VN moet nou ingryp oor ‘rasmalheid’

(Argieffoto)

Met die mandaat van 350 000 Suid-Afrikaners het ʼn senior span van Solidariteit Vrydag vertrek op ʼn uitgebreide toer na Europa. Hier sal hulle, onder leiding van dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, onder meer twee klagte teen die regering se voortgesette beleid van regstellende aksie by internasionale organisasies gaan indien.

Solidariteit hoop om met dié klag ʼn regsuitspraak te kry wat die regering uiteindelik sal verplig om wetgewing in dié verband aan te pas.

“Ons moenie die grootsheid van dié oomblik onderskat nie. Ons het ongelooflike steun van die publiek en kan wys dat ons sowat 350 000 mense verteenwoordig.”

Die 15 dae lange reis sluit besoeke aan nie net die Verenigde Nasies (VN) en die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) in nie, maar ook aan verskeie Europese parlemente.

Hermann sê die besoek behels onder meer die organisasie se indiening van twee amptelike klagtes by onderskeidelik die VN se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) en die ILO.

Suid-Afrika is  ʼn ondertekenaar van Konvensie 111 aan die ILO, wat onder meer bepaal dat regstellende aksie tydelik en remediërend van aard moet wees.

“Suid-Afrika het ʼn permanente program van regstellende aksie wat op rasdemografie gegrond is. Die rasseverteenwoordiging is egter nie noodwendig regstellend nie; daar word dus benadeel, maar geen regstelling vind plaas nie.”

Dit is dié suiwer wiskundige benadering tot ras wat Solidariteit met sy klagtes wil stuit.

Solidariteit het hom vantevore al na die VN gewend in ʼn poging om die Suid-Afrikaanse regering te dwing om aan internasionale konvensies oor regstellende aksie te voldoen – sonder dat die regering hom eindelik enigsins daaraan gesteur het.

Internasionale klagte

Dié keer klop Solidariteit aan by die CERD se regstribunaal wat uiteindelik ʼn regsuitspraak oor die kwessie sal lewer – en een wat bindend op Suid-Afrika as ondertekenaar van die VN se konvensie daaroor sal wees.

Solidariteit voer aan die regering se obsessie met ras druis in teen internasionale konvensies en riglyne oor rassediskriminasie en vra die internasionale gemeenskap gevolglik om in te gryp. Indien daar dus later wél in Solidariteit se guns beslis word, sal die Suid-Afrikaanse regering verplig word om sy wetgewing ingevolge die uitspraak aan te pas.

“Die CERD se mag lê in diplomatieke aanbevelings, druk op die regering of selfs ʼn skorsing uit die organisasie wat ʼn groot diplomatieke verleentheid kan veroorsaak,” sê Hermann.

Hy verduidelik dat ʼn klagte op twee maniere by die CERD ingedien word. Die regering, as ondertekenaar van die konvensie daaroor, moet elke drie jaar ʼn verslag oor sy beleid indien. Terselfdertyd kan burgerlike groepe egter ʼn skaduverslag indien oor wat hulle meen die stand van sake is.

Solidariteit het hierdie roete reeds gevolg en Hermann het vantevore self voor die CERD verskyn om die organisasie se saak aan die internasionale gemeenskap te stel. Dít was egter ʼn politieke proses.

In dié geval, sê Hermann, het hulle alle regsremedies op tuisbodem uitgeput en kan ʼn substantiewe klagte by die komitee ingedien word wat ʼn regsproses tot gevolg het.

“Hiermee kry jy ʼn regsuitspraak waarmee jy na ons howe kan gaan. Dit plaas ons in ʼn sterker posisie.”

Solidariteit het hom in die verlede al tot die ILO ook gewend, maar nes in die geval van die klagte by CERD, word ʼn regsproses nou gevolg.

Plaaslike remedies uitgeput

“Ons is deur al die plaaslike prosesse, politieke gesprekke, gesprekke met die ANC, die staat. Ons het aan elke, liewe proses hieroor deelgeneem en het intern die hele pad gestap.

“As die regering dit alles ignoreer, kan hy nie kla as jy internasionaal om hulp vra nie,” sê Hermann.

Die ANC het hom tydens die apartheidsbewind self tot die ILO gewend om Suid-Afrika se destydse rasbeleid te beveg. En indien die ILO in Solidariteit se guns beslis, sal dit beteken die Suid-Afrikaanse regering – nou onder leiding van die ANC – is self skuldig aan onbillike rasdiskriminasie.

