‘Vlaag misdaad’ ná gevangenes vrygelaat word, sê DA

Argieffoto: rnw.nl

Meer as 16 000 gevangenes is verlede jaar in ʼn spesiale kwytskeldingsprogram (SRP) deur pres. Cyril Ramaphosa vroeër vrygelaat om die “oorbevolking in tronke te verminder” – en talle van hulle het reeds weer oortree.

Maroela Media het vroeër berig die spesiale kwytskelding is in Augustus verlede jaar aangekondig en het op 2 November geëindig.

Janho Engelbrecht, die DA se woordvoerder oor korrektiewe dienste, sê die proses was in werklikheid niks anders nie as ʼn politieke guns om oudpres. Jacob Zuma te bevry. Slegs enkele ure ná Zuma weer tronk toe gestuur is om die res van sy vonnis vir minagting van die hof uit te dien, is hy kragtens die spesiale kwytskeldingsproses vrygelaat.

“Die politieke besluit om Zuma vry te laat – ʼn besluit waaroor die ANC-regering waarskynlik nou spyt is – hou angswekkende gevolge vir mense landwyd in.

“In Januarie het die DA berig dat 97 oortreders wat ingevolge die proses vrygelaat is, slegs twee maande ná hul vrylating weer die wet oortree het. Die getal staan nou op 433,” sê Engelbrecht.

Hy sê die DA kan nou die misdade openbaar wat deur die meer as 16 000 gevangenes gepleeg is wat hulle in die eerste plek agter tralies laat beland het.

“Dit is skrikwekkend om te dink die ANC-regering het toegelaat dat hierdie gewelddadige en ongerehabiliteerde misdadigers vrygelaat word.”

Die 16 074 gevangenes wat vrygelaat is, is aan die volgende misdrywe skuldig bevind en gevonnis:

  • 396 vir roof
  • 17 vir ontvoering
  • drie vir verkragting en seksuele misdrywe
  • 402 vir aanranding met die doel om ernstig te beseer
  • 3 883 vir diefstal
  • 3 574 vir immigrasieverwante misdrywe
  • 2 632 vir huisbraak
  • 278 vir strafbare manslag
  • 20 vir brandstigting
  • drie vir gesinsgeweld

Engelbrecht sê dit blyk dat die ANC ook 15 mense wat aan korrupsie skuldig bevind is, vrygelaat het.

“Dit is skokkend dat diegene wat vir verkragting, poging tot verkragting en seksuele aanranding agter tralies was, in die minister van korrektiewe dienste se eie woorde ‘verkeerdelik vrygelaat is’.

“Dit is selfs meer kommerwekkend dat dit nie duidelik is of hierdie oortreders weer agter tralies is en of hulle in ons strate rondloop en ons gemeenskappe weer teister nie.”

Daar is ook geen aanduiding of die slagoffers van hierdie misdade oor die vrylating van die skuldiges ingelig is nie, sê Engelbrecht.

“Die minister het geen inligting verskaf oor hoe hierdie misdadigers in die eerste plek ‘per ongeluk’ vrygelaat kon word nie.

“Honderde misdadigers dwaal nou weer in ons strate rond en pleeg gruwelike misdade en dít weens ʼn politieke guns aan Zuma.”

Die DA doen nou ʼn beroep op Ramaphosa om die land vir die besluit om verskoning te vra.

“En veral aan elke slagoffer van hierdie misdade en vir die vrylating van seksmisdadigers in die breë gemeenskap.

“Hy moet ook aandui of hierdie misdadigers weer agter tralies is of nie,” sê Engelbrecht.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

George ·

Jaaaa ou Cyril, oorbevolking van tronke se baie van hoe jou land gehardloop word, want in SA is die minderheid criminals in tronke.

Christine ·

Bou asb tronke hierdie is te min
Dink net hoeveel werkskepping gaan daar wees

Anel ·

En dan gaan hulle mos nou nog vir hom stem ook! En die spul onwettiges!!!

Wendy ·

Wat my klein brein ni kan verstaan ni is di Zuma sage- kan ni tronk toe agv siekte nou so reg soos n roer om v president te staan ?? Wat v al sy belasting skuld SARS? Spaar my om weer in sy gesig vas te moet kyk

Roedolf Johannes ·

Wat dink die DA gaan dit enige doel dien om die land om verskoning te vra.Kry die klomp gemors weer waar hulle hoort,in die tronk.Die DA moet ophou om sulke

Roedolf Johannes ·

Wat dink die DA gaan dit enige doel dien om die land om verskoning te vra.Kry die klomp gemors weer waar hulle hoort,in die tronk.

Papsak ·

Ja kyk weer prag voorbeeld van hoe Ramaphosa en sy regering op tree laat sommer die goed vry net om weer te gaan moor en verkrag maar daar word weer vir hulle gestem hoe pateties kan jy kry mmm!!!!!!

Martie ·

Die tronke is oorvol omdat misdadigers nie behoorlik gestraf word nie. En die sake word vir jare uitgerek as gevolg van luiheid. Straf hom behoorlik en laat hom werk in die tronk dan sal hy 2 keer dink voor hy kwaaddoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.