Voorgestelde gesondheidsregulasies kry dit hotagter

Die DA sê dit lyk of pres. Cyril Ramaphosa nie sy woord gestand gaan doen toe hy vroeër gesê het dat niemand gedwing gaan word om teen Covid-19 ingeënt te word nie. (Foto: Maroela Media)

Die voorgestelde nuwe gesondheidsregulasies wat die regering in werking wil stel wanneer die ramptoestand einde ten laaste opgehef word, kry toenemend die wind van voor.

Die organisasie Freedom of Religion SA (FOR SA) het die kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kulturele, godsdienstige en taalkundige gemeenskappe gevra om in te gryp by die minister se regulasies, terwyl die DA in ʼn ope brief aan die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, sy ontevredenheid te kenne gegee het.

Michele Clarke, die DA se woordvoerder oor gesondheid, sê tallose mense het weens die verskillende inperkingsvlakke tydens die pandemie hul werk verloor, is hul sakeondernemings kwyt of is weerhou daarvan om hul geliefdes te besoek.

En terwyl Suid-Afrikaners ʼn sug van verligting geslaak het oor pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die ramptoestand opgehef gaan word, is daar nou toenemend kommer oor die voorgestelde gesondheidsregulasies wat oor die bestuur van aanmeldbare mediese toestande afgekondig is.

Daar is al hoe meer vrese dat die regulasies gebruik gaan word as ʼn voortsetting van die inperkingsregulasies lank nadat die ramptoestand opgehef is.

“Die regulasies gaan Suid-Afrikaners uiteindelik dwing om verpligte mediese ondersoeke, toetse en behandeling vir bepaalde aanmeldbare mediese toestande te ondergaan, sou hulle positief toets, of net vermoedelik vir een van die siektes – ook Covid-19 – positief getoets het,” sê Clarke.

Een van die groot bronne van kommer is ʼn bepaling dat iemand wat een van die spesifieke siektes onder lede of selfs net vermoedelik onder lede het, nie behandeling of profilakse mag weier nie.

“Tans is ʼn entstof die enigste beskikbare profilakse vir Covid-19. Ingevolge die bepaling lyk dit of mense gedwing gaan word om die Covid-19-entstof te ontvang,” sê Clarke wat ook meen dit druis in teen die reg op liggaamlike integriteit soos vervat in die Handves van Menseregte en die Grondwet.

Die regulasies gaan die minister ook ongebreidelde mag gee om afsonderingstydperke en beperkings sonder die insette van kenners in te stel. Dit bepaal voorts die streng vereistes vir selfisolasie – waarvan baie nie eens naastenby ʼn opsie vir gewone Suid-Afrikaners is nie. Dit lui onder meer dat iemand wat positief vir een van die genoemde siektes toets, ʼn foon en internettoegang moet hê, asook toegang tot ʼn private gesondheidsorgpraktisyn.

Clarke sê die regulasies neem nie die miljoene mense wat in Suid-Afrika in armoede leef, in ag nie.

“Die regulasies word nie gerig deur die jongste wetenskaplike bewyse of kennersmenings in Suid-Afrika of internasionaal nie.”

Covid-19 hou ook nie meer, soos in 2020, ʼn bedreiging vir die gesondheidsorgstelsel in nie.

Clarke sê dit lyk of Ramaphosa nie sy woord gestand gaan doen toe hy vroeër gesê het dat niemand gedwing gaan word om teen Covid-19 ingeënt te word nie.

Clarke sê in die brief aan die minister Suid-Afrikaners kan nie langer ingeperk word ná twee stormagtige jare van lyding en beperkings op hul basiese menseregte nie en vra hom om die “irrasionele en onbillike regulasies” te onttrek.

Mense het tot Vrydag 15 April om op die voorgestelde regulasies kommentaar te lewer.

FOR SA sê daar was reeds groot openbare teenkanting vanuit die geloofsgemeenskap teen die voorgestelde regulasies.

Rubberkoeëls en knuppels teen gelowiges

“Duisende voorleggings het die departement van gesondheid se e-pos-adres oorweldig en die bediener het verlede week ingestort,” sê Michael Swain, hoof van FOR SA.

