Vier swaar gestraf ná inbraak waartydens buurman sterf

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

Vier mans is tronkstraf opgelê in verband met ʼn huisbraak in Julie 2015 in Kempton Park waartydens ʼn man doodgeskiet is.

Phindi Louw, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Bheki Nkosi (35), Clement Thato Moseou (42), Lebogang Mndebele en Paul Mayathela (23) is Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg gevonnis op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Nkosi is tot lewenslange tronkstraf gevonnis terwyl Moseou tot 25 jaar tronkstraf en Mndebele en Mayathela tot 20 jaar tronkstraf elk gevonnis is.

Fredrick Botha en sy twee huishulpe is op 11 Julie 2015 in Botha se huis in Kempton Park deur die vier mans oorval. Botha is aangerand en die mans het hom en die huishulpe gedwing om op die vloer te lê. Drie van die mans het hierna sowat R250 000 se huishoudelike goedere bymekaargemaak terwyl die vierde buite in Botha se vrou se motor op hulle gewag het.

Martinus Bann, Botha se buurman, is in die maag geskiet toe hy een van die vier in Botha se vrou se motor genader het. Die veroordeeldes het hierna te voet gevlug en twee van hulle is naby die toneel deur oplettende lede van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum in hegtenis geneem. Beamptes van die Ekurhuleni-metropolisie kon daarin slaag om die ander twee kort daarna in hegtenis te neem.

Bann het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Die NVG het die vonnisse verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Stephne Koekemoer ·

Wonderlik! Fantasties! Dit was ‘n dag wat Kempton saamgestaan het. Nou kan die tannie hopenlik vrede he. RIV oom Marthiens!

KarooKlong ·

Vonnisse ewenaar nie Mnr. Bann se reg om te lewe nie maar klink vir eers nie te sleg nie.

Chrisjan ·

Hulle sal binne 10jaar weer terug wees op straat om landsburgers te terroriseer!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.