Video: Rustenburg se rioolprobleem veroorsaak siektes

Die riool vloei al vir ses weke in Arendsweg (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die munisipaliteit in Rustenburg, Noordwes, het Donderdag bevestig dat ʼn private kontrakteur aangestel is om die rioolpyp tussen die kruising van Loerielaan en Arendsweg te herstel. Dit is egter nog nie duidelik wanneer die kontrakteur sy opwagting sal maak nie.

Dié pyp is ses weke gelede beskadig toe die munisipaliteit ʼn mangat – wat weens die swaar reën beskadig is – in die straat herstel het. Rou riool stroom gevolglik in Rustenburg se hoofstraat, Arendsweg, af en inwoners kla hulle word siek van die vuil water. Talle visse en voëls het ook reeds gevrek.

Die rou riool in die strate is volgens inwoners onhigiënies (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Maroela Media het vroeër berig die munisipaliteit het nie begroot om die pyp te vervang nie en moet ʼn private kontrakteur kry om die pyp te herstel. Spesiale toestemming moes verkry word om van die begroting af te wyk. Dit was hierdie proses wat gesloer en sodoende die herstelproses vertraag het.

“Dit is ʼn skande dat dié probleem ses weke lank nie aangepak is nie. Inwoners voel hulle is in die steek gelaat,” sê Abrie Rootman, ʼn VF Plus-raadslid in Rustenburg.

Woonkomplekse en sakegeboue in die hoofstraat word skynbaar die ergste deur die riool geraak.

“Nie net is die stank oorweldigend nie, dit is ook onhigiënies. Mense het reeds maagderm-simptome begin toon,” vertel Chantél Niehaus, opsigter van die Santa Monica-kompleks in Arendsweg.

Rootman vertel op plekke waar meer as een pyp gebars het, meng die rioolwater en drinkwater. Op ander plekke syfer die riool ook in die boorgatwater in.

Die rioolwater stroom boonop in die Arendskloof-kompleks se drie damme, wat die vrektes van talle voëls en visse veroorsaak. Dooie visse dryf bo-op die water en inwoners word tans belet om naby die dam te kom en vis te vang.

Volgens André van der Merwe, trustee van die Arendskloof-kompleks, het van sy huurders reeds kennis gegee. Hy is bekommerd dat nog huurders dalk die pad wil vat en dat hy dan verdere inkomsteverlies sal ly.

“Die inwoners is keelvol om in ʼn rioolplaas te woon,” vertel Van der Merwe.

JJ Esterhuizen, wat die onderhoud van die kompleks hanteer, sê inwoners moet hul huise se deure en vensters toemaak om die reuk buite te hou.

Esterhuizen en sy vrou is drie weke gelede met cholera gediagnoseer, nadat hulle met die besoedelde water in aanraking gekom het. Esterhuizen help om die lewende visse in die damme te vang en na skoon water te verskuif en ook om die dooie visse uit die water te verwyder. Van die werkers wat met die visse help, het ook siek geword.

“Ons was ʼn week lank in die bed omdat ons te swak was om op te staan,” vertel hy.

Die kompleks probeer intussen ook die besoedelde water suiwer.

“Dit bly egter ʼn geveg wat ons nie gaan wen nie, want soos ons die water probeer suiwer, vloei die riool net verder af in die damme. Ons kan nou net bid vir goeie reën om die riool bietjie uit te was.”

Esterhuizen sê selfs ná die rioolprobleem opgelos is, sal dit nog maande vat om die water in die damme ten volle te suiwer en die voël- en vislewe te rehabiliteer.

Van der Merwe woon al die afgelope 50 jaar in Rustenburg en sê dit is hartseer om te sien hoe dienslewering in die stad oor die algemeen agteruitgaan.

“Dit was eens op ʼn tyd een van die welvarendste dorpe in die provinsie, maar word nou een van die armste dorpe. Mense wil nie meer hier woon nie.”

Die Rustenburgse munisipaliteit het nie op Maroela Media se navrae gereageer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Marius ·

Die anc is gewoond aan vervalle omstandighede , want hulle ken van beter nie.
Lekker man lekker anc.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die regime se planne bly planne. Hulle kan nie meer nie.

Amelia ·

Wonder hoe sal burgermeester voel as riool by sy huis verby vlloei en hy nie bottel water kon bekostig nie maar so is die klomp wory oor niks so lank pay daar is is als regSommer dit by sy huis gaan afgooi of soentoe laat loop jis hulle is treurig vir werk en dink

Annelize ·

In Pendoringlaan, ‘n paar kilometer van Arendweg af, is dieselfse probleem. ‘n Stroompie rioolwater stroom al vir maande en maande en maande ongehinderd uit ‘n verstopte mangat DIREK in die dorpspruit in. Daar word absoluut NIKS daaraan gedoen nie. Klagtes val op dowe ore!

Eugene ·

Die minister van riool moet maar iets begin doen. Te danke aan cANCer regering.

Aai ·

Daar is geld in Rustenburg publiek vat oor maak reg en stuur rekening vir hulle die ANC lag vir julle.Julle moet self oorvat.

Nico ·

Die kan toe geskryf word aan onkundigheid van die stadsraad wat geen kennis van die riool aanleg het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.