek sien darm jy se gebed laat die mense wat bid “beter” voel. Duisende boeke is geskrywe wat gemik is op persoonlike selfverbetering (en MEDITERING), dit is presies hoe mens die Bybel (en GEBED) in jou lewe moet aanwend. Al verskil, maar tog n belangrike verskil is, terwyl jy glo in jou eie vermoens glo ons in n Almagtige God. Verder stem ek saam met baie van jou skrywe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.