Video’s: Dele van Wes-Kaap spoel weg ná wolkbreuk

Skermskoot van ‘n video wat deur inwoners geneem is.

Kapenaars moes Maandag byna roeibote inspan om die paaie van die Drakenstein‑munisipaliteit te navigeer nadat ʼn wolkbreuk dele van die Paarl en Wellington verspoel het. Die Mediclinic en La Rochelle Girls High School het ook deurgeloop.

Beeldmateriaal van die storm wys hoe motors onder water is en watergolwe langs winkelsentrums se ingange klots.

Stephan Landsberg, ʼn inwoner van Wellington, sê die wolkbreuk het kort voor middagete begin en daarmee saam erge winde, reën en hael gebring.

“Ons het nog nooit so iets beleef nie. Dit het soos een van daardie oorsese storms gelyk wat ʼn mens op die nuus sien. Ons het gedink die oordeelsdag is op ons.”

Volgens Landsberg het die storm sowat 45 minute geduur voordat dit eindelik bedaar het. Dit was egter genoeg tyd om erge skade aan sakepersele op albei dorpe aan te rig. Winkelsentrums en klein sake-ondernemings op die dorpe het veral deurgeloop.

Mediclinic Suider-Afrika het aan Maroela Media bevestig dat ʼn deel van die Mediclinic Paarl se intensiewesorgeenheid beskadig is weens die erge reën. Die eenheid se dak het glo ineengestort.

“Die hospitaal moes ʼn klein aantal pasiënte na ander dele van die hospitaal oorplaas weens die skade aan die intensiewesorgeenheid,” sê dr. Gerrit de Villiers, hoof‑ kliniese beampte van Mediclinic Suider-Afrika.

“Geen pasiënte is egter in die proses beseer nie.”

Volgens die hospitaal is slegs drie van sy pasiënte na ʼn ander Mediclinic-hospitaal oorgeplaas “om te verseker dat hulle die nodige behandeling ontvang”.

Die hospitaal is steeds in bedryf, terwyl die skade aan die intensiewesorgeenheid bepaal word.

La Rochelle Girls High School in Paarl. (Foto: We Are South Africans)

Foto’s wat op sosiale media geplaas is, wys ook hoe die La Rochelle Girls High School se gange oorstroom het, met die water wat byna heuphoogte is.

Riana Geldenhuys, woordvoerder van die munisipaliteit, sê munisipale spanne is ontbied om te help om ondernemings skoon te maak en puin uit paaie te verwyder.

Inwoners op albei dorpe het ook ingespring om stormwaterafvoerpype oop te maak sodat water afgevoer kon word.

“Verskeie paaie in die Paarl en Wellington is tydelik gesluit weens die vloede en verskeie woonbuurte het tans kragonderbrekings nadat die storms die kraginfrastruktuur beskadig het,” sê Geldenhuys.

“Die munisipaliteit se tegniese spanne gee aandag aan die onderbrekings en sal woonbuurte se krag so gou moontlik herstel.”

Altesaam 250 voorvalle van vloed- en stormskade is teen Maandagaand by die munisipaliteit aangemeld.

“Die munisipaliteit is gereed om inwoners te ondersteun wat deur die storms geraak is. Tydelike verblyf en ramphulp is aan al die inwoners beskikbaar,” sê sy.

“Mense wat graag items wil skenk vir inwoners wie se huise oorstroom het, kan dit by die brandweerstasie in Bergrivier‑boulevard in die Paarl afgee.”

Posted by Brandon Arendse on Monday, December 12, 2022

 

Wolkbreuk oor die hele SA

Hoewel die watervlakke in die Paarl en Wellington nou gesak het, het die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) intussen ʼn geel vlak 3-waarskuwing vir erge donderstorms vir dele van die Wes-Kaap uitgereik.

Volgens die weerdiens is ʼn groot hoeveelheid reën reeds aan die suide van die Noord-Kaap en die sentrale en westelike dele van die Wes-Kaap aangemeld.

Die weermodel van die afgelope 24 uur dui daarop dat die Noord-Kaap tot 40 mm reënval gekry het, terwyl dele van die Wes-Kaap tussen 50 mm en 60 mm reënval aangeteken het.

Die weerdiens maan dat die oostelike dele van die Wes-Kaap Dinsdag die soort reën, wind en hael kan kry wat Maandag op die Paarl en Wellington uitgesak het.

“Die moontlikheid bestaan dat groot haelkorrels en swaar reënval Dinsdag kan voorkom, wat tot kitsvloede kan lei.”

ʼn Geel vlak 4-waarskuwing vir erge reën is ook vir KwaZulu-Natal uitgereik. Die verwagte reënval is weens ʼn laedrukstelsel wat oor die noorde van die land beweeg.

Die weerdiens sê inwoners van Gauteng, die Vrystaat, Mpumalanga en die Oos-Kaap moet ook hulself staal vir erge donderstorms dié week.

“Hierdie stelsels word geassosieer met baie reënval. ʼn Beduidende hoeveelheid reën is reeds in gebiede aangemeld wat daartoe kan lei dat die grond versadig is, wat op sy beurt tot oorstromings en skade aan infrastruktuur kan lei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Alta Alleman ·

En hier steier onder die droogte. Damme is leeg in die Oos Kaap.

Johan Tredoux ·

Hoe geseënd is ons nie met al die reën nie…♥♥♥ Dit laat mens sommer hoendervleis kry om alles te sien so wegspoel.

Kobus ·

Waar is die waarseers nou ons soek reen hier in Port Elizabeth ook asseblief

Anel ·

As die stormwaterstelsels in stand gehou sou word, sal daar nie oorstromings in die stede wees nie. My beskeie mening.

Koen ·

Nou praat jy bog. As dit waar was, was daar geen skade in 1981 in Laingsburg of in 1967 se PE vloede nie. Dink Bietjie!

piet ·

Dis nie so eenvoudig nie. Geen stelsel sal ‘n natuurramp kan keer nie.

Harley Davidson ·

Dit is jammer die Wes Kaap sukkel so met water en nou is daar te veel ek hoop die damme raak vol en dat die goeie mense van die Wes Kaap nie te veel skade gely het nie.

Miskruier ·

Alweer n geval van stormwaterpype wat verstop is…… die hele land gaan nog wegspoel as gevolg hiervan.

Danie ·

Ek stem dat die ooskaap ook reen kry.Die gebied loop erg deur onder droogte.

kommentaar ·

Danie dis nie iets waaroor jy stem nie, jou beurt is jou beurt

Pieter9 ·

Ons weet skade is nie lekker nie..
Maar ons mag nie oor die reen kla nie. Volgende jaar kla mense weer oor te min, so bly stil en maak planne.

kommentaar ·

Stupid vraag. Die water beland in die bergrivier, wat is die roete wat dit dan volg, en is daar dus beduidende water oppad laer af?

Papsak ·

EK STEM AS DIE STORMWATERSTELSELS IN ORDE EN OOP GEHOU WORD SAL SULKE DINGE SOOS OORSTROMINGS NIE GEBEUR NIE WAT GEE HULLE OM NIKS

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.