Vlieënier glo siek voor ongeluk

Skrywer: Narda Vermaak

Siem Venter is oorlede toe sy vliegtuig naby ‘n vakansieoord neergestort het. (Foto: Verskaf)

Die vlieënier van die C182 Cessna wat gister dood is toe sy vliegtuig langs die Swadini-ontspanningsoord suidwes van Hoedspruit neergestort het, is geïdentifiseer as Siem Venter (64). Na wat verneem word, het Venter kort voor die ongeluk aan lugverkeerbeheer gekommunikeer dat hy siek voel.

Maroela Media het vroeër berig die vliegtuig het geval in ʼn digbebosde gebied naby die Swadini-ontspanningsoord langs die Blyderivier in Mpumalanga.

Volgens Deon Broekman van Rapid Response-brandweer op Lydenburg was Venter met die Cessna op pad van sy tuisdorp, Tzaneen, na Mbombela toe die ongeluk plaasgevind het.

Foto’s van die ongelukstoneel wys dat die wrakstukke van die Cessna verspreid teen die hang van die bergreeks gelê het.

Venter was alleen in die vliegtuig toe die voorval plaasgevind het. Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.

Maroela Media het egter vertroulik van ʼn bron in die lugvaartbedryf verneem dat kommunikasie tussen Venter en lugverkeerbeheer daarop dui dat Venter kort voor die ongeluk aangedui het dat hy siek voel. Volgens ʼn ooggetuie by die oord het die vliegtuig reguit in die berg vasgevlieg.

Die vliegtuigwrak ná die ongeluk waarin Siem Venter oorlede is. (Foto: Verskaf)

Burgerlugvaartowerheid (BLO) het bevestig dat die oorsaak van die noodlottige ramp ondersoek word.

Die hulp van die SuidAfrikaanse Lugmag (SALM) is gister ingeroep om met behulp van ʼn Oryx-helikopter en mediese personeel toegang tot die wrak te bekom.

Boodskappe van medelye het gister op sosiale media ingestroom nadat nuus van Venter se dood sy kollegas bereik het.

Die Letaba-brandbestrydersvereniging, waarvan Venter 15 jaar lank ʼn lid was, het op sy Facebook-blad geskryf: “Vir 15 jaar het ons saamgewerk, saam geskerts en saam vure bestry. Dit was ʼn plesier om te werk met ʼn vlieënier wat die omgewing, die weer, wind en landskap so goed geken het. Dit was ʼn voorreg om iemand te ken wat soveel grappe kon maak, en iedere laaste een was snaaks. Bravo 1, jy sal baie gemis word.”

Venter word oorleef deur sy vrou, Martie, en seun, Kobus. Die gesin kon nie bereik word vir kommentaar oor die voorval nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Agge nee ·

Oom Siem, jy was ‘n legende, ‘n Meester ‘spotter pilot’ ervaring bo verdenking, Jy sal baie gemis word in Tzaneen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.