Vlugte gekanselleer oor ‘swak beplanning’

Stad Kaapstad het op 1 Oktober 2020 die eerste internasionale vlug, ʼn Emirates-vlug van Doebai, terug verwelkom by Kaapstad- internasionale lughawe. Die vliegtuig het net ná 13:00 geland (Foto: Stad Kaapstad)

Die DA sê hy word oorval deur oproepe van die bestuur van verskillende lugdiensmaatskappye wat dreig om nóg vlugte te kanselleer oor die verwarrende regulasies wat betref bemanningslede ná aanvanklike kansellasies Vrydag deur Emirates.

Die Doebai-gebaseerde Emirates het sy vlug Sondag na Durban gekanselleer en aangekondig dat hy ook ander vlugte na en van Kaapstad, Johannesburg en Durban gaan kanselleer, pas ná dit hervat het.

Chris Hunsinger, die DA se skaduminister van vervoer, het gesê sy party versoek dat die departement van vervoer onmiddellik die bemanningsvereistes hersien om ooreen te stem met dit wat internasionaal in plek gestel is. “Die Suid-Afrikaanse vereistes is nie prakties nie en is verouderd,” het Hunsinger gesê. “Internasionale vlugbemanning- en passasiersprotokol is bygewerk met streng regulasies om aan streng gesondheidsvoorwaardes te voldoen. Vlieëniers en bemanningslede bly in ʼn veilige borrel-omgewing sodat hulle veilig kan reis. Suid-Afrikaanse regulasies onderskei egter nie tussen bemanningslede en passasiers nie.”

Hunsinger sê dié verleentheid kom ná die eerste Emirates-vlug Donderdag in Kaapstad verwelkom is sedert die verlengde Covid-19-afsonderingsperiode opgehef is. Ethiopian Airlines, Lufthansa, Air France, KLM en Swiss International het ook geskeduleerde vlugte na Suid-Afrika. Die DA is besorg dat dié lugdienste bloot Suid-Afrikaanse lughawens sal vermy indien bemanningslede nie kragtens die jongste internasionale protokol hanteer word nie. “Dit is iets wat ons nie kan bekostig nie.”

Volgens hom is daar deurlopend riglyne oor die bestuur van bemanningslede wat betref die Covid-19-pandemie met nuwe inligting oor aanvaarde gesondheid- en veiligheidsprotokol vir lugvaart, soos die Junie-weergawe onder die Europese Unie se Lugvaartveiligheidsagentskap (EASA). EASA het sedert Februarie 2020 ʼn veiligheidsinligtingsbulletin ontwikkel, uitgereik en bygewerk om bedryfsvereistes te verskaf aan Europese aandeelhouers, in oorleg met amptelike kommunikasie van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Europese Sentrum vir Siektevoorkoming en -beheer (ECDC) en ander lugvaartorganisasies.

“Dit is daarom raaiselagtig waarom en hoe die departement van vervoer nie bewus is hiervan nie en dat hulle duidelik uit voeling is met dié protokol.”

Die DA sal Dinsdag die kwessie aanroer wanneer die portefeuljekomitee oor vervoer met die departement sal vergader en sal ʼn verduideliking eis vir dié “vernederende en ontstellende situasie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Strandloper ·

Die res van die Wêreld welkom in Afrika…. hier doen kaders ALLES gat oor kop.

Pieter ·

Alles maar alles wat julle ANC kommuniste aan vat verander in gemors. Maar so gaan dit as jy net graad een op skool klaar gemaak het. Julle ANC maak n be spotting van julle land.

Frederik C ·

Die hartseerste is dat our people dink hulle is briljant !!

christo ·

Die Nobelprys vir swak regering word aan die ANC toegeken!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.