“Die ANC was meesters van die gebruik van internasionale politiek. Nou pas dit hom nie meer nie,” sê Hermann.

“Dit is maklik om die raskaart te speel, maar veldtogte soos hierdie lê die regering se rassisme bloot.”

Hy sê daar kan boonop nie deurlopend teruggeval word op ongeregtighede van die verlede om nuwe gruwels te probeer regverdig nie.

“Ons moet seker maak wat nou gebeur, is reg. Ons kan nie sê die verlede regverdig nuwe vorme van diskriminasie nie. Dit is ongelooflik gevaarlik, want later kan jy enigiets begin regverdig. Dit word nie beter nie, dit word ʼn glybaan wat vernietigend kan wees – vir ons en vir die geslagte wat nog kom.”

Hermann sê die organisasie is egter nie naïef genoeg om te glo die internasionale gemeenskap gaan die land se probleme vir hom oplos nie.

“Dit is net ʼn stukkie van die legkaart van ʼn veel groter prentjie,” sê hy.

Die Solidariteit-afvaardiging besoek op sy toer ook verskeie Europese parlemente, waaronder dié van Nederland, België, Oostenryk en Hongarye. Hulle ontmoet ook LP’s of diplomate van lande soos Spanje, Duitsland en Italië en vergader met politieke partye oor die hele spektrum.

Uit hierdie ontmoetings sal verskeie mosies in verskillende Europese lande se parlemente na verwagting spruit en kwessies soos ras, plundering, sistemiese korrupsie, onteiening sonder vergoeding en minderheidsregte in Suid-Afrika sal daarmee internasionaal geopper word.

Hermann sê Europa het ʼn groot rol gespeel in die vestiging van ʼn nuwe demokrasie in Suid-Afrika, en daar is groot ontnugtering onder talle Europeërs oor wat die afgelope paar jaar hier afgespeel het.

Benewens die historiese band, is daar egter ook ʼn kommersiële element en ʼn rede waarom die ANC-regering druk uit Europa – ʼn groot handelsvennoot van Suid-Afrika – nie summier durf ignoreer nie.

Verenigings gestig

Hermann sê verskeie verenigings ter ondersteuning van die “groter saak in Suid-Afrika” sal tydens die reis in verskillende Europese lande op die been gebring word. Die doel hiermee is om kapitaal en hulpbronne te mobiliseer en dit word gesteun deur nie net Suid-Afrikaners in die buiteland nie, maar ook goedgesinde Europeërs.

Die vereniging in Nederland is reeds op die been gebring en word tydens die afvaardiging se besoek amptelik bekend gestel. In België en Duitsland is die stigting van verenigings in ʼn gevorderde stadium, terwyl een ook klaar op dreef is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Koos Kookwater ·

Sal hierdie klomp morone luister as die westerse wereld praat? Of gaan hulle weer die Rand optel as hy val?

Andre ·

Ongelukkig is die wereld van mening dat ons alles verdien wat ons kry. Sterkte aan julle maar ek het maar min hoop dat dit enige vrugte sal wek.

david ·

My vraag is wat verstaan die Internasionale gemeenskap as “Regstellende Aksie..?
Gegewe die oorsprong van die benaming in die VSA..waar dit onder Pres Lyndon Johnson ingestel is om die Swart Amerikaners as agtergeblewenes spesiale voorregte te gee om hulle toestand te verbeter…
Swart Amerikaners is ongeveer 10% van die bevolking. Dus word ‘n minderheid bevoordeel te koste van die meerderheid , maar wat die stelsel kan beheer deur hulle politieke meerderheid.

In SA word die omgekeerde toegepas. Die bevoordeeldes is die oorgrootte meerderheid n die benadeeldes ‘n klein minderheid…in SA sedert 1994 nooit meer as 8% nie

Dit is verder ook duidelik dat die werklike doel van die stelsel in SA nie daar is
om “agtergeblewenes” se posisie te verbeter nie. maar om die situasie vir die Wittes so
moeilik te maak dat hulle hul toekoms eerder in Emigrasie sien as om te bly.

Dit laat mens by die duisende wat in Wit plakkerskampe bly. Geen kans op emigrasie..
wat word van hulle..?

