Vliegtuigbrandstof direk vanaf kus na OR Tambo gelewer

Argieffoto van die OR Tambo-lughawe. (Foto: Unsplash/Red Charlie)

Transnet Pipelines is verheug nadat hy vir die eerste keer óóit vliegtuigbrandstof direk vanaf Durban tot by die Internasionale Lughawe OR Tambo in Kempton Park kon aflewer.

Dit is die eerste keer ooit dat vliegtuigbrandstof geheel en al vanaf die kus deur Transnet se pypleidingstelsel tot by die lughawe gevloei het.

Dit is danksy opgaartenks wat in Jameson Park in Nigel, meer as 60 km van die lughawe, opgerig is juis om vliegtuigbrandstof te ontvang. ’n Bestaande pypleiding tussen Alrode in Johannesburg en die lughawe is ook ingespan om die vliegtuigbrandstof na die lughawe te lei.

Transnet het voor dié mylpaal vliegtuigbrandstof vanaf Total se Natref-raffinadery in Sasolburg in die Vrystaat na OR Tambo vervoer.

Saret Knoetze, woordvoerder van Transnet, sê hierdie alternatiewe roete sal nou gebruik word terwyl Natref beplande instandhouding ondergaan. Die roete sal ook aanvullend tot Transnet se gewone toevoer van Natref aan sy kliënte gebruik word.

Knoetze sê voorts die onlangse suksesvolle aflewering van vliegtuigbrandstof dui op Transnet Pipelines se vermoëns om vliegtuigbrandstof via sy pypleidingstelsel vanaf die kus by OR Tambo af te lewer.

Dié nuus volg dae nadat die Britse brandstofreus BP besluit het om al sy lugvaartbedrywighede in Suid-Afrika op te skort, waaronder die verskaffing van brandstof aan vliegtuie by plaaslike en internasionale lughawens in die land.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.