Visserman se lyk in dam gevind

Die soek-en reddingspan (Foto: IPSS Medical Rescue/Facebook)

Die liggaam van ʼn 38-jarige visserman is Sondag in die Dudley Pringle-dam in Tongaat in KwaZulu-Natal gevind. Hy het glo gaan hengel, maar spoorloos verdwyn.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is Saterdag omstreeks 09:25 saam met die polisie en metropolisie se soek-en-reddingseenheid, die polisie se honde-eenheid, asook die IPSS-nooddienste na die dam ontbied nadat die visserman as vermis aangemeld is.

Volgens Brendon Power, ʼn stuurman van NSRI, is twee IPSS-reddingsvaartuie saam met duikers van die polisie en metropolisie, asook ʼn beampte van die honde-eenheid en sy een hond, Dante, op die dam gestuur.

Dante en Ghost, die polisiehonde, wat gehelp het om die liggaam op te spoor (Foto: IPSS Medical Rescue/Facebook)

“Ná ʼn uitgebreide soektog op die dam was daar steeds geen teken van die visserman nie,” sê Power.

Die soektog is daarna eers vir die Saterdag opgeskort.

Die IPSS-nooddienste het in ’n plasing op Facebook gesê die hiasint-onkruid het so dig op die water gelê dat dit hulle soektog ʼn bietjie gepootjie het. “Die reddingspanne moes ʼn weg deur dié onkruid met die vaartuie vind,” lui die plasing.

Op die Sondag is dieselfde reddingspan as die vorige dag op die water uitgestuur, maar dié keer vergesel deur ’n NSRI-reddingsvaartuig en nóg ʼn hond van die honde-eenheid, genaamd Ghost.

Die soek-en reddingspan (Foto: IPSS Medical Rescue/Facebook)

“Tydens die soekoperasie is die liggaam van die visserman, met behulp van die twee polisiehonde, Dante en Ghost, onder die water aangetref. Hy was reeds dood,” sê Power.

Die liggaam is gestuur vir ʼn nadoodse ondersoek. Die polisie ondersoek tans die saak.

Die NSRI het hulle medelye met die visserman se familie en vriende betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.