Voormalige projekbestuurder, vyf familielede in hof vir tenderbedrog

(Argieffoto)

ʼn Voormalige senior amptenaar van die Noord-Kaapse departement van gesondheid en vyf van sy familielede is aangekeer vir hul beweerde betrokkenheid by tenderbedrog.

Godfrey Moncho, Valentia Motlhanke, Maclean Motlhanke, Tshepo Timothy Motlhanke, Millicent Motlhanke en Nthabiseng Sekute – asook die maatskappye waarby hulle betrokke is – staan tereg op 22 aanklagte van bedrog wat verband hou met opknappingswerk wat by drie staatshospitale gedoen moes word.

Sipho Ngwema, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die Valke het die ses Dinsdagoggend in hegtenis geneem.

Volgens die NVG hou die ondersoek verband met kontrakte wat beskikbaar gestel is vir opknappingswerk aan die West End- gespesialiseerde hospitaal, asook die Kuruman- en Kimberley-hospitaal.

Die bedrae ter sprake was minder as R500 000 en die departement het dit dus nie op tender beskikbaar gestel nie. Diensverskaffers is genooi om geskrewe kwotasies in te dien, maar die verkrygingsproses is in die kiesproses omseil.

Moncho het nie in die verkrygingsbestuurseenheid gewerk nie, maar in sake wat met die kontrakte verband gehou het, het hy kwotasies van diensverskaffers gevra.

Valentia is ʼn direkteur van Afrollah Trading, Tshepo is ʼn direkteur van Lojane Trading en Millicent is ʼn direkteur van Mangacol.

Sekute is die direkteur van Joyce Solutions en is getroud met Maclean Motlhanke. Dié is weer die direkteur van K Son Moss en Gamboby Trading.

Al die sake-entiteite, asook een genaamd Thari ya Sechaba Business Enterprise, het kontrakte met ʼn gesamentlike waarde van R10 miljoen by die departement gekry.

Die NVG sê die kwotasies is só opgestel om mededinging uit te skakel en die direkteure van die maatskappye het boonop nie verklaar dat hulle almal familie is én daarby aan Moncho verwant is nie.

“By sommige van die hospitale het hulle nie al die dienste gelewer soos wat ooreengekom is nie. Tog het hulle eise ingedien en is hulle vir die volle bedrag van die kontrak vergoed,” het Ngwema gesê.

In een geval het die kontrakteur onder meer aangevoer hy het vloerbedekking van 650 m² by die Kuruman-hospitaal geïnstalleer, maar dit is nooit gedoen nie.

Die beskuldigdes is vrygelaat op borgtog van R10 000 elk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Persheks Adri ·

R10 miljoen se bedrog en hulle kry R10 000 borg elk? Wat gaan aan met die regstelsel? Hel ons waardeer die klein vissies, maar soek die groot visse Valke ons wag dat julle by die parlement in stap en daar begin toe sluit! Anti kopdoek en haar kinders asb dan die res van die narre

Eltan ·

Indien dit sou gebeur..glo ek nie dat dit in ons leeftyd sal gebeur nie…maar mens kan seker aan hoop vashou..sal n wonderlike dag wees..

Persheks Adri ·

Ek hoop dit gebeur regtig gou Eltan! Ons moet hulle uit kry en gou ook. Hulle neuk net alles op genade

Derek ·

Ek hoop hulle ondersoek Sol Plaatjie munisipaliteit ook waar groot geld betaal is vir die verkryging van pad onderhouds tender en die werk is ook net gedeeltelik gedoen en die res absoluut van substandaard gehalte. Dit is n skande hoedat die belasting betalers uitgebuit word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.