Vloedtoestande duur voort in Krugerwildtuin

Die Biyamithi-kamp (Foto: SANParks – Kruger National Park/Facebook)

Verskeie paaie in die Nasionale Krugerwildtuin was teen Woensdag steeds vir die publiek gesluit terwyl vloedtoestande in dié gebied voortduur.

Die S3-grondpad van Phabeni tot by Pretoriuskop in die wildtuin is egter weer oop. Besoekers kan dié pad as ʼn noodroete tussen Skukuza en Malelane gebruik.

Die park het besoekers opnuut versoek om nie self enige versperrings op geslote paaie te verwyder nie.

“Die paaie is vir baie goeie redes toegemaak terwyl vloedtoestande voortduur,” het die park Woensdagmiddag in ʼn verklaring gesê.

“Tegniese spanne en wildbewaarders moes ʼn besoeker red wat waarskuwings geïgnoreer en versperrings verwyder het. Hierdie soort reddingspogings belemmer die tyd wat nodig is om aan beskadigde strukture te werk waarop die wildtuin staatmaak.”

Besoekers word ook daaraan herinner om nie uit hul voertuie in die middel van die wildtuin te klim nie aangesien dit gevaarlik is.

Letaba-laagwaterbrug (Foto: Tonel Thom/SANParks – Kruger National Park/Facebook)

“Samewerking van ons getroue besoekers sal verseker dat lewens gered word en dat ons die vloedtoestande kan bestuur.”

Die wildtuin se bestuur is juis die afgelope week vir hul hantering van oortromings en vloede in die Krugerwildtuin geloof. Verskeie besoekers en werknemers is uit oorstroomde gebiede verwyder en verskeie kampe is steeds gesluit. Reën word nog tot Vrydag voorspel.

Die wildtuin het Woensdagoggend aangedui dat die Krokodilrivier by Malelane steeds sterk vloei teen 250 kumek (kubieke meter per sekonde), terwyl nog ʼn invloei van water verwag word. Die Krokodilbrug sal na verwagting nog meer as 24 uur gesluit wees.

Verskeie gaste is vroeër ontruim. (Foto: Liz Williams/SANParks – Kruger National Park/Facebook)

Die Sabierivier by Hazeyview vloei tans teen ʼn sterkte van meer as 120 kumek. Met die Inyaka-dam wat tans oorloop, het die Sandrivier Woensdag van 300 kumek die vorige dag na 75 afgeneem.

Daar sal na verwagting vir meer as 24 uur nog steeds geen toegang tot Onder-Sabie wees nie.

Die wildtuin sê die Olifantsrivier is in dié stabium stabiel, maar het ʼn vloei van meer as 600 kumek. Die vloei van die Letabarivier sal toeneem aangesien die Klein-Letabarivier nou in vloed is. Dit beperk toegang tot die Letaba-laagwaterbrug.

Die watervlakke van die Luvuvhu-rivier by Parfuri het toegeneem, asook watervlakke by die Limpopo- en Beitbrug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Danie ·

As dit brand,swaar reen,uiters gevaarlike wind soek skuiling en vermy die noodlot !

Burt ·

net so, en vermy onbekende nat grondpaaie met gewone 2 X 4 voertuie

Andries ·

Gee daardie man, wat die versperring verwyder het, ‘n & klap teen die oor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.