Viering der vieringe: Nóg momentum vir Afrikaans 100-projek

René Arendse, nasionale hulpkoördineerder van Afrikaans 100 en Giep van Zyl, nasionale koördineerder van Afrikaans 100 (Foto: Maroela Media)

Die oorsigkomitee van die projek om Afrikaans se honderd jaar as amptelike taal in 2025 te vier, het Donderdag die slagspreuk “EnSOvoorts” bekendgemaak.

Daar is verlede jaar reeds aangekondig dat Afrikaanse organisasies, instansies, maatskappye, skole of enigiemand wat Afrikaans as inheemse taal koester, genooi word om betrokke te raak by Afrikaans 100 se feesvieringe.

Die oorsigkomitee, onder leiding van voorsitter Theuns Eloff en ondervoorsitter Michael Jonas, is vroeër vanjaar gevestig. Ander persone op die komitee is Astrid de Vos, Diana Ferrus, Werner Human, Susan Lombaard, Karen Meiring, Sinki Mlambo, Hendrik Theys, Merlyn van der Rheede en Heindrich Wyngaard met Conrad Steenkamp en Ria Olivier as die sekretariaat.

Giep van Zyl, voormalige hoof van Aardklop, is as die nasionale koördineerder aangestel. René Arendse, ʼn bekende motiveringspreker en opleier van veral vroue-entrepreneurs, is as nasionale adjunkkoördineerder aangestel.

Eloff het gesê Van Zyl en Arendse is ná ʼn sterk gestruktureerde proses aangestel nadat ongeveer 70 aansoeke vir die pos ontvang is.

Van Zyl sê dit is vir hom ʼn “ongelooflike voorreg” om dié proses te koördineer. “Dit is iets wat maar net een keer in 100 jaar gebeur. Ons het nie ʼn kans om dit volgende keer reg te maak nie.” Hy is dankbaar dat daar reeds ʼn sterk netwerk beskikbaar is waarby hy en Arendse kan inhaak.

“Ons wil graag reg laat geskied aan die geskiedenis wat so ver terugstrek. Honderd jaar is ʼn kapstok, maar daar is baie mylpale om te vier. Ons doelwit is om seker te maak dat elke Afrikaanssprekende betrokke word by die feesvieringe en dat elkeen ʼn geleentheid kry om deel te wees van die geleentheid.”

Arendse sê taal het, toe sy nog klein was, vir haar ʼn gemeenskap gevorm het waar sy behoort. Dit het vir haar samehorigheid en trots, vreugde en genot gebring.

Sy sê hierdie projek is vir haar ʼn “terugkom huis toe”. “Dit het vir my groot sentimentele waarde en ek glo stellig dat ons vandag staan voor ʼn nuwe renaissance van Afrikaans – van kombuistaal tot universiteitstaal; kyk hoe ver het sy gekom. Dis ʼn trots wat ons elkeen kan hê, mag hê, en behoort te hê. Mag ons nou begin skryf aan die volgende 100 jaar.”

Karen Meiring het verduidelik die slagspreuk “EnSOvoorts” bepaal dat daar voortgebou moet word op dié dinge wat reeds reg gedoen word om die taal te vier. Dat die goeie (en die lekker) behou moet word.

Volgens Arendse sal die slagspreuk “EnSOvoorts” visie skep en plek maak vir die jeug en gemeenskappe om buite die boks te dink.

Tot en met 8 Mei 2025, wanneer die vieringe ʼn hoogtepunt bereik met ʼn geleentheid by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl, gaan daar Afrikaans geleef, gedeel en gevier word, sê die oorsigkomitee. ʼn Wonderskone, kreatiewe, veeldoelige, wydstrekkende taal soos Afrikaans verdien immers ʼn viering der vieringe – vir almal wat haar praat en leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.