Voormalige Transnet-hoë mag nie in Dubai gaan werk nie

Anoj Singh. (Foto: ANA)

Die Palm Ridge- gespesialiseerde handelsmisdaadhof het Anoj Singh, voormalige finansiële groepshoof by Transnet, se versoek om sy borgtogvoorwaardes te verslap, van die hand gewys.

Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Singh het aansoek gedoen om in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate te gaan werk.

Waarnemende landdros Emmanuel Magampa het die aansoek van die hand gewys. “Alhoewel daar nie enige bewyse om sy bewering te staaf dat hy nie enige werk in Suid-Afrika kan kry nie, moet mens toegee dat dit moeilik sal wees om ʼn amp te kry as ʼn uitvoerende hoof of finansiële hoof of om enige ander senior posisie te beklee (soos dié wat hy by Eskom en Transnet beklee het), gegewe dat hy van sy status as geoktrooieerde rekenmeester gestroop is. Ek vind dit egter moeilik om te glo dat hy nie enige ander pos kan kry nie,” het Magampa gesê.

Singh het verlede week aansoek gedoen om in Dubai te gaan werk vir ʼn maatskappy genaamd Buy4Rich. Hy voer aan dat hy nie behoorlike werk in Suid-Afrika kan kry nie weens die aanklagte van bedrog en korrupsie waarop hy tereg staan in die Transnet-saak.

Singh en sy 14 medebeskuldigdes se saak is intussen na die Johannesburgse hooggeregshof oorgeplaas en hulle moet op 25 Maart 2024 weer in die hof verskyn. Die aanklagte strek van bedrog, korrupsie en geldwassery tot oortreding van die Wet op die Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) wat verband hou met die tender vir die aanskaffing van lokomotiewe tussen 2012 en 2015 by Transnet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bolandse Nooi ·

Dis reg, want as hy SA se stoffies van sy voete skud om in Dubai te gaan werk, is hy …. KAPOOOFFFFF!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! weg, en niemand sal hom weer in die hande kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.