Voertuig bars deur winkelsentrum se muur

Die voertuig het deur die parkeerarea se versperringsmuur gebars en sowat ʼn verdieping ver op die sypaadjie neergestort (Foto: CERT-SA via Facebook)

Twee vroue is Dinsdag beseer toe hul voertuig deur die parkeerarea se muur by die Mall@Reds-winkelsentrum in Centurion gery het.

Volgens die Community Emergency Response Team (CERT) se Facebook-blad het die voertuig waarin ʼn ma en haar dogter gery het, ʼn meganiese probleem ontwikkel toe hulle ná hul inkopies die winkelsentrum probeer verlaat het. Hul voertuig het deur die parkeerarea se versperringsmuur gebars en sowat ʼn verdieping ver op die sypaadjie neergestort. Die voertuig het op sy dak te lande gekom.

Volgens CERT was die voertuig erg beskadig met hul aankoms op die toneel.

Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, sê met paramedici se aankoms omstreeks 18:00 was daar reeds ʼn ander nooddiens op die toneel. Die vroue was in die voertuig vasgekeer.

“Paramedici kon daarin slaag om die een vrou uit die voertuig te bevry. Sy het matige beserings opgedoen en is deur ʼn ander nooddiens na die hospitaal vervoer,” het Van Huyssteen gesê.

Volgens Van Huyssteen moes die brandweer sowel as CERT die ander vrou uit die voertuig red. “Toe hulle haar uiteindelik kon uitkry, was dit duidelik dat sy ernstige beserings opgedoen het. Sy is per helikopter na ’n hospitaal geneem vir verdere mediese sorg,” sê Van Huyssteen. CERT het bevestig dat Netcare911 se gespesialiseerde lugambulans dié vrou na ʼn traumafasiliteit geneem het.

Niemand anders is tydens die voorval beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Daai klink vir my eerder asof die bestuurder eerste rat en agteruit rat verwar het?

ElizeK ·

Nou hoe weet CERT daar was n meganiese probleem. Is die voertuig dan op die ongeluks toneel deur kundiges ondersoek. Dink nie so nie. Stem saam met jou koos10

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.