Voorgestelde parkeergarage laat Stellenbossers rooi sien  

Die huidige parkeerarea in die sakekern van Stellenbosch. (Foto: Danie Keet)

Inwoners van Stellenbosch het hewig gereageer op nuus oor ʼn beplande parkeergarage wat die munisipaliteit in die sentrale sakegebied agter die stadsaal wil bou. ʼn Gebou van drie verdiepings met parkeerplek vir soveel as 600 motors word na bewering in die vooruitsig gestel.

Geen volledige verkeersimpakstudie is na bewering nog gedoen nie, maar ʼn kosteberaming deur die voornemende ontwikkelaars is wel afgehandel.

Meer as 2 000 mense het reeds ʼn petisie teen die beoogde parkeergarage geteken en teenkanting groei glo daagliks uit verskillende oorde. Inwoners is skynbaar bekommerd dat dié ontwikkeling net meer voertuie na die stad se sakegebied gaan lok, wat die bestaande verkeersopeenhopings op die dorp sal vererger.

“Dit sal ons pogings om stedelike mobiliteit in die dorp te verbeter net nog verder aan bande lê en die probleem van verkeersopeenhopings aansienlik vererger,”  het Dawid Botha, ʼn direkteur van Stellenbosch Fietsry, gesê.

Stellenbosch Fietsry is een van talle organisasies, insluitend Young Urbanists, Erfenis Wes-Kaap en Stellenbosch Erfenisstigting, wat teen die beplande ontwikkeling gekant is.

Die munisipaliteit het Julie verlede jaar aangekondig hulle kyk na ʼn voorstel om ʼn nuwe parkeerarea in die middedorp te bou. Die munisipaliteit het toe SMEC  SA, ʼn siviele ingenieursmaatskappy, aangestel om te bepaal wat die vraag na parkeerplek in Stellenbosch is.

Volgens Roland Postma, interim koördineerder van Young Urbanists, wil dié organisasie verseker dat enige ontwikkeling, veral wat vervoer betref, volgens die regte riglyne geskied en dat besluite gegrond is op ware feite, eerder as veronderstellings.

Hier word die nuwe parkeergarage beplan. (Foto: Google Earh)

“In hierdie geval is daar teenstrydigheid ten opsigte van bestaande munisipale beleid, insluitend die ruimtelike ontwikkelingsraamwerk van 2019, die omvattende geïntegreerde ontwikkelingsvervoerplan van 2022 tot 2026 en die nie-gemotoriseerde vervoermeesterplan van 2020, wat volhoubare stedelike mobiliteit en verminderde motor-afhanklikheid prioritiseer.”

Belangegroepe meen ook lewensvatbaarheidstudies wat gedoen is, is onvoldoende en dat die voorstel vir die ontwikkeling gemaak is op grond van eenvoudige “lessenaar-navorsing”, wat te kort skiet aan ʼn multidissiplinêre ontleding en gedetailleerde vervoerimpak-analise, veral met die oog op die verligting van verkeersopeenhopings.

Die beswaarmakers eis gevolglik dat die openbare deelnameproses onmiddellik gestaak moet word. Hulle vra ook dat die projek herevalueer moet word en alternatiewe oplossings gevind word wat in pas is met Stellenbosch se beleidsraamwerke en globale beste praktyke vir stedelike ontwikkeling en bestuur van verkeersopeenhopings.

Botha meen parkeer-en-rygeriewe langs kleiner roetes, soos vervat in die Stellenbosse ruimtelike ontwikkelingsraamwerk (ROR) van 2019, moet eerder geprioritiseer word. “Dit beklemtoon die strategiese toewyding om die gebruik van privaatvoertuie in die hartjie van Stellenbosch te beperk en te verminder.”

Botha meen ook so ʼn groot parkeergerief in Stellenbosch se sentrale sakegebied sal die strategiese doelwitte wat in die Stellenbosse nie-gemotoriseerde vervoermeesterplan vervat is, direk weerspreek.

“Die meesterplan beklemtoon juis die munisipaliteit se toewyding daaraan om omgewings te skep wat veilig is vir voetgangers en fietsryers en wat sal bydra tot die ekonomiese lewenskragtigheid en maatskaplike gesondheid van al die gemeenskappe van Stellenbosch.

“ʼn Groot parkeergarage sal die afhanklikheid van gemotoriseerde vervoer verhoog en ook onveilige padkruisings, wat voorrang aan privaatvoertuie gee, skep, en die obstruksie van sypaadjies tot gevolg hê.”

Volgens Stuart Grobbelaar, woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, vorm hierdie projek deel van die breër konteks van die bevordering van mobiliteit en die verligting van verkeersopeenhopings in die dorp se sentrale sakekern.

Hy het ontken dat munisipale beleide oortree word. “Die voorgestelde projek is in pas met die dorp se goedgekeurde, omvattende en geïntegreerde vervoerplan en verrvoermeesterplan.

“Die sakekern ervaar ‘n ernstige tekort aan parkering wat daaglikse klagtes van die publiek tot gevolg het. Oor die afgelope dekade was daar gereeld versoeke vir meer parkering vanaf inwonwers, besoekers en studente.“

Hy sê inwoners is op 13 Februarie genooi na ’n ope vergadering om met die projekspan te gesels en ‘n maandlange openbare deelnameproses is vanaf 25 Januarie gehou, om te verseker dat die proses oop en deursigtige is.

Hy erken wel dat ommige strate ‘n toename in verkeersvolumes kan ervaar, omdat dit voorkeurroetes na die garage sal wees. “Gedetaileerde ondersoeke is tans aan die gang om die presiese impak van die verkeer te bepaal en om dan versagtende maatreëls in te stel. Studies het reeds aangedui dat voertuie baie rondry op soek na parkeerplek in die sentrale gebied. Die parkeergerief sal hierdie ondoeltreffendheid uitskakel en parkering in die strate in hierdie gebied verminder.“

Nietemin het verskeie inwoners hul tot sosiale media gewend om teenkanting teen die beoogde ontwikkeling te kenne gegee. Elsabe Retief, ʼn jarelange inwoner van Stellenbosch, het op Facebook gesê: “Ons moet saamstaan teen die stedelike binnedringing van studente-ontwikkelings in ou gevestigde woonbuurte, waar geen voorsiening kan of wil gemaak word vir parkering of parkeervloei nie.

“Dieselfde geld vir die reuseparkeergarage in die middel van die dorp, ʼn projek wat nie vooraf bekend gemaak is aan, of bespreek is met die middedorp se wykskomitee en sy raadslid nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.