Jaco ·

Ek was al in wit plakkerskampe om hulp aan te bied, amper almal daar het gerook en die drankbottels het oral rondgestaan. So daars geld vir sulke onnodige goed, maar nie vir kos en klere nie. Ek het meer as eenkeer vir van hulle 2 dag se werk gegee. Ook vervoer en kos. Tog het my grinder, boormasjien en rivet gun verdwyn…. Dis nou “ons eie mense” wat so “swaarkry” onder regstellende aksie….

Sarel ·

Europa & Amerika is te bang om as ” Rasiste” gebrandmerk te word indien hulle ootree tedn die ANC & EFF.

Dries ·

Baie baie dankie Solidariteit. Julle is die rede hoekom daar nog mense enige hoop het. Dit is wonderlik om te sien daar is nog mense wat met oorgawe vir ons veg. Sterkte en volhard in julle missie

Mier14 ·

Ek stem, al instansie wat nog n greintjie hoop bied aan blanke Suid-Afrikaners. Mag ons Vader julle reis en gesprekke seën. Daar is baie van ons wat dit nie kan bekostig om oorsee te gaan nie of wie se ouderdom teen hulle tel. Ander lande het ook hul probleme. Ras begin n issue raak in baie ander lande ook. Speel die verontregte people-of-colour kaart nes dit hulle pas sonder dat dit altyd d werklike issue is. Hopelik sien meer mense daardeur en raak gatvol daarvoor.

annie ·

Toe Marco Polo van jare weer terugkeer na Italië is hy summier in die tronk gestop, ‘n kortkop van kop af. Sy vertellinge oor Sjina was ongelooflik vreemd en as stories van ‘n beserkte afgemaak. Afrikaners is die wêreld ver voor wat ervarings tov rassekonflik betref. Die pot moet eers oorkook elders voor die ervarings van ons Marco’s op oop ore sal val. Daar is niks soos eie ervarings om begrip vir iets vreemd en gevaarliks te kweek nie. Geniet die lekker reis en uitkom uit die covid-beklemming as jul ingeënt is…

melaney ·

Blankes het ook ‘n harde tyd agter die rug agv die pandemie. Ons was te bly om uit die huis te kom en buite te ontspan, gaan uiteet ens. By alle publieke instansies (insluitende restaurante) ens is daar maar min blankes wat ons bedien. Dit is hoofsaaklik “voorheen benadeeldes” wat ons daar ontmoet en dan word ons verwag om hulle te ondersteun. Gaan kyk bietjie hoeveel blanke nedersettings daar tans in SA is. Te veel om op te noem. Is dit nie tyd dat ons vir ‘n slag na ons eie mense begin omsien en ophelp. Ek probeer nie anderskleuriges vertrap nie en ook nie op hulle neerkyk nie, maar kyk ‘n bietjie rond en jy sal agterkom daar is baie verwaarloses onder ons eie mense. Terwyl Solidariteit oorsee werk, kan ons solank tuis werk en hand bysit. Dink daaroor.

Nie Verbaas ·

Dit is al wereldwyd bekend hoe BEE deel van Suid Afrika se ekonomiese ondergang is. 0f VN hulle daaraan gaan steur is n ander vraag.

H.A. ·

Net 350 000 ? Ek het gedink dit behoort ten minste n mijoen stemme te wees. Ons is omtrent 4 miljoen wittes wat aan rassehaat blootgestel is. Die wittes is nie ernstig nie, hiervan sal niks kom nie.

Frederik C ·

Die wêreld buite Afrika steur hul nie veel aan Afrika nie. Hulle weet teen nou al dat die denkwyse veel te wense oorlaat. Afrika bly Afrika en dit sal tot in ewigheid so bly.

Jack ·

Alle sterkte maar die kommuniste sal nie worrie nie. Hulle sal dit net ignoreer soos zuma maak dan is alles mos weer reg. Hierdie land is soos voorheen in n swart wit geveg betrokke.

Sarel ·

Europa…Ametika en due VN sien die ANC se beleid
as geregverdig. Infien nue gasn hulle deur ” Afrika” as
Rasisties gebrandmerk word.
Sterkte vir die span…julle gaan dit nodig kry..

john ·

Die heele wereld het mos op die swart perdjie geklim selfs die USA so ek verwag nie veel nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.