Vierde tragedie tref gesin toe ma sterf

Laetitia Swanepoel (35) het onlangs haar stryd teen kanker verloor. Haar gunstelingkleur was geel. (Foto: Verskaf)

ʼn Vierde groot tragedie het ʼn jong gesin onlangs getref toe Laetitia Swanepoel (35), ʼn eggenoot en ma van twee, haar stryd teen kanker verloor het.

Swanepoel is in 2017 met borskanker gediagnoseer en het ʼn mastektomie en chemoterapie ondergaan.

Die gesin was onder die indruk dat sy in remissie is toe sy weer in 2020 siek geword het.

Maroela Media het vroeër berig dat Swanepoel en haar man, Stephan, se seuntjie, Gustav (2), in 2016 verdrink het. Die egpaar het ook twee ander kinders, Tayla (6) en Stephan (12).

ʼn Jaar ná Gustav se dood het die kankerskok die gesin getref en in 2018 het hul huis in Monumentpark in Pretoria afgebrand. Die gesin was ten tyde van die voorval van Mosambiek na Pretoria onderweg en het by Swanepoel se ouers in Warmbad oornag.

Niemand sou kon raai dat nóg ʼn groot tragedie die gesin skaars drie jaar later in rou sou dompel nie.

Stephan en Laetitia en hul kinders, Stephan en Tayla (Foto: Verskaf)

Stephan sê sy vrou het in November 2020 van pyne in haar heup begin kla. Dokters het gesê dis ʼn verskuifde werwel, wat waarskynlik deur die chemoterapie veroorsaak is.

Skoknuus dat kanker terug is

“Sy het fisioterapie ontvang, maar van daar af was dit net afdraande.

“Ons is terug dokter toe en Laetitia is vir skanderings gestuur. Dis toe dat hulle ons laat weet het dis die kanker wat terug is. Dit was in haar rugmurg, werwels, heup en femur.”

Hoewel Swanepoel verbete teen haar siekte geveg het, het die kanker later na haar brein versprei. Sy het haar stryd op 28 September verlede jaar verloor, ʼn dag voor haar en Stephan se negende huweliksherdenking.

Sy is in die begraafplaas op haar gesin se plaas op die Uitkykpad sowat 15 km buite Nelspruit begrawe, waar sy ook in die maande voor haar dood gewoon het. Hier het haar ma, Lyndie Mynhardt, en jonger suster, Aletia Cloete, om die beurt na haar omgesien.

Laetitia Swanepoel. (Foto: Verskaf)

Swanepoel het op dié plaas grootgeword, wat al sedert 1914 in die familie se besit is.

“Dis waar sy graag ter ruste gelê wou word,” het Stephan gesê.

Hy het gedurende hierdie tyd steeds in Monumentpark gewoon en gewerk, en gereeld tussen Nelspruit en Pretoria gependel.

Die kinders woon tans voltyds by Stephan se ouers in Nelspruit, waarheen hy ook binne die volgende paar weke sal verhuis.

“Die ondersteuning van ons familie dra ons en trek ons deur.”

‘Sy was ʼn inspirasie’

Lyndie sê haar dogter was altyd positief, ondanks haar omstandighede.

Laetitita Swanepoel by haar ma, Lyndie Mynhardt. (Foto: Verskaf)

“Sy was vir ons almal ʼn inspirasie, tot op die einde.

“Sy was altyd positief en het altyd geglimlag, al het dit swaar gegaan. Dit was ʼn bitter moeilike tyd, maar tog is ek dankbaar dat ek die voorreg gehad het om die laaste entjie van haar paadjie saam met haar te stap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Christine ·

Baie tragies. Mens sal nooit verstaan hoekom die dinge gebeur nie. Ek hoop en vertrou dat dit sal goed gaan met die gesin en hulle vrede sal ondervind.

Pannies ·

Wanneer ek sulke goed hoor besef ek hoeveel ons het om oor dankbaar te wees elke dag.
Ons is so geneig om die goeie dinge in ons lewe mis te kyk en net dit wat verkeerd loop raak te sien.
Sterkte aan die familie.

Waarnemer ·

Sterkte vir die familie,het self hierdie paadjie geloop….my oorlede vrou was in 2014 gediagnoseer met borskanker.Operasie,chemo en bestraling….2020 die stryd verloor.Kanker deur haar heke liggaam getrek…tot in haar brein….Ek was bevoorreg om gedurende die covid pandemie by haar in ICU te wees
toe Jesus haar kom haal het.
My vraag is net….waarom kan alle ander siektes genees maar kanker nie?

Swerwer ·

Só só hartseer. Innige simpatie, meegevoel en sterkte aan haar familie.

Marcello ·

Sterkte aan haar familie en vriende, My raad aan hul vader/grootouers, neem hulle vir terapie om dit te verwerk, dit lyk vir mense/ouers of kinders dit verwerk, maar ek praat van ondervinding, ek het my Pa verloor op 11 jarige ouderdom, Alamal het aangeneem ek het dit verwerk,…. maar 40 jaar later het ek ‘n senuwee-ineenstorting gehad, en toe het ek eers agtergekom ek het dit nooit verwerk nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.