Virseker skenk R1 miljoen aan Solidariteit Beweging se noodfonds 

Solidariteit Beweging Noodfonds. (Foto: Verskaf)

Die Virseker Trust het aangekondig dat hy R1 miljoen aan die Solidariteit Beweging se Noodfonds gaan skenk. Die fonds se doel is om hoofsaaklik kinders en bejaardes met noodvoeding te help. Dit moet ook Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) bystaan om te sorg dat leerders op Wolkskool, die SOS se e-leerstelsel, voortgesette onderrig tydens die Covid-19-krisis kry.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die skenking verwelkom. “Ons is baie bekommerd oor die maatskaplike krisis wat as gevolg van die koronakrisis gaan ontstaan. Dit is veral ouer mense en kinders wat dikwels die swaarste getref word. Talle mense se inkomste is oornag verminder. Ons doen ʼn beroep op groot en kleiner sakeondernemings om te help. Vir dié ondernemings wat reeds help, soos die Virseker Trust, sê ons baie dankie,” het Buys gesê.

Volgens Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, volg ʼn maatskaplike krisis op ʼn ekonomiese krisis. Helpende Hand het met sy Kosblikkieprojek reeds voor die Covid-19-krisis 8 000 kleuters per dag met noodvoeding gehelp. Hierdie getal neem nou daagliks toe, en Helpende Hand word oorval met versoeke vir hulp aan kwesbare groepe. “Net in Maart het ons reeds R753 739 aan noodprojekte bestee, en daarom is die versterking van die noodfonds noodsaaklik.”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Helpende Hand het landswyd skenkingspunte, die sogenaamde Josef-silo’s, vir niebederfbare kos, bepaal. Duisende mense en spesifiek kinders wat voorheen hulp uit Helpende Hand se voedingsprojek gekry het, sal hierby baat. Hierdie hulp word deur Helpende Hand se landswye netwerk van kantore en takke verleen.

Die helfte van die Virseker Trust se skenking gaan vir maatskaplike hulp en spesifiek die Josef-silo’s. Die ander helfte gaan vir die verdere ontwikkeling van Wolkskool om te verseker dat kinders nie met hul skoolwerk agter raak nie. Altesaam 53 000 leerlinge het reeds vir Wolkskool in die Covid-19-krisistyd geregistreer.

Die Solidariteit Beweging gaan op 7 April ʼn reuse-Helpmekaardag hou ten bate van Solidariteit se noodfonds.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die gemeenskap uitgedaag om minstens vir elke rand wat Virseker gee ook ʼn rand te gee. “Ons mag nie toelaat dat ons kwesbare groepe en kinders tydens die krisis swaarkry nie. Ons moet die honger na kos en hulp en die honger na kennis stil,” het Hermann gesê.

Op die Helpmekaardag gaan daar ook ʼn beroep op die gemeenskap gedoen word om klein- en mediumsakeondernmings te help. Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, lê die beste hulp aan sakeondernemings in die koopkrag van verbruikers. Duisende sakeondernemings het reeds by AfriForum se sakenetwerk by afriforumnetwerk.co.za geregistreer. Ondernemings word aangemoedig om by die netwerk te registreer sodat mense aangemoedig kan word om by hulle te koop.

Skenkings kan by www.helpendehand.co.za, www.afriforum.co.za of by www.krisisfonds.co.za gemaak word.

Die Solidariteit Beweging se noodfonds word deur Solidariteit Helpende Hand se ouditeure geoudit en ‘n spesiale oorsigkomitee sal sorg dra dat die geld reg aangewend word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Michael 1 ·

Die ekonomie gaan nooit weer dieselfde wees nie, en weens die anc se rasistiese beleid oor hulp aan klein besighede wat nie voldoen aan hulle diskriminernde wette nie sal ons moet hierdie besighede en organisasies soos Afriforum en Solidariteit meer begin ondersteun, dit gaan uiters noodsaaklik wees vir ons behoud na Covid 19.

Isabella ·

As meer organisasies gan besef hul geld is in die regte hande met mense wat ni rassisties is en dt op di REGTE wyse gan gebruik

ElizeK ·

Baie danke Virseker.
Ek weet net nie hoekom regering hulle hulpfonds aan slegs “our people” ook Soldariteit moes noem nie.
Is nogal verwarend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.