Vier sterf in ongeluk buite Bloemfontein

Vier mense het hul lewe in die ongeluk verloor. Foto: ER24

Vier mense is dood en nog twee beseer toe ʼn vragmotor en ʼn kar Sondagoggend op die N1-suidwaarts, sowat 80 km suid van Bloemfontein, gebots het.

Ineke van Huyssteen, ER24-woordvoerder, sê toe hulle paramedici net ná 08:00 op die toneel aankom, het hulle gesien twee mense is uit die voertuig geslinger en nog twee het daarin vasgesit. “Ongelukkig is al vier noodlottig beseer.”

Paramedici het ook op twee mense in die vragmotor afgekom wat beseer is. Die een se beserings was gering, sê Van Huyssteen, en het vervoer na die hospitaal van die hand gewys.

“ER24 het die matig beseerde pasiënt hospitaal toe gebring vir verdere mediese sorg,” sê sy.

Die polisie was op die toneel om ondersoek na die oorsaak van die botsing in stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Roelof ·

Nee IK jys verkeerd dis mos ons oumense se skuld wat oor 70jaar nog voertuiglisensie het soos daar beweer word. Ek is 75 en daag enige man of vroulike bestuurder uit om my bestuursvernuf te toets. Ek bestuur al 59jaar is elke dag op die pad tussen groot verkeer en partykeer langafstand, en nog nooit n ongeluk gemaak nie het al baie vermy deur om opserwerend te wees, hoflikheid en om streng verkeersreëls na te kom. Sien daagliks hoe onverantwoordelik bestuurders is, steek verby oor sperstrepe verontagsaam robots en stoptekens. Alle bestuurders moet n lojaliteitskurses doen voor hy in aanmerking kom om op die paaie te mag bestuur.

IK ·

Dagsê Roelof, dus was jy 16 met verkryging van jou bestuurslisensie? Ewenwel, ek is ‘n kortkop op jou hakke met 58 jaar sonder ‘n ongeluk en 76 jaar jonk. Ek stem saam met jou oor ons sg. oues van dae wat nie op die pad hoort. Ek het verlede jaar my vernuf en hantering op Zwartkops gaan toets met ‘n BMW M3 en reken my 1min 26sek was nie te sleg teen gemiddeld 104km/h sonder om windgat te wees en heeltyd in beheer. Moet nooit jou vermoë oorskat om ‘n voertuig te kan beheer maar gaan ry op ‘n privaatpad en toets jou vermoë want jy gaan dit nodig kry soos gly op ‘n nat pad (wat met my gebeur het) dan weet jy wat om te doen. Vir die eerste keer in 57jaar het ek ‘n skielike pap band beleef maar geweet wat om te doen. In ons land is die besit van ‘n bestuurslisensie mos vanselfsprekend en nie ‘n voorreg.

Pegasus ·

IK, Roelof het gese hy bestuur al 59 jaar nie dat hy al so lank sy bestuurderslisensie het nie…..se maar net. Ek stem egter saam met albei van julle. Meeste van hierdie ongelukke word veroorsaak deur roekelose en nalatige bestuur. Mense is ongeduldig en aggressief. Dit is ‘n refleksie van die bestuurders se karakter en nie hulle ouderdomme nie. Die spoed wat sekere motors ry is verstommend……….

Antie Trok ·

Trokke op ons paaie is die rede vir baie van die ongelukke.

Ig ·

Nee Anti Trok, die probleem lê by motoriste wat ongeduldig, onbekwaam en vele wat hulle lisensies gekoop het. As daar nie trokke op ons paaie was nie het my en jou en die hele land se lewens tot stilstand gekom

HFC ·

Blykbaar het die trok bestuurder aan die slaap geraak agter die stuur.

Jeppie ·

Hi HFC. Ek is nuuskierig oor die oorsaak van die ongeluk- het jy meer inligting? Ek het ER24 7:24 gebel en ek wonder of hulle regtig eers ‘net na 8:00’ daar aangekom het want die plek van die ongeluk is ook verkeerd in die artikel. Dis 25min se ry van Bfn tot daar.

Pieter van der Dussen Senior ·

Ek word DV oormore 84 en sal dus kon saampraat – as dit nie onvanpas sou wees om dit te doen na aanleiding van vier mense se dood nie. Mag die gebeure eerder tot wysheid aanleiding gee. Doer in die jare-sestig van die vorige eeu het ‘n landdros gese wanneer jy op die pad gaan moet jy besef jy is die enigste een op die pad wat weet wat jy doen, al die ander is roekeloos en onbekwaam. Noudat ek nie meer oud word nie maar oud is, skaar ek my by al die ander en ry maar net in my omgewing waar ek elke slaggat ken. Want my Jetta is ook al amper 23, kry ook sy ouderdomskwaaltjie en wil ook rus. My vrou van 81 bly ook rustig, so ook my kinders wat ons Sondag kerktoe vat. So ken ons in ons aandskof in ‘n aftreeoord die genade van ‘n rustige oudag in afwagting van die wederkoms wat vir elkeen jonk en oud wag. Sonder die angs dat ek dalk die oorsaak mag word dat iemand anders deur my toedoen iets kan oorkom.

Jeppie ·

Sjoe, maar dis nou mooi woorde. Dankie dat u dit met ons deel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.