Vlieënier vind berusting ná verslag wys heli is afgeskiet

Joshua Cilliers (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (Sacaa) het bevind dat die helikopterongeluk in die Oos-Kaap wat in 2018 die lewe van ʼn veearts geëis en ʼn vlieënier in ʼn kritieke toestand gelaat het, deur ʼn derde party veroorsaak is. Die helikopter is destyds afgeskiet, toon Sacaa se verslag meer as ʼn jaar en ʼn half ná die voorval.

Maroela Media het vroeër berig die vlieënier, Joshua Cilliers (29), en George Frederik Snyman, ʼn veearts van Port Elizabeth, was in Augustus 2018 in ’n helikopter besig om met wild te werk toe die tuig in die Sterkstroom-omgewing neergestort het. Snyman is op die toneel dood en Cilliers is met kritieke beserings na ʼn hospitaal gehaas. Cilliers is eers vier maande ná die ongeluk uit ʼn hospitaal ontslaan en ontvang nou nog rehabilitasie. Nou, byna twee jaar later, kan Cilliers en sy gesin eindelik berusting vind in die wete dat die ongeluk nie sý skuld was nie.

Luidens die verslag het ʼn projektiel of koeël destyds een van die helikopter se lemme getref, wat veroorsaak het dat die helikopter neergestort het.

“Die ongeluk kan nie aan die vlieënier, die helikopter of die omgewing toegeskryf word nie, maar aan die optrede van ʼn derde party, ʼn persoon op die grond, wat ʼn wapen of geweer op die helikopter afgevuur het,” lui die verslag. Die saak sal nou na die polisie verwys word.

Joshua en Nicole Cilliers (Foto: Verskaf)

Dié bevinding is ʼn verligting vir Cilliers en sy familie wat eindelik berusting kan vind dat dit nie hý is wat vir die ongeluk verantwoordelik was nie. “Ons is net dankbaar dat dit nie Joshua skuld was nie, maar ons het nou baie meer vrae as voorheen,” vertel sy vrou, Nicole, Donderdag aan Maroela Media.

Cilliers is destyds in ’n Oos-Londense hospitaal met bloeding op die brein, ’n gebreekte arm en longbeserings opgeneem, waarna hy na die Mediclinic Muelmed in Pretoria oorgeplaas is.

Cilliers vertel nou dat dit onder die omstandighede goed gaan met hom. Hoewel hy van balans af is, kan hy weer loop. Hy is egter nog nie daartoe in staat om te werk nie.

Die egpaar vertel dat dit ʼn moeilike herstelpad is om te stap. “Ons is net dankbaar hy herstel. Die Here was vir ons goed. As dit nie vir Hom was nie…,” vertel ʼn emosionele Nicole.

Cilliers het sy medelye met Snyman se gesin uitgespreek. Die egpaar bedank vriende en familie vir hul ondersteuning en gebede sedert die ongeluk.

Lees alle vorige berigte oor Joshua Cilliers en George Frederik Snyman op Maroela Media hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Michael 1 ·

Wie doen so iets,dit is duidelike bewys dat daar geen vrees meer is vir God nie ek sal nooit so iets doen nie nie omrede ek bang is die polisie vang my nie maar omrede ek nie in die hel wil brand nie.

Scalla ·

Was daar nie dalk onwettige stropers of pouchers ook teenwoordig en was hulle bang hul word opgemerk uit die lug, hoe gaan hul opgespoor word met onwettige vuurwapens, lewens is nikswerd, tragies.

Gawie ·

Wonder of dit dalk ‘n wildstroper was wat gedink het hulle soek na hom?

Anel ·

En die moordenaar loop vry rond. Daar gaan nie eens moeite gedoen word om ‘n ondersoek verder te doen nie.

Fedup ·

What kind of person can do something like this? Such a shame if that one cannot get caught.

Leon ·

Daardie skieter is lankaal weg, van sy geweer ontslae geraak en hulle sal hom nooit vind nie. Weer ‘n perfekte misdaad in Suid Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.