Voormalige staatsaanklaer gevonnis vir korrupsie

(Foto: Shutterstock)

ʼn Voormalige staatsaanklaer van die Seshego-distrikshof in Limpopo is Vrydag tot vyf jaar direkte tronkstraf vir korrupsie gevonnis.

Volgens Matimba Maluleke, woordvoerder vir die Valke, het Guesta Rhulani Maboela (49) gedurende Mei 2019 in haar hoedanigheid as ʼn staatsaanklaer R1 500 by ʼn persoon geëis wat vir dronkbestuur in hegtenis geneem is. In ruil daarvoor sou sy glo die klagtes teen hom terugtrek.

Die man het die saak by die Valke aangemeld en ʼn geheime operasie is van stapel gestuur.

Maboela is by haar werksplek in hegtenis geneem kort nadat sy die omkoopgeld aanvaar het. Namate die ondersoek ontvou het, is daar ontdek dat die saak van dronkbestuur teen die klaer wel teruggetrek is.

Maluleke het nie aangedui of daar toe verder iets van dié saak gekom het nie.

Maboela is op 8 November verlede jaar deur die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Polokwane skuldig bevind. Sy was tot en met haar vonnisoplegging op borgtog vrygelaat.

Die provinsiale hoof van die Valke, genl.maj. Gopz Govender, het die ondersoek- sowel as die vervolgingspanne vir hul puik werk geloof.

“Ons is vasbeslote om die plaag van korrupsie sonder vrees of guns te beveg,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.