Die organisasie sê geloofsgemeenskappe is reeds omgekrap oor die diskriminasie waaraan hulle tydens die strenger inperkingstyd onderwerp is.

“Geloofswerkers en -organisasies word steeds nie as noodsaaklike werkers erken nie, selfs al werk hulle aan die voorpunt van die pandemie. FOR SA en ander partye het ʼn regsgeding weens onbillike diskriminasie begin toe geloofsbyeenkomste opgeskort is terwyl casino’s, fiksheidsklubs en ander plekke toegelaat is om sake te doen.

“Groot politieke byeenkomste en saamtrekke is sonder enige polisie-inmenging gehou, terwyl helikopters, rubberkoeëls en knuppels gebruik is om gebedsbyeenkomste stop te sit,” sê Swain.

Die organisasie meen daar is geen rede vir die regering om enige vorm van inperking voort te sit nie, om nie eens te praat van die onbepaalde uitbreiding van die magte soos voorgestel nie.

FOR SA verwys onder meer na sogenaamde mediese apartheid wat deur die regulasies afgedwing word weens ʼn vereiste dat ʼn inentingsertifikaat getoon moet word by groot byeenkomste. Die organisasies is nes die DA ook bekommerd oor die verpligte behandeling wat voorgeskryf kan word.

“Die regulasies plaas gelowiges en geloofsorganisasies in die onbenydenswaardige posisie om te besluit of hulle God of ʼn mens gaan gehoorsaam.”

Om dié rede beroep hulle hul nou op die kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kulturele, godsdienstige en taalkundige gemeenskappe.

Die kommissie word deur wetgewing bemagtig om tussenbeide te tree in sake soos dié en kan as fasiliteerder optree wanneer daar spanning tussen geloofsgemeenskappe en die staat is oor geloofsregte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

domheks ·

Magsbehepte kaders! Kan net is SA gebeur – kopdoek het seker die snert uitgeding!

Groen Ghoen ·

Die voorgestelde regulasies is belaglik, onwetenskaplik en absurd. Klaskamers word teen volle kapasiteit beset, so ook taxis, woonhuise en kantore. Watter wetenskaplike(s) het besluit dat bv. kerkgeboue en ander plekke waar mense byeenkom slegs teen 50% kapasiteit beset mag word? Dwing taxis om teen 50% besetting te ry en sien wat dan gebeur. Hierdie komedie moet nou ‘n einde kry!

Anel ·

Nou wonder ek van watter aanmeldbare siektes praat hulle? Ek dink wie ook al die sotheid uitgedink het moet dit maar op sy maag skryf met bordkryt. Hoeveel mense wil hulle nog uit hulle werk dwing? Hierdie is erger as komunisme!!! Waar is die grondwet wat ons teen sulke vergrype moet beskerm? Dit is nou as iemand wat niks was ‘n klein bietjie mag kry, dan weet hy nie wat om daarmee te maak nie en dan sit ‘n land met sulke sotheid. Wonder waarvoor is hulle bang? Waar gaan hulle tronke kry vir almal? Want ek gaan my defnitief nie deur hulle laat intimideer nie.

Sarie ·

Uit die werk dwing is niks in vergelyking met wat beplan word nie. NZ en paar ander lande het reeds kampies vir die wat waag om siekerig te lyk in die openbaar.

DJ ·

Die ANC regering het aan Mag gekom wat hulle nie maklik gaan laat los nie.

Sarie ·

Hulle kan ook nie krediet kry vir alles wat verkeerd loop nie. Hulle oefen net instruksies uit. I wonder WHO’se

Porseleintjie ·

Daar is n groter Mag wat nie sluimer of slaap nie. Wie se oor nie te swaar is om te hoor nie, Wie se arm nie te kort is om te help nie.

Sarie ·

En die kerke bied met vreugde hulle gronde aan vir inentings. WOW

Porseleintjie ·

En dis nou God se skuld? Die spesifieke kerk se lede het tog n keuse om n meeloper daarvan te wees of om dit tee te staan.

Miskruier ·

Dié gebeur wereldwyd, en ek glo nie dit gaan oor ons gesondheid nie. Vry om te kies wat ek aan my liggaam doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.