Vlakfontein-moorde: NVG trek aanklagte terug

Fita Khupe (Foto: ANA)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Vrydag die strafregtelike aanklagte teen Fita Khupe, die man wat beskuldig is van die moord op sewe lede van die Khoza-familie, in die Lenasia-streekhof teruggetrek.

Die 61-jarige Khupe is saam met Ernest Mabaso (27) aangekla van die moorde nadat die polisie in Oktober 2018 op die liggame van vier kinders en drie volwassenes by hul huis in Vlakfontein in die suide van Johannesburg afgekom het.

Mabaso en Khupe het albei tereg gestaan op sewe aanklagte van moord en diefstal. Drie klagte van verkragting het Mabaso ook in die gesig gestaar, maar hy is intussen oorlede.

Volgens Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die NVG, het die hof bevind Mabaso se dood verswak die staat se saak en moes hy noodgedwonge ʼn ander strategie probeer volg.

“Hierdie pogings het geen vrugte afgewerp nie en die staat het tot die gevolgtrekking gekom dat daar geen redelike vooruitsigte van suksesvolle vervolging is nie. Vandaar die besluit om die aanklagte teen Khupe te laat vaar,” het Mjonondwane in ʼn verklaring gesê.

Enerst Mabaso en Fifita Khupe tydens ‘n vorige verskyning in die landdroshof in Atteridgeville. Foto: ANA

Die NVG sê sy besluit berus op die feit dat daar geen bewyse is nie, behalwe Mabaso se bekentenis wat Khupe aan die moorde verbind. Dit kan ná sy dood nie meer gebruik word nie.

Mabaso het vroeër aan die hof gesê Khupe het hom gedwing om die moorde te pleeg. Hy het aangevoer hy het dit gedoen uit vrees vir sy lewe.

Khupe se DNS is nie op die toneel gevind nie en daar was geen bewyse dat hy by die moorde betrokke was óf op die moordtoneel was nie. Selfoonrekords het ook geen bewyse opgelewer nie.

Die NVG het die saak na ʼn landdros verwys wat nou die omstandighede rondom die Khoza-familie se dood moet bepaal. Die NVG het reeds met die slagoffers se familie vergader om sy besluit te verduidelik.

Maroela Media het vroeër berig bure het op 29 Oktober vanjaar by die polisie oor ʼn onaangename reuk gekla wat van die Khoza-familie se huis in Vlakfontein gekom het. Nadat beamptes ʼn deur oopgebreek het, het hulle op gru-ontdekking gemaak. Sewe liggame is onder hopies sand in die huis en in ʼn buitekamer aangetref. Daar was bloedspatsels teen die mure.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ongeloof ·

So massa moordenaars mag maar vry rond loop, solank jy net nie diewe wil skrikmaak nie, want dan BLY jy in die tronk

Lana ·

Nog ‘n bewys van hoe pateties ons regstelsel is.
Feit is dat daar 7 mense vermoor is.
Polisie het wel na hul ondersoek 2 mense voor die hof gebring.
Wat gaan aan met die regstelsel dat hulle nie kan aangaan met die vervolging van dié persoon wat nog lewe?
Wat hulle nou doen is omaanvaarbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.